Ek was ’n laerskoollaaitie toe Roemenië die eerste keer op my radar verskyn het.

Eintlik op ons nuwe Telefunken-televisie in die vorm van ’n 14-jarige Nadia Comaneci. Dié atleet het in 1976 by die Olimpiese Spele in Montreal, Kanada, die eerste gimnas ooit geword om 10 uit 10 aan te teken. ’n Perfekte vertoning.

En dit nogal uit Roemenië, ’n plek waarvan die meeste van ons bittermin geweet het! Want waarvoor was Roemenië bekend? ’n Wrede leier uit die 15de eeu met die manjifieke naam Vlad, die Deurboorder (die inspirasie vir graaf Drakula en sy vampiere uit Transsilvanië), gevulde koolblare en die stapelgek kommunistiese diktator Nicolae Ceaucescu?

Roemenië het nie juis ’n goeie beeld na buite gestraal nie. Die minlike Nadia het haar bes gedoen, maar dit was eers in 2010 dat mense besef het daar steek dalk meer in hierdie Oos-Europese land as bleek bloedsuiers en flougekookte kool. Dit was die jaar toe die Dacia Duster by die Geneefse Motorskou in Switserland aan die wêreld se motorjoernaliste bekend gestel is.

Die Roemeense Dacia (hulle bou ook die Dacia Sandero) behoort aan die Franse motorvervaardiger Renault, en in 2013 het die Duster hier onder die Franse embleem sy opwagting gemaak.

Dié onopgesmukte sportnutsvoertuig het plaaslik onmiddellik inslag gevind. Dit was ’n eenvoudige voertuig met goeie grondvryhoogte, taai genoeg vir Suid-Afrikaanse grondpaaie en slaggate, én relatief goedkoop.

Sedertdien het meer as 21 000 Dusters ’n Suid-Afrikaanse huis gevind (twee van die heel eerste modelle behoort aan Weg nadat die legendariese Toyota Condors in 2014 vervang is).

Die tweede generasie Duster is in 2018 bekend gestel gevolg deur ’n 4x4-weergawe in 2019 en ’n nuwe Techroad-model in 2020.

Ons het onlangs kans gekry om die nuwe 4x4-model by De Wildt naby die Hartbeespoortdam te toetsbestuur en die outomatiese Techroad 4x2-model vir drie weke in die Krugerwildtuin gebruik om stories in te samel vir ons jongste Kruger-gids wat in April 2021 op die rakke sal wees.

Albei modelle het dieselfde 1.5 l-turbodieselenjin en kos presies dieselfde (R361 900), maar die 4x4 is net in ’n handrat beskikbaar terwyl die handrat-Techroad R34 000 goedkoper is.

Die nuwe Dusters behou al die bogenoemde eienskappe wat hulle so geliefd onder hulle eienaars gemaak het, maar dit is die gemaksverbeteringe – veral binnelangs – wat opval wanneer ’n mens die oorspronklike Dusters met die nuwelinge vergelyk.

Dit was juis die “goedkoop” binneruim van die eerste generasie Duster wat die meeste kritiek moes verduur, die keersy van die lof wat hy verdien het vir sy bekostigbaarheid, grondpadvermoëns, snoep brandstofverbruik en taaiheid.

Renault en Dacia se ontwerpers het gehoor gegee hieraan. Die klankdemping en ritgehalte is verbeter. Daar is steeds baie plastiek binne, maar die gehalte van die raakvlakke en materiale is opgeknap.

“Luukshede” soos ’n raakskermvermaakstelsel wat via Apple CarPlay of Android Auto met jou slimfoon kommunikeer, klimaatbeheer en spoedreëling is standaard.

Vir minder as R370 000, brandstofverbruik van sowat 5 l/100 km en ’n vyfjaar- of 150 000 km- meganiese waarborg is die Duster deesdae meer as net ’n bargain-werkesel vir die middelklas. Goedkoop is vir ’n slag ook ’n goeie koop.