Foto’s: Helenus Kruger.

Net meer as ’n jaar gelede was die nuwe Jurgens-reeks die grootste woonwanuus van die dag, maar toe’s daar skielik ’n kinkel: Jurgens Ci kry nuwe eienaars en die nuwe reeks moet eers wag. Die wag was die moeite werd, want die nuwe eienaars was aanvanklik nie heeltemal tevrede met die reeks nie en hulle het die ontwerpers teruggestuur na die tekenbord.

En hier staan die Penta vandag, kant en klaar, met ’n paar fyn verstellings. Jurgens is die tophandelsmerk van Jurgens Ci met waens soos Sprite en Gypsey wat onder dit inpas. Op sy beurt is die Penta-model baie gewild onder Jurgens-eienaars, en te oordeel na die wa waarmee ons gaan kamp het, behoort dít geensins te verander in die afsienbare toekoms nie.

Voor, agter en onderdeur

Die neuskas staan soos altyd bo die A-raam en het ’n opslaandeur voor. Dié werk met ’n metaalmeganisme wat dit ook oophou. Die noodwiel staan links in die kas, maar is kleiner (14”) as die 15”-wiele op die wa. Verder is daar darem genoeg oop pakplek (37 x 150 cm) waar jy kampgoed soos jou rooster, byl, vuuraanstekers en hout kan inkry.

Die watertenk is onder die wa, agter die as, en hou 60 l. Die 12 V-pompie sorg dat die water by die krane kom.

Die Penta se hoekstutte werk met ’n hefboomaksie en is ’n groot verbetering op die skêrsoort van vorige modelle. Dié stewige stut het ’n arm aan die onderkant met ’n groot voetstuk. Die voetstuk is só gemaak dat hy kan swaai en by die skuinste van die grond aanpas. 

Op die regtervleuel en linkersy

Die water- en kragkoppelpunt is in die regterpaneel van die Penta. Die tuinslang se koppelplek is heel links, amper heel agter op die wa, en werk met ’n gewone Gardena-sok. Die prop vir die tenk is onder dit – dit kan ook sluit sodat niemand jou waterbron kan saboteer nie.

Die inpropplek vir die elektriese koord is aan die regterkant tussen die as en voorkant van die wa. Hieronder is een van die nuwighede op die wa: ’n sok vir ’n TV-lugdraad plus ’n tweepunt- en een Hella-prop.

Die kas vir die pale is in die linkerkant en loop onderdeur die linkerkantse bank. Die pale, tentpenne, grondseile, nooddriehoek en hoekstut-slinger pas onder meer hierin.

Die uittrekkombuis is links en net voor die as. Dis van staalplaat gemaak wat met ’n laag poeierverf afgewerk is. Jurgens het met die gas weggedoen, en in die plek daarvan is daar nou ’n induksieplaat. Gelukkig hoef ’n mens nie spesiale potte en panne hiervoor te koop nie, want jy kry ’n stel standaard saam met die wa.

Die kombuisblad het ’n groot ronde wasbak met ’n warm- en kouewaterkraan. Die werkplek is egter skraps; jy sal ’n los tafel langsaan moet staanmaak sodat jy die boontjies kan kerf én plek kan maak vir die borde voor jy opskep. (Jy kan ’n kleiner wasbak kies om ’n bietjie meer plek te maak.)

Die glyraam waarin die stoof pas, word met twee knippe in plek gehou wanneer dit uitgetrek staan. Om dit weer terug te stoot moet ’n mens jou hande onder die uittreklaai in wikkel, albei knippe gelyktydig indruk en die rak dan druk. Werk net versigtig wanneer jy die kombuis opslaan, want jou vinger kan maklik in die slag bly as jy nie mooi kyk wat jy doen nie.

Bo die kombuis is ’n LED-lig wat vir helder lig sorg en regs van die deur sit nog een.

Die 220 V-multiprop met sy water- en stofdigte deksel is regs van die kombuis, heel agter teen die wa.

