’n Laventeldrankie vir my, asseblief

As ’n mens báie fyn kyk, wag daar ’n wonderwêreld van klein goggatjies op jou, sê Louise Henderson van Kempton Park.

“In ons tuin staan ’n laventelbos wat ’n klomp insekte lok. ’n Mens sien dit veral as jy van naby kyk. Dié skoenlapper het stil op die bos gesit en ek kon baie naby hom kom met die selfoon. Ek het fotosagteware op my foon gebruik om die rande donkerder te maak.”

As ’n mens vinnig kyk, lyk dit of die foto in ’n ateljee geneem is. Die beligting is uitstekend en dit lyk of Louise ’n professionele kamera gebruik het.

Die fokus is op die skoenlapper, en danksy die vlak fokusdiepte is die agtergrond uit fokus, wat sorg vir ’n driedimensionele gevoel. Selfs die skoenlapper se spriete, wat andersins teen die besige agtergrond sou wegraak, staan duidelik uit.

Die komposisie is taamlik ingewikkeld: Die blom links vorm die anker van die foto, en die skoenlapper “hang” daaraan.

Deur dele van die vlerke af te sny versterk Louise die geboë vorms daarvan verder. Ook in die patrone op die vlerke word die rondings herhaal. Uiteraard is die insek se kop die fokuspunt, en dit is waar Louise die fotosagteware slim gebruik.

Deur die rand donkerder te maak – dit word vignette genoem – dwing dit jou oog na die middel van die foto toe, dus na die ligter dele. Daarmee saam is die skoenlapper se kop die helderste deel op die foto, wat dit ’n dubbele aksent gee. Slim!

Canon EOS 1100D

Taxi met leersitplekke

Die 16-jarige Lisa de Swardt van Centurion hou van portretfoto’s en natuurtonele, maar wanneer sy die kans kry om diere af te neem doen sy dit graag.

“Ons was in September verlede jaar in die Krugerwildtuin en ek het heelwat foto’s van wilde diere gekry. Dié foto van die renostervoël op die rooibok het ek naby Skukuza geneem, sommer uit die kar. Ek het my kamera omtrent al drie jaar en gebruik ook ’n 75-300 mm-lens.” 

Die renostervoël is baie duidelik die fokuspunt, maar die agtergrond speel ook ’n belangrike rol, sonder dat jy dit agterkom: Jy kyk nog skaars na die voël of jou oog dwaal dadelik verder om beter te verstaan wat in die foto vasgevang is.

Lisa het die raam om die voël slim getrek, want hierdie negatiewe ruimte bevat geen detail wat jou aandag van die fokuspunt aflei nie.

Inteendeel, dis eerder abstrak, maar jy sien net-net genoeg detail om agter te kom die voël sit op ’n rooibok.Die voorste bok is mooi in fokus, maar die agterste een nie – en boonop staan hy dwars. Die agterste bok is ook donkerder, en al hierdie elemente saam verleen diepte in die foto.

Al is die foto staties, “voel” ’n mens tog hoe die voël klou waar hy sit. Jy kan sien hoe sy een poot sy greep op die dier se pels kry... dít terwyl sy rooi oog na jou loer.

Canon EOS 200D

Iewers tussen wolk en water

Wanneer ’n mens die son in die oggend inwag, is daar altyd kans vir ’n  besonderse foto, bewys Charl Jackson van Simonstad.

“Ek het hierdie foto van die bekende Boyes-rylaan af geneem waar ’n mens oor Muizenberg se strand uitkyk. Maar dié oggend was ek nie die enigste fotograaf met dieselfde idee nie: Toe ek opdaag, was daar klaar ’n paar mense wat met hulle kameras regstaan.”

Die hoek waarteen jy jou foto neem, kan die verskil wees tussen ’n alledaagse of ’n besonderse foto. As jy na Charl se foto kyk, voel dit omtrent of jy in ’n vliegtuig sit, en skielik word jy bewus van patrone wat jy nie elke dag sien nie.

Boonop sorg die weerkaatsing van die son vir die aksent op die golwe. Die son, die horison én die weerkaatsing is almal omtrent rondom die middellyne, wat maklik ’n eentonige foto tot gevolg kan hê.

Maar reëls is daar om verbreek te word: As jy ’n dinamiese element by daardie eentonigheid voeg, het dit presies die teenoorgestelde uitwerking.

Hier het ons twee sulke elemente: Eerstens kan jy voor jou geestesoog sien hoe die golwe steeds aanrol land toe – dit verleen ’n energie aan die foto sodat jy langer staan en die detail geniet – en tweedens bestaan die foto hoofsaaklik uit skakerings van warm kleure.

Die blou lug bo sorg dan vir die stille kleurkontras wat die foto netjies balanseer... terwyl die branders net rustig aanhou rol

Stuur jou foto vir ons...
... en ons plaas dit dalk hier. Ons soek nie die tradisionele “kompetisiewenners” nie; net doodgewone foto’s wat vir jou mooi is. Van ’n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat in die swembad plas. Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, dit maak nie saak nie. Stuur jou foto’s na leon.botha@media24.com.