Ons wil nie die pap dik aanmaak en in ’n ander man se kooi klim nie, maar die Toyota Prado is groter en meer hardebaard as die Toyota Fortuner, maar kleiner en sagter as die Land Cruiser 200 – dus nét reg. Ja, hy glip netjies tussen sy twee stalmaats in en het min natuurlike mededingers. Trouens, dis eintlik net die Mitsubishi Pajero – die langbak-weergawe – wat ’n ware teenstander is vir die Prado.

Wat het ons hier?

Die vierdegeslag Land Cruiser Prado, onder entoesiaste bekend as die “150”, is vanjaar 12 jaar oud. Die volgende geslag sal na raming ’n jaar ná die nuwe Land Cruiser 300 opdaag, maar vir nou kry hy een laaste – of dalk voorlaaste – opdatering aan sy voorkoms en sy binnegoed.

Die jongste Prado kom in dieselfde drie afwerkingsvlakke as verlede jaar: die TX-basismodel, die VX en die VX-L-vlagskipmodel, maar wat is nuut?

Binne en buite

Jy kan nou uit agt bakverfkleure kies waarvan pikswart en metaalvlokswart twee nuwe opsies is. Binnelangs kan jy kies tussen swart leerbekleedsel met okkerneuthout-insetsels in die instrumentepaneel of beige leerbekleedsel met eikehout.

Daar’s ook ’n nuwe multimediastelsel met ’n 9”-raakskerm (teenoor die vorige 8”-weergawe). Jy kan nou slimfoon-apps soos Spotify SoundCloud en Waze met die raakskerm beheer. Jy kan ook kies of jy GoogleMaps van jou foon of die Prado se eie ingeboude satellietnavigasie wil gebruik.

Die multimediastelsel van die VX- en VX-L-modelle basuin The Eagles se “Hotel California” uit deur 14 luidsprekers, waaronder ’n diepbasluidspreker, terwyl die TX-model ’n skamele 6 luidsprekers kry wat heeltemal voldoende is vir enigiets deur Nickelback.

Die blikbrein help jou dalk oor die klippe, maar jy het steeds knoppies vir al die funksies sodat jy hulpmiddels kan aan- en afskakel soos jy goeddink.

Onder die enjinkap

Die belangrikste hersiening aan die Prado is sy GD-6-turbodieselenjin wat uit die jongste Hilux kom (die 4.0-petrolweergawe bly onveranderd). Dié enjin skop nou 150 kW krag en 500 Nm wringkrag uit danksy ’n nuwe koeëllaer-turboaanjaer met groter turbine- en stuwerlemme. Toyota sê die enjin is meer betroubaar as tevore danksy verbeterde verkoeling en verlaagde enjinvibrasies vanweë ’n nuwe balans-as.

Die enjin is gekoppel aan Toyota se jongste sesgangratkas (voorheen vyfspoed) wat óók sy eerste verskyning in die Hilux gemaak het. Wat 4x4-implemente betref, kry alle nuwe Prado’s Toyota se A-TRAC-vastrapbeheer terwyl die VX- en VX-L-modelle spog met vyf ritmodusse wat op die inligtingskerm gemerk is as gemak, sport, sport+, normaal en eko. Die topmodelle kry ook terreinmodusse genaamd modder en sand, los klip, hobbels, rots en grond, rots, en ook Toyota se bekende kruipmodus (oftewel Crawl Control).

Die TX-basismodel maak staat op doodgewone kronkelvere en skokbrekers terwyl die VX en VX-L-modelle spog met ’n hidrouliese veerstelsel wat al vier wiele verbind sodat elke wiel weet wat die ander doen. Volgens Toyota keer dit dat die romp om draaie wieg, maar laat ook toe dat die onafhanklike vering met lang hale op en af beweeg (sogenaamde flex in Engels) wanneer jy ’n 4x4-roete takel.

Die maksimumsleepgewig vir die nuwe Prado is ’n teoretiese 3 t, maar in Suid-Afrika word die maksimumsleepgewig beperk tot die voertuig se brutogewig, wat in die Prado se geval 2 900 kg is. Dis egter heelwat beter as die derdegeslag-Prado, wat slegs 1,5 t en minder mog sleep.

MEDEDINGERS

Drie bere wat Gouelokkies teenstaan:

Haval H9

Die H9 geniet nie soveel aansien as die Prado nie, want hy moet homself eers bewys.

R649 900

Mitsubishi Pajero 3.2 GLS LWB

Die natuurlike vyand van die Prado is 2 jaar ouer, maar ook R260 000 goedkoper.

R849 995

Volkswagen Touareg

Die Touareg spog met allerlei 4x4-katoeters, maar sy baas wil hom nie bos toe vat nie.

R1 190 400