1.  Vat dit met ’n knippie sout

Soutpanne is die wolf in skaapklere van die 4x4-wêreld: Dit lyk dalk soos ’n vaste oppervlak, maar onder die kors wag daar dikwels ’n verrassing.

Derick Calitz van Calitzdorp vertel:

Waar: Winston-soutpanne, Namibië

Hoe: Ons het nog so lekker gery toe die agterwiele net skielik wegsak. Ek klim toe uit en besef hier gaan ons nie maklik uitkom nie: Ons was binne-in ’n soutpan. Daar was geen selfoonsein nie, ’n yskoue wind het gewaai en dit was al halfvyf in die middag. Ek het die bande afgeblaas en die wiele met die domkrag probeer lig om dryfhout onder in te druk, maar sit het ons gesit.

Herwin met: Toe die reddingspan ons uiteindelik vind, moes hulle eers die bakkies uit die klei opgelig kry en toe met ’n kinetiese tou uitpluk.


2. Oupa Willie trap diep spore

Nico Van Schalkwyk van die Paarl vertel:

Modder is vir ’n 4x4 soos ’n doring in ’n naelloper se voet – dit kan jou vinnig tot stilstand bring.

Waar: Breërivier

Hoe: Ons was een dag by Laerskool Breërivier se plaas-rally met Oupa Willie, ons opgeboude Datsun Safari 2.8. Die naam kom van my pa, wat baie opgewonde was om hom te sien, maar toe aan longkanker dood is voor die bakkie klaar was. By die rally het Oupa Willie se voorste dryfas losgekom, net toe ons die modder vat! En daar sit ons. 

Herwin met: Weldoener met ’n wenas


3. Die verbode paadjie

’n Mens hoef nie diep die boendoes in te vaar om vas te sit nie. Dit kan selfs op jou eie werf gebeur.

Jacques Janse van Rensburg van Noordoos-Vrystaat vertel:

Waar: Noordoos-Vrystaat

Hoe: Hierdie was ’n groot oeps. Ek en my vrou, Jessica, het een dag besluit om vinnig ’n draai te ry om na die sojaboonlande op ons verlate plaas in die Noordoos-Vrystaat te gaan kyk. Die plaas het mooi rantjies, met spruite wat daardeur loop, en daar is baie mooi plekke om te ry.

Ons vierjarige seun, Johan, was saam met ons en ek het net langs die spore gery om uit die modder te bly. Maar daar gaan staan ons Cruiser tot by sy deure in pap modder!

Herwin met: Uitgesleep deur ’n vriend


4. Onder draai die duiwel rond

Modder is ’n 4x4 se moses, daarom moet jy dit nooit onderskat nie. Nie eens as jy net ’n vinnige draai by ’n opedag gaan ry nie.

Crone Opperman van Germiston vertel:

Waar: Germiston

Hoe: Ek en vroulief het ons kleinding en haar ouma by die klubhuis gelos en wou “net vinnig” ’n draai gaan ry tussen die hindernisse. Ja, wel. Die eerste graad 3-4 hindernisse was sommer maklik en ek was vol selfvertroue.

Toe vroulief dus vir my sê dat ek eers deur die moddergat moet loop voor ek deurry, het ek gedink: ‘Nee wat, hoe nat kan dit nou wees in dié droogte?’

In elk geval, ek ry mos met modderbande. En só, met meer moed as verstand, is ek toe die gat in. Maar toe die bande deur die droë kors breek, gaan sit die Landy op al twee diff locks, wiele in die lug. 

Die voertuig was ook nie die enigste een wat ’n modderbad gekry het nie. Ek moes uitklim om my sleeptou te haak, maar toe gly ek ook. Karplaks! En daar sit ek lekker in my eie modderbad.


5. Nat agter die ore

Nes ’n kind met ’n Kersgeskenk, kan ’n mens mos nie wag om jou eerste 4x4 deur sy passies te vat nie.

Ruan Scholtz van George vertel:

Waar: Germiston

Hoe: Ek het my 1986-Nissan Safari skaars ’n maand gehad toe dié storie gebeur het. Met baie bravade en breëbors oor my nuwe ryding, het ons klomp ouens op die betrokke dag op ’n vriend se plaas gaan ry.

Ons het met breë glimlagte by ’n modderdam op en af gery en heerlik gebaljaar. Soos ouens weet, raak die manne mettertyd mos al hoe dapperder. En so begin ons toe oor die knoppe en deur die nat, modderige slote al langs die dam ry. 

Dis toe hier waar ek myself en my 4x4 in ’n effense situasie bevind. Die voertuig was te lank vir een van die slote en toe ek weer sien, hang hy pens in die lug soos ’n ding wat reg is om geslag te word.

