Die GR staan vir Gazoo Racing... en dis mos die span van Giniel en 2019 se Dakar-wenner, Nasser Al-Attiyah, daai.
Toyota beplan om net 600 van dié GR Sport-bakkies te maak – almal dubbelkajuit-4x4 met die 2.8-enjin en sesspoed- outomatiese ratkas, en elkeen word genommer vir daai “ek-is-spesiaal”-gevoel. Hy sal beskikbaar wees in net drie kleure: wit, rooi en swart, maar by al die kleuropsies is die enjinkap en dak swart, wat die GR Sport van ver af laat uitstaan. Boonop staan die Toyota-naam breed oor die sierrooster geskrywe.
Die wit en rooi plakkers teen die sy van die bakkie eggo die stilering van Giniel-hulle se voertuie, en binnelangs loop ’n rooi streep deur die voorste paneel én die stikwerk op die leersitplekke.