Toe Jan se gesin begin groei, het hy besef die tyd het aangebreek om van sy Toyota RunX ontslae te raak en ’n ander voertuig te soek. Gelukkig was sy broer bereid om die RunX te koop, terwyl sy pa se Condor presies was waarna hy op soek was. Hy kon sy pa oortuig om hom vir sowat R70 000 van die hand te sit – volgens Jan is dit baie na aan die kar se inruilwaarde vyf jaar gelede. Dit is ’n 2000-model Toyota Condor 3 l-RV-4x4 (diesel), en hy het sowat 230 000 km op die klok gehad toe ek hom by my pa gekoop het. Dit is nogal ’n skaars model, want die meeste wat jy nog op die pad sien, is óf die Estate óf die TX, met laasgenoemde wat ook ’n 4x4-model het.

Ons noem hom die Blou Monster, oor sy kleur. Dit is ’n donkerblou wat Toyota Calypso noem. Die swart afwerking wat ek aangebring het, vorm ’n mooi kontras met die bakwerk. Die noodwielrak is ook swart én ek het die vensters donker getint.

Ek ry elke dag met die Condor en laai ook gereeld die gesin in die kar om ’n bietjie te gaan speel. Al die modifikasies wat ek gedoen het, was met veldry in gedagte, en daarom het ek die veldrybuffer voor plus die ewenaarslot. Die Condor het ’n permanente viertrekstelsel en is ook toegerus met laestrekratte, maar die ewenaarslot het vir ’n dramatiese verbetering gesorg in veldrytoestande.

Ek wou ook ’n bietjie meer krag gehad het, maar hierdie ou drieliterenjins is ’n baie basiese ontwerp; dus was ’n turbo en chip nie regtig aan te beveel nie. Ek het eerder ’n vryvloei-uitlaatstelsel laat aanbring en die brandstofpomp laat herkalibreer. Dit het vir ’n verbetering gesorg, en ek kry nou 90 kW krag vergeleke met die 66 kW, terwyl die wringkrag ook verbeter het van 192 Nm tot 246 Nm.

Ek het die vering gelig, en ek is eerlik as ek sê sy swaartepunt is nou nogal hoog. Die Condor is net 1,4 m breed – dit is ’n halwe meter smaller as die Jeep Wrangler Rubicon. Jy praat van ’n kar wat baie hoog en baie smal is. Daar is dus hindernisse waar ’n mens voel die Condor gaan nie op sy wiele bly nie. Toyota moes net sy voor- en agterwiele effens verder uitmekaar geplaas het, maar ek dink nie die vervaardiger het hom met die oog op die 4x4-mark gebou nie.

Ek het ook ’n pensplaat, pasgemaakte glyplanke en ’n noodwielrak oor die agterdeur aangebring, en vir hom Camil- en Bilstein-skokbrekers voor en agter aangesit. Saam met ’n paar ander klein veranderinge is ek nou in staat om uitdagender hindernisse aan te durf.

Een van die dinge wat die Condor verder die oog laat tref, is die 225/70 R16 BF Goodrich-bande. Hulle is een grootte groter as die standaard – ek kan ongelukkig nie groter gaan nie, want die voorwiele tref die wielboog wanneer ek draai. Volgende op die agenda is ’n stel spasiëringsblokkies vir ’n breër voorkoms, en dan sal ek kyk of ek ’n plan met die wielboë kan maak om vir hom groter tekkies aan te trek.

Dit is ’n baie praktiese kar. Wanneer my vrou, drie dogters en twee honde nie saamry nie, kan ek die agtersitplekke uithaal en help om meubels te vervoer óf ’n matras daar gooi. Wanneer ons vir die naweek weggaan, pas al ons toerusing in sonder dat ons ’n dakrak het of ’n waentjie sleep.

Daar is twee soorte mense wat altyd die kar van nader wil bekyk. Die eerste groep herken glad nie die Condor nie en dink dit is ongelooflik, terwyl die ander groep altyd wil weet hoekom ek nie eerder ’n Prado of ’n ander “ware” veldryer aangeskaf het nie. Maar ek wil nie ’n Fortuner soos duisende ander Suid-Afrikaners hê nie. Hierdie Condor is uniek, het hope karakter en hy laat beslis die koppe draai.

/