Die vorige geslag Defender het ’n reputasie vir onbetroubaarheid. Of die aantyging waar is of nie, bly ’n ope vraag, maar persoonlik dink ons dis onbillik, want een van ons redaksielede ry ’n ou Defender en hy daag altyd betyds op vir werk en daar is nooit olie of ghries onder sy vingernaels nie.

Die spoggerige nuwe Defender is té nuut om ’n onverdiende reputasie te kry, maar die eerste vlaag van ’n nuwe voertuig het dikwels groeipyne – en dit geld vir alle fabrieksname.

Die ou Landie was glad nie spoggerig nie. Dié het meer herinner aan ’n plaasimplement as ’n luukse ryding – en dit was aanvaarbaar, want dis wat Defender-eienaars wou hê.

Die nuwe Defender, daarteen, is swierig verby en petroljoggies was vol lof wanneer ons by ’n petrolpomp aftrek.

Buitelangs

Die nuwe Defender is 38 cm langer en 21 cm breër as sy voorganger. En dit is goeie nuus, want die binneruim is óók groter. Dit voel nie meer of jou regterskouer heeltyd teen die deur druk nie, en langerate wat effens vorentoe moes leun om by die ou Defender se lae kantvenster uit te kyk hoef dit nie meer te doen in die nuweling nie.

Maar ongelukkig is die 2020-model ook 359 kg swaarder as tevore, hoewel die kragtiger enjin daarvoor vergoed.

Die nuwe Defender kan ’n gewig van 900 kg dra – dis gelykstaande aan sewe rugbyvoorspelers en ’n koedoe – vergeleke met die 770 kg van die oue (hier sal jy die agsteman en ’n stut moet uitlaai, maar die koedoe mag bly).

Jaguar Land Rover hou voet by stuk die skulpraam is sterker as die leerraamonderstel van die ou Defender. Voornemende kopers kan die nuwe Defender dus kommervry laai vir Afrika- ekspedisies. Jy kan byvoorbeeld 168 kg statiese gewig op die nuwe Defender se dak laai teenoor 150 kg op die oue.

Die waaddiepte is vermeerder van 50 cm tot 90 cm – van knie- tot heupdiepte – maar die nuwe Defender se grondvryhoogte (218 mm) is 10 cm minder as die ou Defender s’n. Die lugvering kan die bakwerk oplig tot 292 mm, maar dis steeds laer as die ou Defender se 323 mm.

Grondvryhoogte: 218 mm
Grondvryhoogte: 291 mm

Die ou Landie was glad nie spoggerig nie. Dié het meer herinner aan ’n plaasimplement as ’n luukse ryding.

Binnelangs

Die nuwe Defender gebruik ’n skulpraam wat ’n tradisionele onderstel uitskakel. Die vering word nou direk aan die romp vasgebout.

Die raakskerm in die nuwe Defender vervang heelwat knoppies en skakelaars, en agter die stuur is die gevoel van welvarendheid sterker as die avontuurlus. Dis mooi binnelangs en jy ril vir die modderspore wat jy self ingetrap het, selfs al kan die matte maklik uitgehaal word sodat jy die vloere kan skoonmaak.

Die sogenaamde Alp-vensters – klein venstertjies aan weerskante van die ou Defender se dak wat agterste passasiers in staat stel om bergtoppe te sien – is behou, maar hulle is nou smal gleufies en van bedenklike nut.

Hier’s ’n ooraanbod kragsokke in die binneruim sodat jy selfone, kameras en allerlei elektroniese katoeters kan laai. Slim! Waarvan ons nié hou nie, is die digitale truspieëltjie wat die beeld van ’n kamera toon.

Die perspektief van die beeld is vreemd, want jy verwag om reguit agter jou te sien, maar as gevolg van die kamera se plasing op die dak sien jy alles van bo af. En ons weet ook nou hoe Count Dracula voel wanneer jy ’n spieël voor hom hou, want jy kan nie jou eie weerkaatsing in die spieëltjie sien nie!

Hoe ry hy?

Ons het seelangs oor duine gery (sien bl. 56) waar ons die elektroniese sandry-programmatuur getoets het. Ons het ook Bonnievale se uitdagende 4x4-roete getakel waar ons klipperige hindernisse suksesvol voltooi het met die hulp van elektroniese veldrymodusse.