Herwin met: Uitgesleep deur vriende


6. Pens en pootjies

As jy in ’n rivierloop met jou bakkie gaan ry, onthou tog om ’n vriend saam te vat net vir ingeval jy vasval.

Richard Eksteen van Roodepoort vertel:

Waar: Mogolrivier, Lephalale

Hoe: Daar is twee brûe oor die Mogol. Ek is nie seker hoe ver hulle uitmekaar is nie, maar dis ’n hele entjie. Ons het van die een brug na die ander een probeer ry die dag wat ek ’n walletjie in die rivier onderskat het. En daar laat sit ek die Jeep op sy pens oor die einste walletjie.

Herwin met: Pieter het my vorentoe probeer uittrek met ’n kinetiese tou, maar toe self vasgeval! Gelukkig het ek ’n wenas. Ons het dié toe tussen die twee voertuie vasgemaak en die knoppie 

gedruk om te kyk wie kom eerste los.


7. Die rooi domkrag tot die redding

Selfs al bly jy in ’n gebied wat min reën kry, moet jy onthou om voorbereid te wees vir die dag as die water wel kom.

Marelize Nel van Keetmanshoop vertel:

Waar: Guruchab-rivier, Namibië

Hoe: Gerhardus is in sulke tye soos ’n klein seuntjie wat net in die reën wil speel. En hy dink nie twee keer om met Skorra (die plaasbakkie) in die rivier in te ry nie.

’n Ander boer sou eers uitklim en ’n ent loop om te bepaal hoe nat die sand is, maar nie hy nie! Gerhardus het ook ’n rooi domkrag wat soos ’n speelding vir hom is.

Ek dink egter hy het hom op dié dag misgis met hoe nat die grond is en nie vir ’n oomblik gedink hy sal vassit nie, want hy’t ordentlik gaan vassit op pad na daai rivier toe.

Herwin met: Die rooi domkrag het weer tot sy redding gekom.

8. Daar is altyd 'n eerste keer

Hulle sê mos ’n mens leer uit jou foute. Watter beter manier dan om te leer oor herwinnings as om vas te sit op jou eerste 4x4-toer?

Atwie Pretorius van Kempton Park vertel:

Waar: Kgalagadi

Hoe: Ons het besluit om ’n 4x4 te huur vir ons eerste toer Kgalagadi toe. Op ons laaste dag in die park besluit ons toe om die Leeudril-4x4-roete te ry. Ek moet seker hier byvoeg ons het voor die toer geen 4x4-ervaring gehad nie.

Die eerste ruk het goed gegaan en ons is deur die roete sonder erge pyne. Toe besluit ons om dit weer te ry en vir vroulief ’n kans te gee. Maar een van die duine het haar opdraand gegee. Dit was teen dié tyd al lekker warm en die sand was erg los. Ek besluit toe om ook te probeer en het net so gesukkel, daarom besluit ek toe om ’n ent terug te stoot.

Ongelukkig was my lyn skeef. Die Hilux het skielik skeef gemik, van die pad af geloop en daar gaan sak die bakkie weg in ’n netwerk van vernuftige muis- en rottonnels.

Herwin met: Uitgesleep met 'n Amarok.


9. Spanwerk is altyd ’n wenner

Wanneer jy met jou 4x4 die veld in vaar, kan selfs ’n rustige middag in ’n penarie ontaard. En sommer vir meer as een voertuig!

Johan Vosloo van Mbombela vertel:

Waar: Witklipdam naby Sabie, Mpumalanga

Hoe: Terwyl ons nog so ry, sien ons mense wat van die oorkant van die dam vir ons waai. ’n Toyota Fortuner en ’n Hilux sit vas in die modder. Toe ons daar aankom, daag ’n Ford Ranger ook op om te help. Ons is dus nou vier voertuie op die toneel.

Die Ranger is eerste in om die Fortuner te red, maar hy val ook vas. Ek, in my Land Rover Defender, spring toe in om die Ford uit te sleep. Nadat ek hom uitkry, span ons toe my Defender en die Ranger saam in om die Fortuner uit te kry. 

Die volgende plan was om met ’n trein van drie voertuie te probeer om die Hilux van voor uit te sleep, maar daar sit ek in my Defender ook vas! Ek blaas toe maar die wiele af, want dié slag was dit die Fortuner se beurt om die Defender uit te trek.

Herwin met: Ons sou weer drie voertuie inspan, maar sou die Hilux van agter af uittrek. Verder sou ons die Land Defender met sy wenas tot teenaan die Hilux trek om hom só te probeer uitkry. Die plan het soos ’n bom gewerk en met die drie-voertuig-trein kry ons al vier ons voertuie weer op vaste grond, sonder dat een van hulle weer vassit.