As jy ’n bakkie het, gaan jy vroeër of later ’n kappie oorweeg. Dalk wil jy hê die honde moet veiliger wees wanneer jy hulle strand toe vat óf jy wil jou waardevolle toerusting of jou kind se sporttoerusting beskerm.

Maar as jy, soos ons, van die buitelewe hou en jou bakkie gebruik om vakansie te hou, is ’n kappie amper ononderhandelbaar om jou kampwegbreke of avontuurreise makliker te maak.

Ons was gelukkig genoeg om ’n jaar lank een van die voorste handelsname se volledig toegeruste kappies op ons langtermyntoetsbakkie te hê. Ons huidige toetsvoertuig is egter ’n sportnuts, wat beteken ons mis die laaie, ys-vrieskas, tafel en stofbestande taaiheid van ons ou bakkiekappie.

Hier is ’n klompie kappies wat tans beskikbaar is om jou keuse te vergemaklik.

ALU-CAB EXPLORER VIR DUBBELKAJUIT

Alles en nog wat

Alu-Cab se reputasie as ’n handelsnaam wat die balans tussen gewig, krag en veelsydigheid volmaak bemeester het, spruit uit die jare negentig toe die maatskappy besef het dít is die drie eienskappe waarna klante die meeste op soek is wanneer hulle ’n toertrokkie toerus.

Daar is egter ook ander faktore wat hy in ag neem in sy reeks, soos ’n gesin wat groei of ’n afgetrede paartjie wat afskaal. Alu-Cab sê hy glo sy modelle moet aanpasbaar wees vir die verandering in ’n eienaar se behoeftes.

Soos alle Alu-Cab-modelle word die Explorer-kappie van aluminium gemaak, bloot oor die verhouding tussen sterkte en gewig. Die ingenieurs verstaan ook dat die kappie sterk moet wees vir die bykomende opsionele ekstras soos ’n daktent, ingeboude kombuis en rakke.

Die lys van bykomstighede is nogal omvattend: dakrakke, tente, dakplate, ’n uitglytafel, ingeboude laaistelsel, kombuis, bêreplek vir herwinningstoerusting en glyrame vir ’n ys-vrieskas en ammunisiekiste. Daar is selfs spesiale plek vir kampstoele en ’n 270°-afdak.

Prys

Vanaf R30 000 by 4x4 MegaWorld.

Ry & Sleep sê

Jy kan jou Explorer-kappie in silwer of swart bestel, en dan ook met ’n gladde of riffelplaat-afwerking


RUGGED DESIGN CANOPY CAMPER

Rof, taai en rou

Vergeleke met die ander maatskappye op dié blaaie is Rugged Design van Brackenfell ’n relatiewe klein vervaardiger, maar dit beteken nie jy moet Riaan Botha se onderneming vlak kyk nie.

Hy spog met ’n indrukwekkende reeks produkte, waaronder daktente, 270°-afdakke, laaistelsels, yskasglyrame, bakkiekappies en ordentlike abbawaens. Rugged Design spesialiseer ook in ryhuisombouings.

Die Canopy Camper word van aluminium gebou en is ontwerp om op die meeste bakkies te pas.

Die raam, dak en deure kry ’n dubbele laag om te sorg dat daar geen buigsaamheid is nie. Die opwipdak is geïsoleer om die temperatuur in die binneruim beter te beheer, en selfs die seiltent het ’n dubbellaag.

Binnelangs kan jy al die opsionele ekstras kies wat jou hart begeer, maar standaad kom hy met ’n opvoubed en 90 mm-sponsmatras.

Prys

Vanaf R85 000 by Rugged Design.

Ry & Sleep sê

Daar is heelwat kopruimte vir wanneer jy aantrek.


RSI DC EVO SPORT RANGER

Wêreldbekend

Die RSI SmartCap-reeks is ontwerp om sy man te staan teen Afrika se rowwe terrein, en sy reputasie strek tot in die Amerikaanse en Australiese mark, waar oorlandreise net so gewild is soos hier.

RSI bou die Evo-model van staal sodat hy in staat is om ’n stewige gewig (150 kg in die ry en amper 350 kg wanneer jy stilstaan) te trotseer.

En hoewel hy ’n rowwe derduiwel is, is die Evo ook toegerus met ’n luggat wat deur positiewe lugdruk die binnekant van die kappie skoonhou wanneer jy in die Tankwa-Karoo se stof ry.

Die sydeure het glasruite, daar is ’n derde remlig bo die agterruit en hy het universele dakrelings. Die voorste ruit van die kappie kan ook oopskuif.

Prys

R35 219 (dubbelkajuit) by 4x4 MegaWorld.

Ry & Sleep sê

Die voorste oopskuifruit is nie beskikbaar op Evo-modelle vir die Volkswagen Amarok nie.


/

CUSTOM LEISURE TECH OVERLAND EXTREME

Kry waarvoor jy vra

Custom Leisure Tech in Rosslyn, Pretoria, sorg dat buitelewe- en 4x4-geesdriftiges altyd die regte toerusting het met ’n wye reeks produkte wat insluit 270°-afdakke en ’n verskeidenheid daktente.

