Die mark vir grondpadwoonwaens is ’n nissegment in Suid-Afrika – uit die raps meer as 40 woonwavervaardigers in die land is daar net ’n hand vol wat sulke modelle maak. Dit sluit in die vier modelle van Stealth, waarvan die Bush Lodge bo-aan die leer staan.

Bloot die voorkoms van die Stealth Bush Lodge is anders as dié van die ander Stealth-produkte. Die wit, grys en blou maak plek vir wit met ’n swart viniellaag onderlangs.

Anders as die stylvolle skoon ontwerp van eersgenoemde lyk dit omtrent of daar oor die Bush Lodge geskryf staan “moenie met my sukkel nie”. Oor albei sypanele is ’n vet modderspoor “geverf”.

Hierdie anderste motief word aan die binnekant herhaal, en dit sorg vir ’n aardse gevoel op ’n stylvolle manier.

Dit lyk omtrent of daar oor die Bush Lodge geskryf staan “moenie met my sukkel nie”...

En daar staan hy!

Wanneer jy die ligte toets voor jy in die pad val, kan jy dit sommer aangeskakel hou om nog veiliger te sleep. As jy dan in die truspieël kyk, sien jy die liggies aan weerskante onder by die romp wat ook skyn.

In die kampplek kry jy jou staan vinnig danksy die afswaai-hoekstutte. Soos met van die ander grondpad- en boswoonwaens loop ’n bosbreker onderom die Bush Lodge.

Die slinger van die hoekstutte pas mooi tussen die romp en bosbreker deur sodat jy die poot die laaste entjie kan uitdraai.

Die Bush Lodge se opwipdak lig maklik en slaan net so maklik plat – een mens kan dit doen. By albei H-skarniere wat die dak help lig, hang twee gespes.

Jy trek hierdie gespes vas sodat die dak nie lig terwyl jy sleep nie, én dit help ook met die platslaan – veral vir een mens. 

Sê ‘aaa’  

Die neuskasdeur is ekstragroot en swaai boontoe uit die pad. Die opening is 151,5 x 50,5 cm en die kas is 33 cm diep. 

Jy lig die neuskasdeur sonder die hulp van gasstutte en stut dit dan met ’n armpie, amper soos dié wat baie motors se enjinkap oop hou.

Die los waterkan staan links in die kas, die noodwiel in die middel en die gassilinder heel regs. Bo-oor die A-raam is ’n plat plaat waarop jy ’n sakkie hout of twee kan laai.

Boskombuis

’n Deur van 1,275 m lank slaan bo die linkerwiel oop sodat jy by die kombuis kan uitkom. Die deur is 78 cm breed, en met die hulp van gasstutte lig dit hoog uit die pad en vorm terselfdertyd ’n gawe dak bo-oor jou. Dit is ook hoog genoeg en uit die pad dat jy nie jou kop sal stamp nie, selfs al is jy 6 voet lank.

In die middel van die deur is ’n lig teen die agterste punt vasgesit wat die kombuis goed verlig. Die werkblad van 96 x 30 cm staan opgevou teen die kombuiskassies. Dié slaan plat om ’n maaghoogte werkoppervlak te gee.

Die stut regs onder, met ’n los paaltjie wat tussen die romp en die blad inpas, en is stewig. Binne die romp is nie minder nie as sewe kassies van verskillende groottes. Die mikrogolfoond staan in die middelste een links en is omtrent borshoogte.

Die spons met sy gate vir die breekware – vier elk borde, poedingbakkies en koppies – is in die deel onder die mikrogolf.

Die dubbele sok (220 V) is links van die spons teen die kant, en dis hier waar die mikrogolf ingeprop is. Die res van die kassies het genoeg plek vir potte, panne en kruideniersware.

Die tweeplaatgasstoof met ’n los versonke plastiekskottel trek op ’n laai van 111 x 55 cm by die stert uit. Die gasstoof sit dwars en is langs die woonwapaneel. Dit help om die wind weg te hou van die gasvlam. (As jy die stoof wil gebruik, moet jy die gassilinder in die neuskas nader bring om die gaspyp te koppel.)

Die skottel is op die punt van die laai en jy het ’n goeie 43 cm tussen die stoof en die skottel wat jy as pakplek kan gebruik. Wanneer jy die laai die eerste keer uittrek, lê ’n 73 cm lange blad hieroor toegevou. Dit swaai oor die wasbak om nóg ’n blad met sy eie verstelbare voet te vorm. Dié is op 42 cm effens smaller. Langs die skottel is ’n waterpyp met die spuitkop wat ook warm water uit die geiser kry.

Links langs die deuropening in die romp is nog ’n 220 V-prop as jy byvoorbeeld ’n elektriese ketel wil inprop.

