In die gloed van die aandskemering

Hy laat selde die kans verbygaan om ’n mooi sonsondergang met sy kamera vas te vang, selfs al staan Theo Kriel van Orania langs die viswaters.

“Ons woon so te sê teenaan die Oranjerivier en het onlangs ’n hengelplek bygekry. Ons noem die plek Sandbaai, en ek en my buurman Daan Meyer is saam soontoe. Daan wou ’n bietjie hengel, maar ek het terselfdertyd gesien hoe die son sak en ek kon nie anders nie as om die mooi toneel voor my af te neem.”

Elkeen van ons het êrens op ’n foon of familiealbum ’n foto van ’n sonsopkoms- of ondergang, daardie tyd van die dag – gewoonlik net ’n paar minute lank – waarin skakerings van geel, oranje en rooi tussen die blou hemel en die horison ontstaan. Wanneer die omstandighede saamspeel, kan jy keer op keer wegstap met ’n wenfoto.

Die fokuspunt op Theo se foto is die helderoranje strook, maar dit word ook omring deur oop blou dele – wat die weerkaatsing op die water insluit.

Die skadu’s van die bome oorkant die water is amper swart en ’n mens voel hoe die nag nader staan. Jy voel ook die kalmte, want die water is so te sê spieëlglad, wat daarop dui dat die wind gaan lê het.

Op die oog af lyk die komposisie eenvoudig, maar dit is allermins die geval. Die fokuspunt – en die horison – lê op die derdelyn, en die negatiewe ruimte (al die blou) balanseer gemaklik met die swart.

Maar dan sien ’n mens die hoek links onder. Dis asof die groen gras die hoek van die foto afsny, iets wat wel steurend kan wees. Maar dit loop byna teen dieselfde hoek as die bome aan die oorkant en vorm uiteindelik ’n mooi balans. Die visstok heel links pla ’n mens tog effens, maar dit is gering as jy die geheelbeeld in ag neem. 


Swaar voertuie, hou regs...

Wanneer ’n mens die Krugerwildtuin besoek, moet jy jou plek ken. Daarvan kan Roelof Schoeman van Middelburg in Mpumalanga getuig.

“Ek het hierdie ou grote in die Krugerwildtuin afgeneem. Hy het doodluiters die pad afgestap terwyl ons vir ’n kilometer saam met hom gery het. Niks kon hom pla nie en hy het naderhand die bosse ingeloop.”

’n Mens identifiseer maklik met die foto, want dis ’n algemene gesig in die Kruger. Die olifant is natuurlik die fokuspunt, maar omdat ’n mens so bekend is met die dier, beweeg jou oog vinnig weg van die olifant af na die ander detail.

Die pad is prominent en ’n mens volg dus spontaan die grondpad asof jy daar is, maar dit loop vinnig dood op die horison. Dis dan dat jy na die bosse in die omliggende veld kyk, hoewel niks spesifieks ’n mens se aandag hier gryp nie. Daarom begin jy die foto van nader bekyk, spesifiek die olifant se lyf.

Jy kan al sy plooie sien, en omdat die foto swart-en-wit is, word die tekstuur van die vel verder beklemtoon.

Die plasing van die olifant regs op die foto is dus strategies om jou aandag te trek, en die res van die foto gee ’n mens ’n vinnige indruk van die omgewing waar die foto geneem is. Die eintlike waarde van die foto lê in die fyn detail op die olifant se lyf.

Droomverlore eenvoud

Sy verkies ’n eenvoudige foto, en dis presies wat Ina Nienaber van Vanderbijlpark met haar foto vermag.

“Ek het dié foto naby Kriel in Mpumalanga geneem. Die toneel neem my terug na my kinderdae: ’n Mens kry ’n gevoel van alleenheid, maar jy voel ook die vrede in die natuur wat ’n mens dan soos ’n skildery bewonder. Met die afwatering van die kleur op die foto (ek het dit agterna gedoen op my Samsung Galaxy J5-foon), staan die eenvoud nóg meer uit. Maar dis ’n eenvoud wat baie sê. Die pad verdwyn in die verte, wat die fokuspunt vorentoe bring, want jy probeer verder af in die pad sien.”

Met al die veranderinge wat Ina aan die oorspronklike foto aangebring het, kyk ’n mens gewis na ’n kunswerk eerder as ’n foto.

Met die effense kleur in die foto voel dit of die toneel uit die jare dertig dateer, en jy verwag enige oomblik ’n ou tjor wat in die pad afgery kom.

Die foto-sagteware maak die hoeke van die foto donkerder (in Engels vignette), en ’n mens verloor detail – in die donker dele én in detail soos op die rande van die bome.

Die fokuspunt is die einde van die pad. Dit is fisiek ook die middelpunt van die foto – wat nie ideaal is nie, maar dit werk goed met die tema. Die komposisie maak staat op simmetriese elemente, maar die skaduwees op die pad asook die takke wat soos deurmekaar hare lyk, verbreek die formele balans. Die donker dele van die bome balanseer ook netjies met die pad. Jy’s reg, Ina, die eenvoud sê baie op hierdie foto.

Stuur jou foto vir ons en ons plaas dit dalk hier.

Ons soek nie die tradisionele “kompetisiewenners” nie; net doodgewone foto’s wat vir jou mooi is. Van ’n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat in die swembad plas.

Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, dit maak nie saak nie.

THEO KRIEL wen ’n Weg Ry & Sleep-kamerasak ter waarde van R520 met sy foto – veels geluk!

Stuur jou foto’s na  leon.botha@media24.com