Onthou jy die eerste keer toe jy as kind op ’n roller coaster gaan ry het? Onthou jy die angs terwyl jy in die ry wag, die tweestryd as jy in die karretjie klim en hoe jou maag draai wanneer jou waentjie oor die hoogste punt van die spoor ry en op ’n afwaartse vaart lostrek?
Dan onthou jy seker ook hoe jou kniekoppe met die uitklimslag gebewe het, maar jy’t nietemin geskree: “Kom ons ry hom weer!” Dis presies hoe dit voel as jy op ’n verlate loodreguit agterpad stilhou, die Jeep Grand Cherokee SRT Trackhawk se sogenaamde launch control-knoppie druk... en die petrolpedaal wegtrap.
Op die oog af lyk die Trackhawk soos ’n doodgewone Grand Cherokee. Dis eers as jy naderstaan en die tamaai Brembo-skyfremme, lug gate op die enjinkap en ’n kenteken op die luikrug gewaar dat jy hom sal herken.