Ek het per ongeluk al die foto’s op my geheuekaart uitgewis. Hoe nou? Haal diep asem. Dink mooi wat presies gebeur het. Foto’s verdwyn op een van twee maniere: Jy vee hulle een vir een uit of ’n klompie op ’n slag, of jy formateer jou kaart. Wat het jy gedoen?
• Die foto’s is nog op die kaart. Jy kan hulle nie meer sien nie, maar hulle is nog daar.
• Die meeste geheuekaartvervaardigers (soos SanDisk) het gratis sagteware wat jy van die internet kan aflaai en jou foto’s kan red.
• Google die vervaardiger om uit te vind watter sagteware jy nodig het. Maak ’n koppie koffie en kyk die 7de Laan-omnibus terwyl jy wag – dis ’n lang proses.
• As ’n algemene terugwinpoging nie werk nie, moet jy “dieper” delf. Vir dié sagteware gaan jy waarskynlik moet betaal.
• Skrikkerig om dit self te doen? Daar is kamerawinkels soos Orms in Kaapstad (*orms.co.za), wat dit vir jou doen. Dit kos sowat R50, afhangende van die kaartgrootte. Hulle besorg die foto’s op ’n CD terug.