Deel

4 dinge om te onthou oor modderbande

akkreditasie
Uit die argief: Vir ernstige veldryers is ’n stel taai modderbande ’n moet. Maar onthou dié vier dinge as jy oorweeg of dit die regte band is vir jou doeleindes.

1. Hulle raas

Weens die aggressiewe loopvlakpatroon, “sing” MT’s redelik hard op die teerpad. Sommige raas meer as ander, maar dis iets waarmee jy sal moet vrede maak.

2. Jy kry minder kilometers

Die kombinasie van aggressiewe blokke en sagter rubber beteken dat jy nie sulke lang afstande daarmee sal kan aflê soos met AT-bande nie. Dit hang egter af van jou rystyl. As 50% van die loopvlak afgeloop het, begin MT-bande hulle meer soos AT’s gedra en hoewel hulle dan minder goed in die veld is, hanteer hulle weer ’n bietjie beter op die teer.

3. Hulle het minder greep in die reën

Die groot blokke beteken dat minder rubber in aanraking is met die teer as met ander bande. Op droë teer is dit al klaar erg genoeg, maar as jy met MT’s ry, moet jy baie versigtig wees wanneer dit reën. Jou greep om draaie word benadeel, en so ook jou remafstande.

Maak dus seker jy handhaaf ’n konserwatiewe volgafstand met MT’s op jou wa.

4. MTs is duurder

Hierdie bande is nooit goedkoop nie, hoewel jy uitsonderings kry. Oor die algemeen is dit heelwat duurder as AT-bande.