Die meeste van ons wat rygoed met turbodiesels het, is baie erg oor die groot hoeveelhede wringkrag wat sulke enjins ontwikkel. Wanneer jy dus iets moet sleep of teen ’n steil opdraande uitry, is dit lekker om te voel hoe jou ryding se wringkrag daarmee klaarspeel. 

Maar terselfdertyd is dit ook gevaarlik om te dink omdat jou ryding baie wringkrag het, jy dus bloot net die versneller in die vloer in kan wegtrap. Want as jy nie die enjintoere, ratkeuse en versnelleropening laat saamwerk nie, sal jy op die lange duur jou enjin groot skade kan berokken.

Hoe gebeur dit?

Jou enjin se grootste vyand is hitte en die grootste enkele bron van hitte is van die ontbrandingsproses afkomstig. Onder normale omstandighede is dit geen probleem nie, want die verkoelingstelsel hou dinge mooi onder beheer binne normale werkstemperature.

Maar wanneer die lug/brandstofmengsel verkeerd is, kan die enjintemperatuur baie vinnig en gevaarlik styg. 

Daar is ’n paar maniere hoe dit kan gebeur:

Geblokte lugfilter – Dis hopelik nie ’n probleem as jou ryding gereeld gediens word nie.

Verrigtingskyfies – Een van die groot sondebokke is sogenaamde plug and play verrigtingskyfies, of chips, waarvan die meeste bloot die enjin se blikbrein flous om meer diesel in die silinders in te spuit. Hoewel verrigting dan beter is, kan dit ten koste van veilige enjintemperature wees, veral onder hoë enjinladings.

Jou ratkierie – Wanneer jou ryding byvoorbeeld in sy hoogste rat is en jy teen ’n opdraande uitry, gaan jy die versneller ál hoe verder moet wegtrap vir die enjin om dieselfde toere te behou. Maar om die enjintoere dieselfde te hou, moet jy die hoeveelheid brandstof wat in die silinders ingespuit word dramaties verhoog – en die logiese gevolg hiervan is ontbrandingstemperature wat skerp begin styg. 

As jy dit lank of gereeld genoeg doen, is dit ’n kwessie van tyd voordat een van die volgende dinge gebeur: Jou ryding se turbo gaan oppak of die uitlaatspruitstuk of silinderkop gaan kraak. Met ander woorde, jy gaan vriende met jou bankbestuurder moet word.

Wat kan jy doen om dit te verhoed?

Kies ’n laer rat. As jy teen ’n opdraande uitry, skakel oor na ’n laer rat wat ’n kleiner versnelleropening benodig.

Moenie te gou oorskakel nie. Moenie teen 50km/h al na sesde oorskakel en dan eenvoudig die lepel wegtrap nie. Laat die enjin eers toe om genoeg wringkrag te ontwikkel – teen min of meer vanaf 1800 tot 2000 r/min – voordat jy na ’n hoër rat oorskakel, veral as jy wil versnel of teen ’n steil opdraande uitry.

Installeer ’n uitlaatgas-temperatuurmonitor. Veral as jou enjin ’n chip het of jy baie sleep, is dit ’n goeie idee. Hierdie monitors word gewoonlik op die uitlaatspruitstuk aangebring en ’n monitor in jou kajuit waarsku jou as die uitlaatgastemperatuur te hoog styg. Dan kan jy óf die versneller bietjie lig, óf na ’n laer rat oorskakel – of ’n kombinasie van die twee – totdat die uitlaatgastemperatuur weer ’n veilige vlak bereik het. 

Ry ’n outomatiese voertuig! Want as jy die lepel diep sou wegtrap, sal hy vanself oorskakel na ’n laer rat, soos jy eintlik veronderstel is om met ’n handrat te doen.