Verder om

As jy verder om die woonwa stap, sien jy Stealth se kenmerkende buitebadkamer wat toegeslaan is teenaan die romp.

Dit is opsioneel, maar as jy vir die boendoes mik, maak dit sin om die badkamer by jou koop in te sluit.

Die veselglasdeksel teen die wa slaan op om ’n dak oor die badkamer te vorm. Die seilkante vou dan grond toe om twee vertrekke te vorm: die storthokkie op die punt en die droë kant waar jy kan aantrek.

Buiten die ruimte in die neuskas is daar nog twee kaste in die regterpaneel waarvan die opening 33 cm hoog is – een by die stert en die ander by die neus.

Die geiser staan in die kas by die stert links van die deur, met sy ventilasie-opening hiernaas.

’n Ander wêreld

Wanneer jy inklim, word jy verras deur die die Bush Lodge se ware karakter.

Die twee sypanele en yskas het interessante aardse patrone op, en selfs die strooikussings spog met eiesoortige motiewe wat mooi by die res inpas.

Voor elke venster is netjiese blindings.

Dit hang nie los voor die vensters nie en word behoorlik gespan sodat dit nie rondswaai as jy op slegte paaie sleep nie.

Die wa het vyf vensters van glas wat kan oopmaak – twee aan elke kant plus die voorste een.

Die blyplek

Jy klim by die voorste deel van die wa in, by die eethoekie met sy bankies wat in ’n U-vorm neus se kant toe staan. In die agterste helfte is die eilandbed. Dit voel omtrent of jy in ’n eksklusiewe suite staan met die tamaai bed eenkant en al die oop ruimte tot by die eethoekie. Dis ’n goeie 1,8 x 1,3 m.

Die paneelbord met al die kragskakelaars (vir onder meer die binne- en buiteligte, pomp, geiser en yskas) en 12 V-toevoer is regs in die kosyn vasgesit. Hier – én weerskante van die bed – is ’n dubbele USB-sok. Die kassie met die stroombrekers is onder by die voete regs, ook in die kosyn.

Onder elkeen van die drie bankies wat die U-bank vorm, is pakplek vir items wat jy dalk nie gereeld nodig kry nie. Hierdie deel slaan plat om slaapplek vir nog twee mense te maak.

As dit etenstyd is, slaan ’n los tafel op met ’n strykplankvoet wat die blad bo hou. Omdat dit los staan, kan jy dit ook buite gebruik as jy dalk nog pakplek by die kombuis nodig kry. Die 105 Ah-battery is ook onder die bank gemonteer (by die deur), terwyl die oorkantse bank oopmaak na die voorste kas in die regterpaneel. Hiernaas is die 158 l-yskas wat met 12 V-krag werk, en verder tot verby die bed is ingeboude kaste, waaronder ’n hangkas. Hier is plek vir ’n opsionele lugreëlaar as jy een van die kaste wil prysgee.

Die oorkant is die rugkant van die buitekombuis, en digby die dak is nog drie kassies ingebou. Maar die groot bederf is die vier ruim laaie wat onder die bed uittrek – plek vir komberse, kussings en nog klere.

Die bed is 1,87 x 1,51 m (koningingrootte), en albei slapers het ’n groot bedkassie met ’n deksel wat oplig vir jou persoonlike goedjies. Elkeen het ook sy eie leesliggie, en daar is ook ’n groter lig bo die bed as julle meer lig nodig kry.

Terloops, die hooflig is ’n ellelange LED- strooklig in die lengte teen die opwipdak. Dit skyn mooi helder en jy kan goed sien wat jy in die woonwa doen.

Die een wat by die slaapplek ’n 220 V-sok nodig kry, moet regs slaap, want die prop is in die regterkassie.

SPESIFIKASIES

Vervaardiger: Profibre Products

Model: Stealth Bush Lodge

Slaapplek: 4

Grootte: 6,1 x 2,4 x 2,2 m

Wiele: 15”

As: 1,8 t

Tarragewig: 1 280 kg

Dravermoë: 520 kg

BVM: 1 800 kg

Onderstel: Hoëgraadse staal en gegalvaniseer

Romp: Tussenvoegpanele met veselglas buite

Prys: R419 475

Handelaarsnetwerk: Die fabriek is in Pinetown met 7 handelaars in 4 provinsies (Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en Mpumalanga)

Kontak: stealthcaravans.co.za

Van die ander grondpadwaens

Aloe Excelsa

Het ’n opsie vir ’n binnebadkamer.

R453 296, BVM 1 800 kg

Sprite Tourer SW

Ligter, kleiner en goedkoper – ook vir 4 mense.

R324 363, BVM 1 450 kg

Okto Villa Gravellor

Het slaapplek vir 3 mense.

R428 900, BVM 1 800 kg