Die maatskappy se enigste bakkiekappie is ontwerp om alles te hê waarvoor ’n klant moontlik kan vra. Die Overland Extreme is taamlik basies, maar Custom Leisure Tech is meer as buigsaam wat betref opsionele ekstras en sê klante se gewildste keuses sluit in ruite, volledig toegeruste kombuiseenhede, ’n verwyderbare interne bergingskompartement, ammunisiekiste, dakstawe, ’n aluminium-kamptafel en LED-ligte.

Prys

R17 500 by Custom Leisure Tech.

Ry & Sleep sê
Custom Leisure Tech se hande staan klaarblyklik vir niks verkeerd nie. Dit verklaar hoekom die maatskappy so gewild is.


/

CUSTOM LEISURE TECH-ABBAWA

Boks, boks, staan styf

Dié abbawa van Custom Leisure Tech wat die Drop-In Camper genoem word, het sy ontstaan te danke aan versoeke van klante.

Hierdie reeks is vir alle bakkies ontwerp en daar is ook een wat spesifiek gebou word om op die Toyota Land Cruiser (enkel- én dubbelkajuit) te pas. Die eenheid kan net soos enige ander kappie op- en afgelaai word, maar om hiermee te help is daar stutte op elke hoek, wat beteken jy kan jou bakkie onder hom uittrek.

As jy wil reis, maak jy die abbawa met boute vas en jy is gereed om in die pad te val. Jy klim agter en van die kant af in en gebruik ’n leer om in die daktent te klim. Jy kan egter versoek dat jy van binne die abbawa af in die daktent kan klim.

Ander opsionele ekstras sluit in ’n laaistelsel, matte, afdakke, ys-vrieskaste en volledig toegeruste kombuise, LED-ligte, 12 V- en 240 V-kragsokke en watertenks.

Prys

Prys op aanvraag by Custom Leisure Tech.

Ry & Sleep sê
Waarvoor meer kan ’n mens vra as ’n bakkie wat binne ’n oogwink in ’n soort ryhuis omskep word?



RHINOMAN RHINOCAB ALU-KAPPIE

Taai soos ’n renoster

Rhinoman is waarskynlik een van die grootste kappievervaardigers in die land, maar snaaks genoeg is dit nie in dié bedryf wat die maatskappy sy ontstaan gehad het nie.

Nadat hy gespesialiseerde metaalonderdele vir staatsdiensinstellings vervaardig het, het hy uitgebrei met die verskaffing van aluminiumkappies vir die reismark en versonke staalkappies vir kommersiële gebruik. Die Rhinocab word van 100% hoëgraad-aluminium gebou, wat sorg vir ’n uitsondelike krag-tot-gewig-verhouding.

Al die dele van die kappie word met die hulp van ’n rekenaarprogram gegiet en met presisie-sweiswerk aanmekaargesit. Die kappie word dan met poeierverf afgewerk.

Normaalweg is hy wit, maar jy kan ’n kleur vra wat by jou bakkie se bakwerk pas. Jy kan ook beskermingsfilm en ’n veiligheidsmaasplaat op die ruite laat aanbring, én jy kan ’n tafelraam, bêrekiste, ’n eetgereisak en LED-ligte bestel. Die kappie word gewaarborg vir twee jaar.

Prys

Vanaf R33 020 (enkelkajuit) en R28 650 (dubbelkajuit) by Rhinoman.

Ry & Sleep sê

Die installasie is gratis, solank jy dit by Rhinoman in Pretoria laat doen.


/

NAMIB OUTDOOR

Nuwe besem vee skoon

Die eienaar van Namib Outdoor, Nick van der Linde, het onlangs die bakkiekappie-deel van Xtreme Outdoor gekoop en beplan om voort te bou op dié maatskappy se reputasie vir uitstaande gehalte.

Die kappies word nou onder die handelsnaam Namib Outdoor vervaardig en in die geheel van aluminium gebou, met die klant wat die afwerking kan kies. Die kappies kom standaard met voorste skuifruite, ’n agterste opwipflap met ’n getinte en gelamineerde ruit, enkel- of dubbeldeure langs die kant en twee slotte per deur.

Die lys van opsionele ekstras sluit in ’n kombuiseenheid (vanaf R6 325) en laaistelsels (vanaf R16 099), maar jy het ook die keuse van LED-ligte, bêrerakke, opvoutafels, ’n passtuk vir ’n sonpaneel en klerekaste.

Prys

Vanaf R27 599 (dubbelkajuit), R29 669 (ekstrakajuit) en R29 899 (enkelkajuit) by Namib Outdoor.

Ry & Sleep sê
Die Namib Outdoor-kappie pas op die meeste nuwer bakkies behalwe die vorige geslag Mitsubishi Triton.


Foto’s: Cyril Klopper & verskaf

Kry die pordukte hier

Alu-Cab alu-cab.com

4x4 Mega World 4x4megaworldonline.com

Custom Leisure Tech customleisuretech.co.za

Namib Outdoor namiboutdoor.co.za

Rhinoman rhinoman.co.za

Rugged Design ruggeddesign.co.za