Maak toe en skakel aan

Al die vensters kan oopmaak, maar die deur is in die pad van die venster langsaan as hy oopstaan. Al die vensters het ook gaasgordyne voor wat kan oopskuif. Die hortjies voor die vensters het ’n blaarpatroon met ’n roomkleur agtergrond wat goed inpas by die res van die wa se kleurskema.

Bo die tafel is drie LED-liggies, waarvan die middelste een ’n raakskerm het waarop jy net hoef te tik om dit aan of af te skakel. Dié lig skyn blou of wit, maar die twee aan die kante is net wit. Die skakelaar sit regs by die deur. Die hooflig is in die middel van die dak, en sy skakelaar is in die middel van die lig.

Mooi kooi (en kas)

Die slaapgedeelte beslaan amper die helfte van die binneruimte. Die eilandbed het aan weerskante ’n hangkassie (hoogte 78 cm), en bo jou kop is nog drie kassies. Bo jou, net soos by die tafel, is drie ligte, asook LED-leeslampies met verstelbare arms.

Onder elke hangkassie is ’n klein kassie op die vloer, maar die linkerkantste een het minder ruimte, want van die wasbak se pype loop hierdeur. Hier is ook ’n 220 V-prop by elkeen van hulle, en al die proppe op die wa lyk eenders. Dit het twee tweepuntsokke, een driepunt- en een USB-sok.

Pakplek by die koppenent is skraps en hier is net genoeg plek vir ’n selfoon en horlosie. Die matras (20 cm dik) is van hoëdigtheidspons wat met ’n sagte materiaal oorgetrek is. Die klerekas is links van die voetenent en hier is ’n klein werkblad bo-op die laaikas, met bo dit ’n kassie en twee oop rakkies. Die laaikas self het drie laaie, en heel onder is nog ’n kassie met ’n afswaaideur. (Die wielboog se binneste is in dié kassie, wat beteken jy kan dit nie regtig gebruik nie.) Net die boonste twee laaie kan heeltemal in die breedte uittrek. Om die middelste laai heeltemal oop te kry moet ’n mens die matras skuif, en vir die onderste laai is die bed se basis in die pad.

Klim gerus in

Aan die binnekant van die deur is ’n klein drankkabinet waarin drie 750 ml-bottels pas, met bo dit ’n rak vir ses koeldrankglase. Die ingeboude trappie van die deur is laag genoeg sodat jy maklik kan inklim sonder om ’n los een saam te ry.

Die eethoekie is links van die deur soos jy inklim en het plek vir vier mense. Die losstaande tafel is van só ’n aard dat jy dit sommer buite ook kan gebruik. Dit het ’n lang, plat laaitjie wat effens onder die blad versteek is – ’n lekker plek vir beursies, selfone en die sleutels. Onder die sitbanke links en regs is nog kassies. Die kassie bo die venster het drie afswaaideure, en as dié deure oop is, hang hulle te laag vir ’n grootmens om gemaklik onder by die tafel te sit.

Die tafel slaan plat om ’n dubbelbed (117 x 225 cm) te maak. Daarvoor druk jy ’n knoppie aan die onderkant van die tafel en trek dan die handvatsel na jou toe. Die blad pas netjies hier in. Hier is ook ’n kragpunt by die regterkantse bankie, maar dit is tog ’n biejie onprakties, want iemand se voete gaan aan die kragkoord vashaak as jy dit hier inprop.

Die watertenk se vlakmeter sit ook hier. 

Binnewasbak

Die wasbak is regs van die bed en het koue én warm water.

Hier is genoeg neersitplek vir grimeergoed en tandeborsels, maar die spieël bo dit is vas en kan nie swaai soos die vorige Penta s’n nie.

Regs van die spieël is nog ’n kassie plus die antennasok met ’n kragpunt. Die kassie is egter te klein vir ’n dekodeerder; dié sal jy óf langs die wasbak óf op die blad van die binnekombuis moet neersit.

Onder die wasbak is ’n groter kas met drie kassies, elk met afswaaideure. Die boonste kassie se ruimte word weer eens deur die pype van die wasbak in beslag geneem, én die matras is in die pad van dié kassiedeure. Die spasie tussen die matras, laaikas en wasbak is baie knap en dis ongerieflik om hier verby te skuur.

