Vroeg vanjaar het Xtreme Outdoor se nuwe eienaars die Armadillo XTR 302 as nuwe model by sy reeks gevoeg. Die slaapgedeelte van dié wa, wat vir twee mense ontwerp is, strek van kant tot kant regs van die deur soos jy inklim. Daardie wa is nou aangepas met van die voorstelle wat hulle van klante ontvang het, sê Jason Collie, mede-eienaar.

Soos hy nou op die vloer staan, is hy kant en klaar. Terwyl tot drie ontwerpers aandag geskenk het aan die teken (en wéér teken) van die Armadillo-waens, het hulle nou met die 302 ’n vaste ruggraat gevestig vir waens vorentoe.

Die vervaardiger gebruik Al-Ko-produkte vir die as, remstelsel, neuswiel en hoekstutte. Die raamwerk van die onderstel self word van staal gebou – en vir van die balke word 3 mm-staal gebruik pleks van 2 mm. Die staalwerk word boonop gegalvaniseer voordat die Al-Ko-komponente hulle plek kry.

Die romp se raamwerk bestaan uit aluminiumvierkantpyp wat oorgetrek is met ’n dubbellaag aluminiumplaat – binne én buite. Die algemeenste poeierverf-afwerking is sy bekende Oyster Silver, maar kopers kan ook wit of donkergrys kies.

DUBBEL TOT ENKEL. Die gassilinders staan in ’n hoë kas by die stert. Buiten dat elkeen ’n klep het, word die silinders verbind waar dit by die gasreëlaar bymekaarkom. Hier is ’n bykomende klep, wat dit dus ekstraveilig maak.

Veranderinge

Vergeleke met die vorige weergawe staan die onderstel nou 3 cm hoër bo die grond, met die 15”-wiele wat plek maak vir 16”-weergawes.

Die ys-vrieskas se glyraam is links van die deur, en bo en aan die kant is die opening vir die glyraam met 6 cm vergroot. Dit beteken selfs van die grootste ys-vrieskaste, soos National Luna se 90 l-model, kan nou op die raam pas.

Die raamwerk vir die los skottelgoedwasbak en -droograk wat op die punt van die ys-vrieskas se glyraam pas, kan soms ’n beslommernis wees, veral as jy die ys-vrieskas kort-kort moet in- en uittrek.

Dié raamwerk kry nou ’n tweede staanplek by die neuskas. Omdat dit met ’n verstelbare stutpaal toegerus is, is ’n ongelyk staanplek nie ’n probleem nie.

’n Welkome verandering in die kombuis is die enkelplaatgasstoof waarvan afgesien is; voortaan is twee plate standaard. Die twee 3 kg-gassilinders staan in ’n kas van hulle eie wanneer jy omstap na die stert toe. Jason sê die gaspypwerk wat deur die wa loop, word deur ’n gekwalifiseerde kundige afgeteken, maar dis die nuwe klep tussen die twee silinders wat die oog tref. Albei silinders is gekoppel aan dieselfde klep sodat jy van die een na die ander kan oorskakel wanneer die gas opraak. Hiernaas is ’n gasreëlaar vir die toevoer na die stoof en geiser. Dit beteken die geiser én gasstoof kry laedrukgas.

Om die hoek, by die stert aan die regterpaneel se kant, is ’n nuwe wasgoedlyn wat op elke woonwa hoort.

Ons het al elders sulke idees gesien, maar die 302 neem dit ’n stap verder: Die raamwerk vir die wasgoedlyn – wat teen die bakwerk rus – swaai boontoe, maar dis agter ’n plat deksel wat jy eers moet opslaan.

Dit beteken die wasgoedlyn het ’n dakkie oor as ’n reënbui jou in die kampplek onkant betrap. Verder kry die kas onder die wasgoedlyn se deur ’n gasstut sodat die wind dit nie rondwaai terwyl dit oopstaan nie (dieselfde geld vir die kas aan die oorstaande kant), en die houtrak op die neuskas kry ’n paar ronde ankerpunte.

Omdat opwipdakwoonwaens se romp so laag is, is die bokant van die buitedeur se kosyn net so laag. Om sake te vergemaklik wanneer jy inklim, pas ’n los trappie nou onder die drumpel in die romp – dit staan omtrent halfpad tussen die vloer en die buitekant.

Veral by padwaens sien jy dikwels ’n versonke trappie binne die wa, maar met ’n laer trappie buite gaan jy waarskynlik in die wa kan klim sonder om jou kop te stamp. Sonder enige trappie – soos wat ’n mens hier en daar sien – beteken dit bene rek vir die inklimslag... en dan moet jy koes vir die kosyn.

Volt-sake

Die kragpaneel was voorheen links van die deur soos jy inklim, maar dié skuif nou na die kas regs van die deur.

Dit maak plek vir ’n 20 l-mikrogolfoond met ’n 220 V-prop direk daarnaas (dié prop het ’n driepunt-, tweepunt- én USB-sok). ’n Tweede soortgelyke sok sit onder by die vloer regs en het ook ’n 12 V-hoofskakelaar wat die batterystroom kan afsny.

Die 105 Ah-battery met sy 100 W-sonpaneel was tot nou toe standaard, maar die paneel word nou ’n 150 W-model.

Binne het die 302 bolangs verskeie kassies, elk met ’n seildeurtjie, maar hulle het nou ook ’n eie lig, elk met sy eie skakelaar. En Armadillo neem die ligtestelsel weer eens ’n stappie verder met ’n eie beheerpaneel regs binne by die kosyn.

Die skakelaars verdeel die binneligte in vyf groepe, elk met sy skakelaar. Dit is vir die kasliggies in die agterste gedeelte, die dakligte, die twee leesligte en die ligte links van die deur.

Die vyfde skakelaar is vir die ligte in die kas onder die bed. ’n Blad onder die los matras slaan op vir toegang, en om dinge makliker te maak kry die los pasblad nou ook gasstutte.

Laastens kry die rande van die 302 se binnekasopeninge almal ’n rubberstrookafwerking en die panele langs die bed ’n volle seilvoering. Voorheen was dit net ’n smal strook.

VYFSTER. Die nuwe 302 se elektriese stelsel het heelwat aandag gekry. Dit loop oor van ligte – en niks is oorbodig nie. Al die ligte word in vyf groepe verdeel wat jy dan elk afsonderlik met ’n skakelaar kan beheer. Elke liggie het ook sy eie skakelaar by hom.

Armadillo-woonwaens was tot dusver net in die Kaap beskikbaar, maar hulle het nou ook ’n handelaar elk in Gauteng en KwaZulu-Natal: Waterworld in North Riding, Johannesburg, en Natal Caravans & Marine in Pinetown.

BVM 1 800 kg; Prys: R345 000

VAN DIE MEDEDINGERS

Aluminiumgeboude boswoonwaens vir 2

Summit Karenga

Die onderstel word van vlekvrye staal gemaak. BVM 1 450 kg, Prys: R290 000

Infanta Enkulu 1

Die dak lig elektries en is standaard. BVM 1 600 kg, Prys: R335 800

Tuff Cats Mbada

Die bed is deel van ’n aluminiumlaai wat uit die romp getrek word. BVM 1 800 kg, Prys: R353 000

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook