Die COVID-19-inperking het 2020 se fees in die wiele gery, maar met die huidige inperkingsreëls kan vanjaar s’n voortgaan.

 

Die Land Rover Classic-juigkommando (want hulle is veel meer as blote aanhangers...) bied van 5-7 April vanjaar die Land Rover Series-fees aan by die Rust de Winter All-Wheel Drive Club se 4x4-hindernisbaan.

 

Hierdie byeenkoms, wat die oorspronklike Land Rover Series-voertuie vier, word deur LRclassic.com aangebied en deur Leimer’s Land Rover geborg.

 

Eienaars kamp die naweek langs hulle rygoed op die klub se gronde en moet vir hulle eie kamptoerusting sorg. Die eienaars gaan aan ’n verskeidenheid aktiwiteite deelneem wat ontwerp is om die vermoëns van mens en masjien op die proef te stel.

 

Die aktiwiteite sluit in ’n maklike 4x4-uitdaging vir ouer Land Rovers met bladvere, vermaaklike kompetisies vir passasiers en slingerdraai-uitdagings waarin bestuurders hulle Land Rovers se enjins met die hand aan die gang moet swaai. Daar sal ook radiobeheerde 4x4-modelle, voertuiguitstallings en onderdeel- en toebehore-stalletjies wees.

 

Dagbesoekers is welkom, uiteraard ook eienaars van nuwer Land Rovers, en daar is kosstalletjies en ’n biertent as jy nie jou eie proviand wil bring nie. Die jongspan gaan in die swembad en speelplek kan baljaar.

 

Indien jy ’n eienaar van ’n Series 1 tot 3 Land Rover is en aan die aktiwiteite wil deelneem, sal jy gou moet spring om in te skryf.

 
Pryse
  • Series Land Rover-voertuie vir die Series Spele: R500 per voertuig, wat eenmalige gedenkwaardighede, T-hemde en ’n drasak insluit.
  • Kampeer vir die naweek: R750 per staanplek vir twee volwassenes vir drie nagte; bykomende kampeerders betaal R150 elk (voorskoolse kinders slaap gratis oor; maksimum vier mense per staanplek). Geen bespreking vir net ’n deel van die naweek word toegelaat nie.
  • Dagbesoekers: R150 per voertuig (onbeperkte aantal insittendes).

Besoek www.lrclassic.com vir nog inligting.

KONTAK André 083 640 3057, andre@lrclassic.com