Mahindra is ’n Indiese motorvervaardiger wat nie skeef aangekyk moet word nie, veral nie wanneer dit by 4x4’s kom nie. Kort ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Mahindra-broers die lisensie gekry om Willys Jeeps in Indië te bou. As jy ooit die voorreg het om Indië te besoek sal jy duisende van die ikoniese CJ3’s en hulle afstammelinge op die paaie gewaar besig om mense, kos, bourommel en diere te vervoer. Ware werkesels.
Sedertdien het Mahindra uitgebrei en is wêreldwyd bekend – ook hier in Suid-Afrika waar die Thar (die moderne weergawe van die CJ3), die Bolero, die Scorpio en die Pik Up ’n goeie en goedkoper alternatief bied tot Japannese en Amerikaanse 4x4’s.
Die Pik Up-dubbelkajuit is al jare met ons, en die reeks is onlangs uitgebrei met die toevoeging van ’n outomatiese ratkas – dit heet die S11. As jy rêrig uitspattig wil wees, kan jy die Karoo-weergawe kies wat eie is aan Suid-Afrika. Allooiwiele, ’n bosbreker, plakkers op die kante wat sê “Karoo” en ’n praktiese laai-bakdeksel wat kan sluit, laat jou kar uitstaan tussen al die ander “gewone” Mahindra’s.