Nie almal droom om eendag met ’n Jurgens Penta of Conqueror Commander te kamp nie. Of dalk is hulle gesinne nog nie so groot dat hulle só ’n wa nodig het nie.

Dan is daar ook mense wat destyds outomaties hulle EB-rybewyse gekry het toe die kodes verander het, maar wat dalk nou naby aan aftrede staan. Die kinders is nie meer in die huis nie en hulle het nie meer ’n groot wa nodig nie. Om nie eens te praat van mense wat net ’n kode B-rybewys het of diegene wat nie plek het om ’n groot wa te stoor nie.

Daar is beslis ’n mark vir kleiner waens en oor die laaste klompie jare het plaaslike vervaardigers verskeie sulke modelle bekend gestel. Ongeag of jou woonwa gerem of ongerem is, is dit belangrik om te onthou dat sy brutovoertuigmassa (BVM) nie die sleepvoertuig se tarragewig mag oorskry nie. Vir ongeremde waens met ’n BVM van 750 kg of minder, moet die sleepvoertuig se tarragewig minstens dubbel die wa se BVM wees.

Die wet bepaal dat enige wa met ’n BVM van swaarder as 750 kg met remme toegerus moet wees. Dis ook vir sulke waens wat jy ’n EB-rybewys nodig het, terwyl jou B-rybewys geldig is om ’n wa met ’n BVM van 750 kg of minder te sleep.

SHERPA TINY HI-RIDER

Ken van klim

Die Sherpa-reeks geniet heelwat aansien onder plaaslike kopers en dié waentjies is nommerpas vir mense wat in die kampterrein net ’n plek soek om hulle kop neer te lê. Die Hi-Rider is ’n aangepaste weergawe van die Tiny, met 15”-wiele wat die Tiny se 13”-wiele vervang. Daar is ook ’n noodwiel-passtuk oor die onderste deel van die deur, maar hy is op ’n swaaiarm waarmee jy hom uit die pad kry.

Die Tiny Hi-Rider word van veselglas gemaak. Die neuskas op die A-raam, waar die noodwiel voorheen was, het nou weerskant ’n deur.

Dié model het twee enkelbeddens met die gang tussen-in en daar is ’n 220 V-kroegyskas om jou vleis en drinkgoed koud te hou. Die Hi-Rider het ook ’n klein stoeptent (1,3 x 1,8 m) wat oor die deur opslaan.

Ry & Sleep sê: Die basismodel is goedkoper, maar hy kom sonder die 15”-wiele, die noodwiel en die passtuk oor die deur. 

Prys: R160 000

Lengte: 4,3 m

Breedte: 1,8 m

Hoogte: 1,99 m

Tarragewig: 560 kg

BADGER LITE

Tawwie Tienie

Die Badger Lite het normaalweg slaapplek vir twee, maar jy kan ’n lêplek vir ’n kind in die neus van die wa laat aanbring as jy nie die bykomende pakplek nodig het nie. Jy kan die koskas van binne of buite bykom en die wa is toegerus met ’n tweeplaatstoof en ’n uitglyraam met jou ys-vrieskas.

Wat die Badger egter uniek maak, is die regterpaneel wat uitgly om ’n dubbelbed te vorm saam met ’n deel van die dak wat oor jou gespan word wanneer julle gaan inkruip. Dit sorg dus vir meer plek binne in die wa, want net die helfte van die bed is aan die buitekant.

Die wa het ook ’n 105 Ah-battery, 80-100 l-watertenk en -pomp en ’n 3 kg-gassilinder. Ry & Sleep sê Jy kan selfs ’n kleiner keuse genaamd die Mini, met ’n leë gewig van net 425 kg, aanskaf. Badger het weens die nasionale inperking egter nog nie met die produksie van die Mini begin nie.

Prys: R195 000

Lengte: 4,8 m

Breedte: 1,7 m

Hoogte: 2 m

Tarragewig: 500 kg

TONGA II

Swierig in swart

Hierdie elegante wa word deur die Kaapstadse vervaardiger Tonga gebou en is in sy wese ’n leë sleepwa wat lyk soos daardie kenmerkende bussies wat in die tagtigerjare gewild was. Die wa het ’n opvoumatras, uitglykombuis oor die A-raam, ’n ingeboude koelboks asook ’n 40 l-watertenk.

Die deur sit agter en is ook die dak van die tent wat jy agter die wa opslaan. Dit is ’n amperse ingangsportaal met die kantpanele wat vir privaatheid sorg. In die boks op die dak is die stoeptent wat oor die hele lengte van die wa span. Ry & Sleep sê Dié wa se groot pluspunt is sy baie pakplek.

