Deel

Kyk dié aardige sleepsel

akkreditasie
In Pretoria het Arie Mooiman ’n aardige sleepsel raakgeloop. Kyk hoe lyk dié oulike selfgeboude waentjie binne:

Teks en foto’s Arie Mooiman 


Ek het dié oulike selfgeboude waentjie in die Joos Becker-kampterrein in Pretoria gesien. Hy behoort aan Kenny en Marinda Momberg wat net om die draai, in Pretoria-Noord, woon. Kenny is ’n slotmaker en het die kleine waentjie self gebou – hy sê hy het die buite-ontwerp so effens afgeloer by die Aussies se Teardrop-waentjies.

Die beskeie woonwa is omtrent net ’n bed-op-wiele. Binne-in pas ’n driekwartbed se matras – dit is nou van hoek tot kant. Kenny noem dit sy Koerwaentjie.

Dis nogal oulik dat ’n mens van al twee kante af kan inklim. As jy dus op die bed lê, is dit nie ’n oor-en-weerklimmery as iemand vinnig moet uit nie. Aan die voetenent is twee rakke waarop jy iets soos ’n boek of selfoon vir die aand kan bêre. Aan die agterkant lig ’n deur boontoe oop om by die outjie se kombuis uit te kom – die deur sluit met twee gewone los slotjies. In die kombuis is ook twee rakke met genoeg pakplek vir al die kruideniersware in klein kratte, met voorlangs ’n werkblad.

Kenny-hulle sê hulle maak ’n punt daarvan om so gereeld as moontlik vir ’n naweek weg te breek. Hy sleep die Koerwaentjie met sy 1,6 l-model Volkswagen Kewer, en die Volksie sukkel nie vir ’n oomblik met die beskeie sleepding nie.



Het jy iewers ’n rare sleepsel gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na rysleep@weg.co.za.