Ek het in 1989 Botswana toe gekom om as landbou-onderwyser te werk. Aanvanklik het ek in Bobonong naby die Tuliblok gewoon, en ’n paar weke ná my aankoms het ek vir my ’n agterwielaangedrewe Nissan-bakkie gekoop. Die omgewing hier is nie sanderig nie en ek het besluit die bakkie is opgewasse om oor naweke sonder probleme die boendoes in te vaar.

In 1993 het ek besluit dis tyd om hierdie land verder te verken, en ek het besef ek sou ’n 4x4-voertuig nodig hê, veral as ek die sanderige paaie in die Kalahari wou aandurf. Ek het nie ’n spesifieke voertuig in gedagte gehad nie, maar ’n klompie weke later het ek ’n advertensie vir ’n tweedehandse Toyota Hilux 4x4 (enkelkajuit) gesien.

Hy het 70 000 km op die klok gehad en was ewe toegerus met ’n staalkappie, dakrak, bosbreker en sleepstang. Die verkoper was ’n Belg wat in daardie stadium in Francistown gewerk het.

Ek het dadelik na die bakkie gaan kyk, en nadat ek by die Belg en sy gesin oornag het, het ek die Hilux die volgende oggend gaan toetsbestuur. Ek het onder meer in die sanderige rivierbedding van die nabygeleë Ntsherivier gery om die laestrekratte te toets. Die Hilux het my nie teleurgestel nie en het die toets met vlieënde vaandels geslaag. Teen middagete was ek 22 000 pula (destyds net onder R30 000) armer nadat ek ’n bankgewaarborgde tjek aan die verkoper oorhandig het. Ek het geweet dit is ’n winskoop en het daarom besluit om nie verder te soek nie.

Die bakkie het versoolde bande gehad, maar ’n paar dae later het ek almal van hulle met nuwe Goodyear Wrangler 215R 15C-bande vervang. Die gesukkel om die noodwiel onder die onderstel uit te haal het my ook gepla; dus het ek onder die kappie vir hom én ’n tweede noodwiel plek gemaak.

Ek het die skokbrekers met swaardiens-modelle vervang en die sitbank in die kajuit met twee enkelsitplekke.

In 2009 het ek die enjin heeltemal laat oordoen. Ondanks al sy pluspunte is my Hilux, wat ek The Beast gedoop het, dorser as wat goed is vir my en ek betaal daarvoor by die vulstasie. In die verlede het hy my rondom 11 l/100 km op die ooppad gegee, maar deesdae is ek gelukkig as dit nie erger as 14 l/100 km is nie.

Ek het dit twee jaar gelede oorweeg om The Beast te verkoop en vir my ’n nuwe Land Cruiser Prado aan te skaf. Dit is terloops my droomvoertuig, maar hy sou my 420 000 pula (R567 000) uit die sak jaag en ek sou niks meer as 30 000 pula (R41 000) vir my Hilux gekry het nie. Ek het toe besluit ek knap eerder my bakkie op en het die plaaslike werktuigkundige daarvoor ingespan.

Ná ’n bietjie paneelklopwerk het hy hom met hierdie sanderige oranje kleur gespuitverf. Ons het ook vir die bak ’n rubberlaag laat aanbring en ek het ’n stel nuwe wielvellings gekoop waarop ek blootsbande kan sit. Voorlangs het ons die ligte en buffer vervang, en toe ons uiteindelik klaar is, het al die onderdele en arbeid 40 000 pula (R54 000) gekos.

My odometer staan al op 679 000 km, wat beteken hierdie 4x4-bakkie het met die tyd sy waarde bewys. Boonop kon hy enigiets baasraak wat oor sy pad kom.

Ek was al in Chobe, Moremi, Nxaipan en die Makgadikgadipanne. Ek het al ook die grens oorgesteek en plekke soos die Matoboheuwels en Hwange- nasionale park in Zimbabwe asook die Kgalagadi besoek. Namibië is ook op my radar. Maar die Makgadikgadipanne is my gunstelingbestemming, want dit lyk of die blou lug nooit ophou nie, terwyl die skitterwit soutpan tot ver verby die horison strek.

Daar gaan nie ’n maand verby dat iemand nié probeer om die bakkie by my te koop nie. En mense raak baie opgewonde om te hoor dat The Beast ’n oorspronklike 4Y-enjin het. Daar is ’n groot aanvraag na rygoed soos myne hier in Botswana omdat hier nie veel eienaars is wat hulle voertuig wil verkoop nie. My bakkie gaan nêrens nie. Ek het nog groot planne vir ons.

Hoe lyk jóú wiele?
Stuur ’n e-pos na rysleep@weg.co.za en vertel ons van jou ry- en sleepding.