
Ek het in 2012 afgetree en ’n stewige, goedkoop ryding nodig gehad waarmee ek ons pragtige land kan verken. Daarmee wou ek ook my dienste as geestelike en sielkundige berader gratis aan mense bring wat dit andersins nie kan bekostig nie.
Ek het hierdie 1972 Land Rover Forward Control 110 2B, ’n afgetrede militêre trokkie, in 2013 by ’n Duitse vriend gekoop vir R39 000.
Hierdie voertuie is destyds uit Brittanje ingevoer as 2 t-vragmotors wat die Suid-Afrikaanse weermag dan in busagtige voertuie laat ombou het.
Die gebruike vir dié rygoed was legio, maar myne was’n mobiele beveleenheid. Ek het haar Bertha gedoop, ter herinnering aan Huberta, die seekoei, wat ons land gedurende die depressiejare platgeloop en hoop gegee het aan ons bedrukte nasie.
Ek het dadelik die oorspronklike Land Rover-aandrywingstelsel vervang met ’n Chevrolet 4,6 l-V8-enjin (295 kubieke duim) en die gepaardgaande ratkas en oordraratkas.
Die oorspronklike stelsel was nie juis prakties nie – en beslis nie ekonomies nie. Nou spog Bertha met meer krag en beter betroubaarheid. Hoewel sy steeds ’n bietjie dors is met haar V8-enjin – sy sluk sowat 20 l vir elke 100 km wat sy draf – kla ek glad nie omdat ek weet sy kan feitlik enige plek ry.
Die agterste ruim was reeds in ’n leefgedeelte omskep toe ek Bertha gekoop het, maar ek het die 220 V-kragtoevoer aangepas sodat dit ook die stroom van ’n sonkragpaneel kan aanvaar.
Die paneel is op die dak en daar is ’n groot 230 A/h-battery onder die bakwerk. Sy het ook ’n gasyskas en -stort, en ’n ingeboude toilet met ’n riooltenk.
Ordentlike kragstuur en skerper remme is nog twee opgraderings wat ek vir haar oorweeg.
Bertha se beste talent is dat sy by plekke kan uitkom waaroor eienaars van gewone viertrekryhuise maar net kan droom. Dit is danksy haar uitstekende grondvryhoogte én nader- en vertrekhoek.
Sy’t al ’n hele paar houe weg en is dus g’n sissie nie. Bertha is nie bombestand nie en ’n paar dinge het al gebreek – maar dit was meestal my skuld.
Ek het probleme met die agterste ewenaarslot gehad omdat ek nie die nuwe dryfas laat kalibreer het toe ek die aandrywingstelsel vervang het nie.
’n Wielnaaf en koeëllaers het ook al in die slag gebly omdat ek te veel daaraan gekrap het. Ek is nie ’n goeie werktuigkundige nie en moet die meganiese goed eerder uitlos.
Maar buiten dit het ek geen klagtes nie en ek kamp waar ek wil – in ’n oord óf in die bos.
Ek hou veral van die Noord-Kaap en Weskus met die kenmerkende ongerepte vlaktes waar jy stil kan raak en toelaat dat die aarde met jou praat. In Desember 2017 het ek en my neef Theuns Welgemoed die berugte Pad na die Hel naby Vioolsdrif aangedurf.
Sover my kennis strek, is Bertha die enigste Forward Control wat hierdie vreesaanjaende pas aangedurf – en oorwin – het.
Uit die argief: Dié artikel het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #29 (Desember 2019) verskyn.