Die gewildste kamera is nie – soos jy seker gedink het – ’n Canon of Nikon nie, maar ’n slimfoon. Jou slimfoon is waarskynlik die meeste van die tyd binne jou bereik – só neem jy beter foto’s daarmee.



1. Raak gewoond aan outomatiese verstellings


Die meeste selfoonkameras het net een verstelling – “Auto”. Jy tel eenvoudig jou foon op, en mik en druk. Jy kan nie onderbelig omdat die lug te helder is nie of die wit balans stel wanneer dit bewolk is nie. Maar op ’n manier is dit bevrydend, want pleks daarvan om te wonder oor die sluiterspoed en lensopening, kan jy net op die oomblik konsentreer en hoe om dit vas te vang.

Maar moenie vergeet van die basiese beginsels soos lig en komposisie nie. Jy moet onthou dat jy steeds ’n foto neem en dieselfde reëls geld as wanneer jy met ’n D-SLR foto’s neem.


2. Stel die fokus en beligting


Die meeste nuwe slimfone met raakskerms het ’n funksie waarmee jy op ’n spesifieke plek kan fokus en die beligting vir daai plek kan bepaal deur net op die skerm te tik.

As jy byvoorbeeld vir Gogga op die Seepuntpromenade in die middel van die dag afneem, tik op haar gesig op die skerm sodat die regte beligtingsverstelling haar mooi glimlag op die foto sal wys. As jy dit nie self doen nie, kan jou foon dalk vir die skerp lig of helder water belig en haar gesig sal donker en onderbelig wees.


3. Moenie zoem nie


Wanneer jy die skerm “knyp”, zoem jy in of uit, maar nie op die gewone manier nie. Die lens vergroot nie die toneel nie – dit sny die raam, maar jy boet fotogehalte in. Digitale zoem is goed wanneer jy net iets wil dokumenteer wat ver weg is, maar die foto’s se gehalte is power. Indien jy nader aan dit wil kom wat jy wil afneem, neem ’n paar treë vorentoe en los die zoemfunksie uit.


4. Hou die flits vir laaste


Die meeste slimfone se flitse is nie baie sterk nie. As jy gelukkig is, sal jou slimfoon se flits enigiets binne ’n meter van die lens belig. Boonop het die meeste flitse ’n aaklige wit lig wat die mense laat lyk asof hulle denguekoors het. Indien moontlik, sit jou slimfoon se flits af.


5. Moenie te ernstig raak nie


’n Mens moet selfoonfotografie geniet. Die vryskutfotograaf Magriet Theron stel dit só: “Dis nes Polaroid-fotografie, maar met woema. Dis kitsklaar, dis bevredigend en dit lyk goed. En wanneer dit kom by beligting, is klein foto’s wat van agter af belig word, nie so sleg nie. Én jy kan jou foto’s met almal deel deur net een knoppie te druk.”

Mik, druk, deel, en moenie te veel daaroor dink nie!


6. Stoor jou foto’s!


Baie mense vergeet om hulle foto’s af te laai omdat dit op ’n foon is en nie op ’n kamera met ’n geheuekaart nie. Maar wat doen jy as jy jou selfoon in die Vaalrivier laat val? Totsiens 1 362 foto’s en jou herinneringe aan die ganse jaar.

Of jy nou jou foto’s bêre op iets soos Dropbox of iCloud en of jy jou selfoon aan ’n rekenaar koppel en jou foto’s elke nou en dan aflaai, moenie vergeet om ekstra kopieë te stoor nie.