Bloue waters

Sy woon op George en wanneer die geleentheid vir ’n mooi foto hom voordoen, wag Madelein Marais vir die regte oomblik vóór sy die knoppie druk.

Ek het dié foto by die Georgedam geneem. Ek en my man, Willem, het die dag langs die dam gaan stap toe ek mense op die water sien roei. Ek het besef dit kan ’n mooi foto maak en stelling agter ’n boomtak voor my ingeneem. Soos hulle verbygekom het, het ek die foto geneem.”

In die foto gebruik Madelein – waarskynlik onwetend – ’n paar komposisiereëls wat ’n mens eerder wil vermy. Maar, sy omseil dié voorkeure op so ’n manier dat sy dit eerder omswaai in stewige algehele komposisie.

Die fokuspunt reg in die middel van die foto is gewoonlik nie die beste idee nie, nog minder die volgstroom wat die water versteur – wat ook op die middellyn lê. Die foto het ’n hele paar ander sterk komposisie-elemente wat die aandag subtiel wegtrek van die middelpunt, en dan die geheel balanseer.

Die bos – voor regs in die foto – beslaan bykans ’n derde van die foto se oppervlak, maar agter die besige takkies kan jy steeds sien hoe die kajak uitgeroei kom. Al het dié takkies heelwat detail, sien ’n mens maklik daardeur as gevolg van die skoon en helder weerkaatsing op die water.

Die plantegroei aan die oorkant van die dam vorm ’n stewige detailstrook op ’n derdelyn, en die berge in die agtergrond gee die foto sy uiteindelike diepte. Die stille wenners is die takkies in die ander drie hoeke. Dit geld tot ’n mindere mate vir die een links voor, waar die een links bo die goeie komposisie afrond. Dis asof dié takkie soos ’n vinger jou oog weer terug na die middelpunt wys. 

Panbraai

As dit moet, gaan lê hy selfs op sy maag om ’n foto te neem, sê Bert Kruyswijk van Rustenburg.

Tydens ’n besoek aan Botswana het ons een laatmiddag besluit om ’n skottelskaarbraai op Kubu-eiland te hou. Ons het net die nodigste by ons kampplek gegryp en pan toe gery. Daar gekom, besef ons ons het die vuurhoutjies by die kampplek vergeet. Maar daar was veel meer aan die dag as net dit. Op ’n kol het ek weg van die groep beweeg en op my maag gaan lê om die foto te neem. Daarop kan ’n mens sien hoe die kinders met hul draadkar speel. Dis my dogter, Lizelle, en haar man, Pratish Keshav, se kinders: Dhyan, Arun en Jaiden. My vrou, Erika, was ook saam. Die foto kom net so van my foon af en ek het dit nie ná die tyd verander nie.”

Dis ’n aangrypende foto en het drie sterk elemente wat saamwerk: Die oordonderende swart, die sterk oranje streep en natuurlik die silhoeëtvorms van die mense, bakkie en kampstoele. Saam met Bert se verduideliking kan ’n mens jou maklik in die situasie indink, en dis vir salige tye soos dié dat ’n mens sommer uitsien na jou volgende vakansie.

Ongelukkig sal die meer kieskeuriges onder ons waarskynlik die foto van ons foon afvee omdat dit nie te skerp is nie. Maar dié blote feit laat ’n mens eintlik langer na die foto kyk terwyl jy al die interaksie tussen die figure probeer verstaan.

Die foto het dus só meer van ’n abstrakte waarde wat dit eerder na ’n kunswerk laat lyk. Dit laat ’n mens dink aan die bekende Britse fotograaf Julia Margaret Cameron wat gekritiseer was oor haar foto’s se “sagte fokus”. Maar dit was eerder nader aan ’n tegniek terwyl sy beskryf is as een van die merkwaardigste portretfotograwe uit die negentiende eeu.

Huiswaarts

Sy is nêrens vinnig heen op pad nie, sê Amanda van Blerk van Bethlehem, want netnou wag ’n mooi foto om die draai.

Om laatmiddag uit Clarens in die Vrystaat te ry sonder om haastig te wees lewer gewoonlik goeie fotogeleenthede. Ek het aanvanklik ’n spannetjie kinders op ’n tuisgemaakte sokkerveld probeer afneem, maar het naderhand teruggestap motor toe. Dis toe dat ek werkers van oraloor sien terugkeer na hul huise vir die nag. Die lig was mooi genoeg; dit was ook die regte plek en tyd. Die foto is die verpersoonliking van die Vrystaatse platteland.”

Mensfigure in ’n foto trek dadelik jou aandag, en hier gebruik Amanda dit op meer as een vlak. Uiteraard is die twee mense regs die fokuspunt en ’n mens kan sien hulle is besig om te gesels soos hulle stap. Sodra jy dit sien, let ’n mens die volgende figuur digby hulle in die agtergrond op, en dan spring jou oog na die persoon heel links voor. Dis op dié punt dat jy so ’n bietjie wegstaan en die toneel beter verstaan soos jy die res van die figure in die agtergrond sien.

Die lig tel inderdaad by tot die atmosfeer en omdat die son van agter skyn, beklemtoon dit die rook wat in die agtergrond hang. Dit verlig ook die een kant van die mense wat lyk asof jy ’n helder streep al teen die figure se sy aftrek. Wanneer dit werk, werk dit goed, maar dan moet ’n mens net versigtig wees vir ’n kaatsvlek (lens flare) sou die son direk op jou lens skyn.

Stamboom

By ’n watergat hou JM Wolfaard van Midstream in Centurion sy lens nie net gereed vir die grootwild nie, maar ook vir voëls.

“Ek het die foto tydens ons besoek aan die Kgalagadi-oorgrenspark geneem. Dit was een koue oggend so ’n rukkie ná die sonopkoms. Al die mossies het vir ’n kolletjie son op die boomstomp langs die Kwang-watergat geskarrel.”

Die mossies sit ingeryg asof hulle deel van ’n sosatiestokkie is en ’n mens kan jou sommer die gekwetter onder hulle voorstel soos elkeen vir ’n plekkie probeer klou.

Die selektiewe fokus werk goed, want net die voëls is in fokus en die agtergrond vorm al die negatiewe ruimte in die foto. Dis omdat JM ’n groot lensopening (f6,3) gebruik het. Sou die agtergrond meer detail bevat (as jy byvoorbeeld die lensopening opstoot na f22 se kant toe), sal dit die fokuspunt versteur en afbreuk doen aan die foto.

Komposisie speel weer eens ’n deurslaggewende rol. Al staan die stomp onder op die middellyn, loop dit op tot waar dit oorleun na regs. Saam met die donker gedeeltes hier in die agtergrond balanseer dit netjies met die ligte kant (die linkerkant van foto) wat dit ’n aangename foto maak

STUUR JOU FOTO VIR ONS

Ons plaas dit dalk hier. Ons soek nie die tradisionele “kompetisiewenners” nie; net doodgewone foto’s wat vir jou mooi is. Van ’n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat in die swembad plas. Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, dit maak nie saak nie.

MADELEIN MARAIS wen ’n Weg Ry & Sleep-kamerasak ter waarde van R520 met haar foto – veels geluk!

Stuur jou foto’s na leon.botha@media24.com