Die Ranger Thunder is Ford se tydelike vlagskipmodel. Ons gebruik die woord “tydelik”, want Ford sê die Thunder is ’n “beperkte weergawe”.

Die maatskappy swyg oor die aard van hierdie beperktheid: Gaan daar slegs ’n sekere hoeveelheid gebou word, of staak hulle ná ’n tyd die vervaardiging daarvan?

Wat ons wel weet, is dat die Thunder ’n rang hoër is as die Wildtrak. Die Ranger Thunder gebruik dieselfde 2 l-dubbelturbo-dieselenjin en 10 spoed- outomatiese ratkas as die Wildtrak en die Raptor, maar anders as met daardie modelle is die Thunder ook te koop met Ford se 3,2 l-enjin – ingeval jy die soort mens is wat groter enjinkapasiteit bo ekstra turbo-aanjaers verkies.

Die 3.2 is egter slegs beskikbaar in agterwielaandrywing, maar in die 2.0-modelle kan jy kies tussen agterwiel of viertrek.

Die pikorde onder Ford se dubbelkajuit-Ranger-bakkies is soos volg: die Ranger 2.2 TDCi-basismodel, gevolg deur die XL, XLS, XLT, FX4, Wildtrak en dan die Thunder. 

Die Raptor is inderdaad ’n hoërgraadryding – hy is immers die duurste van die lot – maar hy vul sy eie nis en ons wil hom nie in dieselfde kamp plaas as “algemene” Rangers nie. 

Wat is anders? 

Die Ford Ranger Thunder het ’n paar unieke ontwerpelemente. Daar’s die sierrooster met seskantige heuningkoek-patrone en rooi “neusgate” aan weerskante van die sierrooster; die syspieëltjies is swart geverf; en op die laaibak se klap en aan die onderkant van die voordeure is daar driedimensionele Thunder-kentekens in rooi.

Die 18”-wielvellings is ook swart geverf om ’n sportiewe voorkoms aan die Ranger Thunder te verleen.

Dieselfde sportstaaf as op die Ranger Wildtrak krul agter die kajuit oor die laaibak, maar op die Ranger Thunder is die staaf swart geverf met rooi strepe – dit bied geen beskerming as die Thunder op sy dak beland nie en ambagsmanne moet liefs nie lere en blikke verf daaraan vasmaak nie. Dit is bloot kosmeties.

Die laaibak is met plastiek uitgevoer om die metaal te beskerm, maar ons vermoed dit sal nie opgewasse wees teen ’n vrag bakstene of bourommel nie. Dit lyk eerder of die Ranger Thunder gemaak is vir die leefstylmark waarin daar nooit iets harders as bergfietse en kampgoed agterop die Thunder gelaai gaan word nie.

Die laaibak het ’n afskorting wat op glyspore rondskuif sodat jy jou hengeltoerusting en kampgoed van mekaar kan skei.

Jou pakkaas in die laaibak word beveilig deur ’n opsionele sluitbare roldeksel (R20 000) wat taamlik dig toemaak. Met ons toetsvoertuig het daar ’n bietjie stof ingekom, en nadat ons die bakkie gewas het, het ons ook ’n paar spatsels water in die laaibak ontdek.

’n Ander klagte oor die laaibak is dat jy die klap met ’n sleutel móét oop- en toesluit – hoe moeilik kan dit tog wees om die klap se slot saam met die sentrale sluitstelsel te laat werk? – en dié sleutel is ’n dunnerige dingetjie wat lyk of hy maklik gaan buig of breek as jy hardhandig met hom werk.

Binnelangs spog die Ranger Thunder met Thunder-embleme wat in die sitplekbekleedsel geborduur is en rooi stiksel op die sitplekke se nate. Dit onderskei hom van die Wildtrak se oranje stiksel en die gewone XLT se silwer gare.

Standaardtoerusting 

Die Ford Ranger Thunder het dieselfde katoeters as die XLT- en Wildtrak-modelle. Dit sluit in drie 12 V-kragsokke (voor, agter en in die laaibak) en ’n omgeskakelde 230 V/150 W-sok vir die agterste passasiers, LED-hoofligte met dagryligte asook LED-misligte, ’n programmeerbare 4 duim-skerm in die instrumentepaneel en ’n 8 duim-raakskerm in die middelkonsole, plus twee USB-sokke voorlangs met die jongste Android- en Apple-programmatuur om jou slimfoon te beheer.

Die 8 duim-raakskerm het ’n satellietkaart, maar jy kan voorrang gee aan jou slimfoon se navigasie – hoewel dit data vreet – as jy wil sien hoe die verkeer op jou beplande roete lyk, iets wat die Thunder se gratis satellietnavigasie nie kan doen nie.

Wat veiligheid betref, is daar baanbeheer wat die stuurwiel laat vibreer as jy oor die strepe ry – dit kan selfs die stuurwiel outomaties terugdraai as die blikbrein vermoed jou aandag is besig om te dwaal.

Die rekenaar kan ook parallelle parkeerplekke skandeer om te sien of die Ranger Thunder sal inpas. Die rekenaar laat jou weet wanneer hy ’n geskikte parkeerplek raaksien, waarna jy toestemming gee dat die kar die stuurwiel oorneem – en al wat jy dan hoef te doen is om die rathefboom, versneller en rempedaal te beman.

Ons het die outomatiese parkering op die proef gestel, en hoewel die Thunder inderdaad tussen twee voertuie en binne die lyne gestop het, was dit ’n spannende storie wat ons hare laat rys het. Jy raak dit blykbaar gewoond, maar ons verkies om eerder self aan die stuurwiel te draai, dankie.

Hoe ry hy? 

In Junie 2019 het ons geskryf oor die 2 l-dubbelturboenjin met sy 10 spoed-ratkas (sien Ry & Sleep #24) en niks het sedertdien verander met dié enjin nie.

Trouens, in daardie artikel het ons ons kommer uitgespreek oor die enjin se betroubaarheid, maar ons kan nou bevestig dat ons in die afgelope twee jaar niks uitermate negatiefs oor die 2 l-dubbelturboenjins gehoor of gelees het nie – hulle blyk dus betroubaar te wees.

Die 10 spoed- outomatiese ratkas is steeds seepglad, maar ons hou voet by stuk dat die 3.2 met sy doodgewone 6 spoed-ratkas ’n bevredigender rit lewer.

Ford gaan egter aanhou om sy dubbelturbo voor te trek, want dit is ekonomieser en omgewingsvriendeliker as die groot vyfsilinder. 

Slotsom

Daar was ’n tyd toe mense in hulle pap sou stik as hulle lees ’n bakkie kos meer as R800 000, maar dis deesdae ’n algemene verskynsel.

Die Ranger Raptor kos oor die R900 000 en die Volkswagen Amarok Extreme draai by ’n miljoen pitte!

Die Ford Ranger Thunder mag dalk duur wees, maar hy’s jou beloning vir al daai laat aande op kantoor en Saterdae wat jy aan jou beroep moes afstaan.

Met die Thunder kan jy nou met styl en gemak opruk na Sodwana...mét ’n hengelboot op die haak.

Want jy verdien dit.