Leendert wou ’n tent op sy bakkie hê wanneer hy en sy vrou kamp. In plaas daarvan om dit op die dak te monteer, het hy egter besluit om ’n deksel vir sy 2003 Toyota Hilux 3.0D-enkelkajuit se laaibak te bou.

Leendert se plan was om ’n deksel te bou wat sterk genoeg sal wees om die tent sowel as sy en sy vrou se gewig te dra wanneer hulle slaap. Die deksel kan ook sluit. “Ek kan enigiemand wat ’n saag en boor kan vashou, aanraai om so iets aan te pak,” sê Leendert. “Dis glad nie moeilik nie en ’n mens maak mos maar planne soos jy vorder. En as jy vashaak, vra iemand om jou te help. Die Engelse sê mos: If you think you know everything, nobody is going to teach you anything.”

Dís hoe Leendert gemaak het:

Wat het jy nodig gehad om die deksel te maak?

• 25 x 50mm aluminium-hoekyster

• 2 x blaaie 12mm mariene-laaghout 

• 3 x vlekvryestaal skarniere

• 30 x 6mm vlekvryestaal boute en moere

• 60 aluminium-klinknaels

• 2 groot meubelslotte

• 10m rubberstroke (die tipe wat onder ’n kappie gebruik word) 

• Deursigtige buitevernis

1. Bou die geraamte

Leendert het die aluminiumraam gesny volgens die mates van die laaibak, met 45-grade hoeke. ’n Kollega by sy werk het dit aanmekaar gesweis.

2. Maak die skarniere vas

Die skarniere is met die vlekvryestaalboute en moere aan die hout en raam aangebring. Die houtblaaie is met klinknaels aan die raam geheg. Onder die raam is 50 mm-kleefrubber om die stof uit te hou.

3. Sit slotte aan

Die deksel sluit met twee drukslotte wat weerskante van die laaibak vasknyp.

4. Heg die deksel aan

Die voorste gedeelte van die deksel, wat nie beweeg nie, is met 6 mm-vlekvryestaalboute aan die laaibak vasgeheg. Leendert kan dus die deksel afhaal as hy wil.

5. Installeer gasarms 

Twee gasarms help die deksel lig en hou dit oop.

6. Maak seker die hout kan hou

Die handelaar waar Leendert die hout gekoop het, het hom verseker die hout sal wind, son en reën kan hanteer, want dit word ook vir skeepsbou gebruik. Maar hy het dit in elk geval ook met ’n goeie buitevernis geseël, en ’n dik laag silikoon tussen die hout en die raam ingevoeg


Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #68 (Jan-Feb 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy iets raaksien.