Isuzu se mense het ons omtrent jaloers agterna gekyk toe ons by die maatskappy se aanleg in Port Elizabeth uitry. Terwyl hulle lessenaars bestuur en papierwerk afhandel, was ons op pad na ’n avontuur – in een van hulle voertuie wat spesiaal vir ons behoeftes aangepas is.
Oor die volgende agt dae sou ons met agterpaaie langs reis tot in Gauteng, en van daar af deur die Noord-Kaap tot in Kaapstad. Oor ’n afstand van 3 520 km – wat verskeie hindernisbane, bergpasse en grondpaaie insluit – het ons goed vertroud geraak met die mu-X. Hier volg ons ry-indrukke. Terloops, het ons mu-X ’n noemnaam? Ja, natuurlik: Moeks!
Met die mu-X se bekendstelling in Mei 2018 het ons ons misnoeë uitgespreek oor die afwesigheid van ’n ewenaarslot op die agteras, en dit lyk of Isuzu ons kommentaar ter harte geneem het, want sedert November 2019 is ’n opsionele Eaton-ewenaarslot vir die mu-X beskikbaar.