Op snelweë en dorpspaaie is die verskil tussen die ou en nuwe Defender soos dag en nag, maar dit is nie waaroor hierdie toets gaan nie. Op tweespoorpaadjies het ons gevind die rit raak stamperig wanneer jy van gemak- na enige van die veldrymodusse oorskakel. Hier is dit soms beter om terug te skakel na die gemak- modus, maar dan sak die lugvering en jy moet dit weer lig om te keer dat die onderstel teen ’n klip kap.

Die vastrapbeheer werk goed, maar dit is hinderlik as die stelsel vir 20 sekondes lank grom en knor, en die wiele een vir een tol totdat die blikbrein besluit watter wiele om te gebruik om jou teen ’n steil bult met los skalie uit te trek. Die stelsel werk beslis en dis vir seker ’n puik manier om bande en onderdele te beskerm teen onverskillige bestuurders, maar soms wil ’n ou bloot die petrolpedaal trap en vorentoe ry sonder ’n rekenaar wat ook sy stuiwer in die armbeurs wil gooi. Hier verkies ons beslis die eenvoud van die ou Defender.

Die nuwe Defender se skulpraam en onafhanklike meerskakelvering moet teoreties in veldrytoestande swakker presteer as byvoorbeeld die vorige Defender se goeie ou leerraamonderstel en vaste asse, maar dit was uiteindelik glad nie die geval nie.

Ja, ’n wiel het hier en daar nutteloos in die lug getol terwyl hy eintlik op die grond moes druk om te help trek, maar die vastrapbeheer het hiervoor vergoed, selfs al moes ons soms vir die blikbrein wag om tot verhaal te kom.

’n Groter probleem is die nader- en vertrekhoek van onderskeidelik 38° en 40° met die lugvering op sy hoogste gepomp. Dit is minder as die ou Defender se 47° en 47°, en op ons toetsrit het die voorste buffer van die toetsmotor geskraap op Bonniedale se hindernisroete.

Die talle versteekte kameras waarmee jy klippe en stokke rondom die bakwerk kan dophou, werk lekker, maar dit vervang nie ’n mens wat buite die voertuig help kyk en jou deur ’n hindernis beduie nie. Gevolglik het die wielvelling links agter ’n krapmerk gekry...

Dit is weliswaar wear & tear, soos ons kollega met die ou Defender daarvan hou om te sê, maar ons wou nietemin in ons hande huil oor die merkies (wat dalk duisende rande gaan kos om te herstel) – iets waaroor ons nie sou tob as dit die vorige geslag Defender was nie. Trouens, ’n duik in ’n ou Defender sorg vir karakter.

SPESIFIKASIES

Model: Defender 110 P400 S Urban

Enjin: 2 996 cc, viersilinder Krag: 294 kW @ 5 500 r.p.m.

Wringkrag: 550 Nm @ 2 000 r.p.m.

Ratkas: 8 spoed-outomaties

Brandstofverbruik: 11,2 l/100 km

Tenk: 90 l

Sleepvermoë: 3 500 kg

BVM: 3 250 kg

Laaigewig op dak: 168 kg dinamies en 300 kg statiese gewig

Wielgrootte: 255/65/R19 Grondvryhoogte: 218-291 mm

Nader- en vertrekhoek: 38° en 40°

Waaddiepte: 900 mm

Veiligheidsgradering: Onbekend

Diensplan: 5 jaar/100 000 km

Prys: R1 425 221

Slotsom

Ondanks die kritiek is ons beïndruk met die nuwe Defender. Hy’t oral gery waarheen ons wou gaan, selfs op plekke waarvoor ons skrikkerig was. Hy hoef dus geensins terug te staan as dit by veldryvermoë kom nie.

Ná al die jare voel dit steeds soos ’n spesiale geleentheid om ’n ou Defender te bestuur. Die nuwe Defender voel ook spesiaal, ja, maar op ’n heel ander manier. Op ons toetsrit van Kaapstad af Mosselbaai toe en terug, ’n rit van 1 400 km binne vier dae, was ons gedagtes dikwels “Kyk net hoe kyk mense vir my” terwyl dit dalk eintlik moes wees: “Waarheen gaan ons volgende?”

Van die mededingers

4x4-trokkies vir mense met diep sakke:

Jeep Grand Cherokee Overland. Die Yank lyk spiekeries, maar hy is nie meer so hardebaard as vroeër jare nie. Prys: R1 025 650

Nissan Patrol. Onder sy logge romp skuil ’n atleet. Moet nooit ’n Patrol vlak kyk nie. Prys: R1 530 900

Toyota Land Cruiser 200 VX-R. Die 200 word eersdaags vervang en ons hou duime vas sy opvolger is waardig. Prys: R1 544 200