Prys: R165 000

Lengte: 4,2 m

Breedte: 1,92 m

Hoogte: 1,85 m

Tarragewig: 380 kg

CUSTOM CANOPIES LION’S CUB

’n Welpie met brul

Die Lion’s Cub volg in sy groter sibbe se spore en hoewel hy een van die kleiner modelle op dié blaaie is, vergoed hy daarvoor met heelwat kampbybehore wat uitgly of -vou.

Dit sluit in ’n ys-vrieskas, skottelgoedwasplek, werkblad en ’n gasstoof aan die linkerkant en die dubbelbed regs. Dan praat ons nie eens van al die sakkies vir los goed binne en buite die wa nie.

Die opwipdak is aan die regterkant met skarniere vas, wat beteken die meeste kopruimte in die wa is aan die linkerkant langs die bed. Die bed is teen die kantmuur, wat beteken jy moet oor jou bedmaat klim as jy aan die venster se kant slaap. Hier is meer as genoeg 220 V- en 12 V-sokke waarmee jy al wat ’n foon en tablet is gelaai kan hou.

Hier is ook ’n stort met ’n gasgeiser.

Ry & Sleep sê: Hierdie duursame klein wa lyk sommer heel tuis agter ’n klein veldryvoertuig.

Prys: R225 000

Lengte: 3,5 m

Breedte: 1,7 m

Hoogte: 1,8 m

Tarragewig: 250 kg

ALOE PERI-PERI

Vuurwarm!

Sy eenvoudige ontwerp herinner sterk aan ’n kommersiële sleepwa, maar dan sien jy die opvoutafel aan die agterkant langs die woonwadeur, die vensters weerskant en die opwipdak.

Dis nie sommer enige sleepwa nie. Hy het selfs ’n beskermende staalplaat voorlangs om die bakwerk agter die A-raam te beskerm.

Jy kan ’n stoeptent as opsionele ekstra bekom en dié span jy oor die agterkant, waar die kombuis ook is. Behalwe die standaard wit, kry jy ook die wa in metaalsilwer. Die bed is groot genoeg vir drie mense en bedags omskep jy hom in ’n eethoekie waar vier kan sit.

Ry & Sleep sê: Elke stukkie ruimte in die wa word benut en daar is oral plekkies om jou goed weg te bêre.

Prys: R171 302

Lengte: 4,25 m

Breedte: 1,8 m

Hoogte: 2,03 m

Tarragewig: 580 kg

JAGUAR ZAZU 2

Kamoefleerkat

Jaguar Caravans se Zazu 2 is gemik op paartjies, maar wanneer jy sy stoeptent opgeslaan het, is daar plek vir ’n groot gesin in die koelte. Die tent strek so te sê heeltemal om die wa.

Die kombuis sit aan die linkerkant van die wa en trek soos ’n groot laai uit met plek vir jou eetgerei en breekware en ’n tweeplaatgasstoof bo-op.

’n Ys-vrieskas (85 l) is beskikbaar as opsionele ekstra. In die neuskas is genoeg plek vir vier ammokiste en bo-op kan jy ook ’n sak of drie hout vir vanaand se kampvuur laai.

Ry & Sleep sê: Ander opsionele ekstras sluit in ’n batteryherlaaistelsel, sonpaneel vir die dak en selfs remme. Wees net versigtig, want dit kan die BVM swaarder as 750 kg maak.

Prys: R150 000

Lengte: 2,5 m

Breedte: 1,5 m

Hoogte: 2,05 m

Tarragewig: 500 kg

GYPSEY LITE

Op die intreevlak

Daar is ’n weergawe van die Gypsey Lite genaamd die Impi wat ’n opwipdak het, maar hy kos ’n bietjie ekstra.

As jy egter gemiddeld lank is, behoort jy nie ’n probleem te hê om regop in die basismodel met sy vaste dak te staan nie. Die Lite het nie ’n kombuis nie, maar hy is toegerus met ’n 173 l- yskas (met ’n vrieskas), ’n eethoekie vir twee (wat jy kan omskep in ’n tweede bed) en ’n klomp kassies. Die dubbelbed is selfs ’n eilandbed.

Die Lite is gerem, dus kan jy hom selfs met party stadskarretjies sleep.

Ry & Sleep sê: Daar is ’n klompie opsionele ekstras beskikbaar soos ’n mikrogolfoond en ’n stoeptent.

Prys: R154 000

Lengte: 4,78 m

Breedte: 2,09 m

Hoogte: 2,47 m

Tarragewig: 590 kg

KRY DIE PRODUKTE HIER

Aloe Caravans: aloecaravans.co.za

Badger Caravans: badgercaravans.co.za

Gypsey Lite: campworld.co.za

Custom Canopies: customcanopies.org

Sherpa: sherpaleisure.co.za

Tonga: tongasa.com

Jaguar Caravan: jaguartrailers.co.za

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook