book-icon Uitgawe Mei 2018

Tweedehands maar nié tweederangs

akkreditasie
Jy hoef nie noodwendig ’n nuwe kar te koop om ’n betroubare ryding te hê nie. Dié drie lesers het almal tweedehandse modelle aangeskaf, en hulle het net goeie dinge te sê!

Selfdoenprojek

2000 Mitsubishi Colt Rodeo 2.8 TDI 4x4

As jy weet wat onder die enjinkap aangaan en geduldig genoeg is om in jou vrye tyd aan jou ryding te werk, kan jy minder vir jou kar betaal en boonop nog spaar deur hom self te diens, sê George Wetselaar van Iswepe in Mpumalanga.

In 2006 besluit ek ek wil my eie diepseeboot aanskaf om te gaan hengel. Maar vóór ek die boot kon aanskaf, moes ek eers ’n 4x4 koop en leer hoe om die boot van die strand af te water te laat. Ek wou dit nét so goed doen soos die ouens by Sodwana in KwaZulu-Natal.

Ek moes my begroting in gedagte hou, en het besef ek gaan my storie in die tweedehandsemark moet ken. Ek het besluit die Mitsubishi Colt Rodeo 4x4 is presies wat ek nodig het. Ek het ’n 2000-model opgespoor, en hoewel hy ’n snaakse geluid gemaak het, het hy goed genoeg gery.

Ek het dié selfdoenprojek vir R60 000 gekoop. Gelukkig het ek reeds geweet wat vir die snaakse geluid verantwoordelik was – onklaar inspuiters.

Die Colt het in daardie stadium 210 000 km op die klok gehad en die binneruim was nog in ’n goeie toestand – selfs die oorspronklike Becker-radio het nog gewerk.

Ek het toe vir my ’n 17 voet-Invader Cat Ski, ’n 1988-model, aangeskaf vir my hengelavonture. Ek het hom ook goedkoop gekry en self opgedollie.

Met dié kombinasie het ek verskeie reise tussen Iswepe en die Noordkus onderneem, en selfs ’n keer of wat tot in Mosambiek gery. Ek het vir die bakkie ’n haak en wenas voor aangebring.

Die enjin het uiteindelik op 293 000 km die gees gegee en ek het besluit om hom heeltemal oor te bou. Ek het die onderdele gekoop en alles self gedoen. Ek het ook die duike uitgeklop en hom self gespuitverf.

Ek het onlangs ’n 2005 Jurgens Exclusive gekoop en ’n lugrem aangebring om aan die wetlike vereistes te voldoen. Die bakkie sleep nie juis die wêreld aan die brand nie, maar doen dit nietemin gemaklik. Sonder ’n wa op die haak gee hy my gemiddeld 11,4 l/100 km en ek kry 14,5 l/100 km wanneer ek sleep.

Ek het nou al in die omgewing van R60 000 op die Colt bestee, en aangesien ek binnekort met pensioen gaan, is ek van plan om tot op my einde met dié bakkie Sodwana toe te ry.


G’n klagtes nie, dankie

2003 MITSUBISHI PAJERO 3.2 DI-D LWB

Die laaste 14 jaar was ’n fees in sy Pajero, maar hy sou kon doen met ’n bietjie meer krag, sê Jan Ebersohn van Stellenbosch.

Ek het dit oorweeg om vir my ’n Volkswagen Touareg 4.2-V8 te koop, maar het eers my skoonseun s’n geleen en ’n ruk lank met hom gesleep om ’n gevoel te kry vir die ryding. Maar nadat ek my beursie moes skud vir ’n verbruiksyfer van meer as 30 l/100 km, het ek besluit ek moet eerder ’n dieselenjin soek.

Ek het dié tweedehandse Mitsubishi Pajero in 2004 vir R250 000 gekoop. Hy is swaar genoeg om my groot ou 1984 Gazelle 2100 sonder moeite te sleep. Ek glo ’n ordentlike sleepvoertuig moet minstens 250 kW krag en 500 Nm wringkrag hê om moeiteloos te sleep. Daarom is my droomvoertuig die Mercedes-Benz G-klas.

Selfs die mees bekostigbare model is sterk genoeg en meer as bekwaam.

Ek het nie veel klagtes oor my Pajero nie. Hy hanteer ewe goed op grond- en teerpad, maar daar is net te min krag na my sin. Sy outomatiese ratkas met sy handratfunksie maak egter korte mette van sleep. Ek ry gemiddeld 90-100 km/h, maar die Pajero sukkel nie om teen 120 km/h te draf nie.

Ek gebruik Mitsubishi se standaardsleepstang, en met die Gazelle op die haak kry ek 16-20 l/100 km. In die dorp gee hy my sonder die wa 12 l/100 km en op die ooppad is ek tevrede met 9 l/100 km.

Ek moes die ratkas op 320 000 km vervang, maar behalwe dit was die Pajero niks minder nie as ’n betroubare werkesel. Ek het ook ’n lugrem-ombouing laat doen om die Gazelle binne die wet te sleep.

Forever Badplaas is een van my gunstelingbestemmings, want die oord is goed toegerus en hulle sien om na almal se behoeftes.


Lank lewe die Landie!

2009 Land Rover Defender

2.4 Puma 110 SC HC Hy is nie stofdig, waterdig óf haastig op die snelweg nie. Maar wanneer Louis Botha van Johannesburg met sy Land Rover Defender en Jurgens Xcape van die teerpad afdraai, is sake presies soos hy daarvan hou.

Die Landie het 89 000 km op die klok gehad toe ek hom in 2013 tweedehands gekoop het. Hy was nietemin in ’n uitstekende toestand. Die HC in die naam verwys na die “high capacity” van die laairuim (load bin). Hy is effens breër as die gewone Defender, en daardie ekstra ruimte is beslis welkom wanneer ’n mens jou kampgoed begin laai.

Ek sleep ons 2014 Jurgens Xcape met ’n Trapezium-stabiliseerder. Dit is meer ’n geval van die mag van die gewoonte, maar dit gee my tog daardie ekstra bietjie gemoedsrus wanneer ek sleep. Ek sleep gewoonlik teen 100 km/h en kry dan gemiddeld 11,7 l/100 km by die vulstasie. Sonder die wa sak die verbruik tot 9 l/100 km.

Ek sleep ook met ’n 2006 Jeep Wrangler Sahara 4.0, maar daar is ’n aansienlike verskil in die brandstofverbruik, en met die Jeep moet ek boonop pakplek inboet. Wat wel in die Wrangler se guns tel, is die feit dat hy ’n baie gemakliker rit het as die Land Rover, veral as ons oor lang afstande sleep.

Albei karre is meer as opgewasse vir veldry, maar dit is veral lekker dat hulle die wa kan sleep waar ons wil.

Ek verkies dit om te kamp waar daar meer diere as mense is, en geniet plekke soos Thaba Monate en Shingwedzi in die Kruger en die ATKV-oorde Eiland-Spa en Natalia.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #10 (Mei 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.