Die 220 V-geiser is weggesteek onder die bed, waar ’n mens gewoonlik die tent kon inpas. Die plek is dus beperk en as jy iets hier moet uithaal, moet jy twee hande gereed hou, want hier is nie ’n stut om die bedbasis bo te hou nie.

Kosmaak in die binnekamer

Die binnekombuisgedeelte is in die middel van die wa aan weerskante van die gang. Hier is meer as genoeg pakplek vir al die kruideniersware, potte en panne regdeur tot die borde en eetgerei.

Die mikrogolfoond en yskas staan links van die gang (die yskas se koel gedeelte is 184 l groot en die vrieshokkie 44 l). Die yskasdeure word met plastiekknippe toegehou sodat dit nie in die ry kan oopswaai nie.

Bo die yskas is nog ’n platterige kassie met ’n afswaaideur, en links is ’n kas met vier laaie, ’n werkblad en die 19 l-mikrogolfoond bo dit. Hier is ook ’n kragsok waar jy jou selfoonlaaier kan inprop.

Regoor die yskas is nog ’n kombuisdeel met ’n groot werkblad. Hieronder is twee laaie wat albei groot genoeg is vir potte, kastrolle, panne en al die messegoed.

Hierin is ’n spons met uitgesnyde dele waarin ’n pot en pan kan pas asook die messegoed, maar vir die eetgerei is daar nie plek nie. (Die sesstukmelamieneetstel is standaard, maar messegoed nie.)

Die middelste deel tussen die twee laaie het ’n vals deksel, want die buitenste uittrekkombuis word hierin teruggestoot.

Die skuins dak

Die opwipdak trek met vier stroppe vas om dit in plek te hou as dit nie gelig is nie.

Om die dak te lig moet die vier stroppe losgemaak word, waarna ’n mens eers die agterkant lig en dán voor. ’n Slim hefboommeganisme hou die dak agter op terwyl gasstutte in die middel en voor gemonteer is. Die dak loop met ’n helling na die agter – die val is ’n goeie 20 cm.

Die seil tussen die dak en romp kan ooprits bo elke sy vir ’n bietjie vars lug.

Kleure vir mooi

Die binnekant is modieus afgewerk en het ’n ruim gevoel. Die kaste se afwerking is puik – dit kan net sowel in jou kombuis staan.

Die deure en laaie het ’n ligte grysbruin afwerking met die grein wat horisontaal in strepe loop. Die werkblad is gryserig met ’n nagemaakte granietafwerking. Die kante van die kaste en mure is naaswit en dra by tot die ruim gevoel van die wa

Die tegniese goed

Lengte 6,547 m

Breedte 2,34 m

Hoogte 2,591 m

Hoogte met dak opgeslaan 2,92 m (maksimum) en 2,71 m (minimum).

Vloer-tot-dakhoogte binne- in met die dak opgeslaan 2,215 m (maksimum) en 2,015 m (minimum)

Tarragewig 1 530 kg

Dravermoë 270 kg BVM 1 800 kg

Prys R380 500

Plus  

  • Die Penta is ruim binne met baie kassies en pakplek – hier is selfs twee hangkassies.  
  • Die wa het nie minder nie as sewe kragpunte.  
  • Die geiser is ’n groot verbetering op die vorige model.  
  • Dis ruim binne met ’n lekker breë gang.  
  • Die matras is gerieflik en die meeste mense sal daarop pas.

Minus  

  • Die LED-liggies met die raakskerm is soms moeilik om aan of af te sit. 
  • Die uittrekkombuis het geen werkblad nie.  
  • Daar’s baie min spasie tussen die matras en die kaste reg langsaan.  
  • Die knippe wat die uittrekkombuis sluit, kan jou vingers vasknyp.  
  • Daar is nie plek in die sponshouer vir eetgerei nie.  
  • Die kragpunt se plek by die eethoekie pla. Weg Ry & Sleep sê Die Penta is swaar, maar jy kan hom met die meeste groter voertuie of dubbelkajuitbakkies sleep.