Deel

Raam jou foto’s die natuurlike manier

akkreditasie
Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Foto: Galloimages/Gettyimages.com
’n Mooi foto lyk mos altyd beter in ’n mooi raam. Kyk hier hoe om die toneel of onderwerp wat jy afneem sommer in die veld al te raam.

Om ’n natuurlike raam vir jou foto-onderwerp raak te sien, is nie altyd maklik nie. Dis selde dat ’n mens ’n perfekte “raam” in die natuur kry. Die uitdaging om só ’n raam raak te sien, is om wyer as die toneel of onderwerp wat jy afneem, te kyk.

 Raam jou foto's op die natuurlike manier
Raam jou foto's op die natuurlike manier.

Neem die roofarend wat ek in Imfolozi afgeneem het as ’n voorbeeld: Die meeste mense is geneig om net op die voël of dier wat hulle afneem, te fokus en nie aan die omgewing óm dit te dink nie.

Daarom zoem hulle gewoonlik baie in om ’n naby-portret af te neem.

Maar kyk wat kan gebeur as jy ’n bietjie uitzoem en die boomtakke insluit. Skielik is daar ’n treffende natuurlike raam om die arend wat die foto baie meer indrukwekkend laat lyk.

Die hoek waaruit jy die foto neem, speel natuurlik ’n groot rol en soms word die geleentheid eers sigbaar nadat jy ’n paar keer vorentoe of agtertoe beweeg het.

Vinger op die knoppie

Partykeer verskyn ’n natuurlike raam net vir ’n sekonde of twee, soos wanneer ’n olifantkalfie vir ’n oomblik onder sy ma se bene inloop.

Jy sal so iets net vasvang as jy baie bewus is van wat om jou gebeur en die geleentheid kan voorspel.

Die beste wildfotograwe is altyd ’n stappie voor die res en is reg met hulle vingers op die knoppie as hulle sulke geleenthede verwag.