My 1971-model Mercedes-Benz 280SE (die W108-reeks) het sowat 18 jaar gelede oor my pad gekom.

Dit was voorheen die motor van ’n Johannesburgse onderneming se direkteur – nadat hy oorlede is, het die motor lank gestaan voordat die besluit geneem is om hom te verkoop. Die Mercedes is in ’n garage geberg, agter slot en grendel, en daarom was hy nog in ’n uitstekende toestand, en alles nog oorspronklik.

Vyf jaar gelede spoor ek toe ’n 1965-model Gypsey, ook bekend as ’n Africaravan, op. ’n Vriend het laat weet van die gestorwe boedel van ’n bejaarde egpaar wat ’n effense kluisenaarbestaan gevoer het.

Ek het gaan kyk of daar ou motors is... en kon my oë nie glo toe ek die woonwa sien nie: ’n Mens kry net nie meer sulke ou modelle wat nog in so ’n goeie toestand is nie.

Binnelangs is elke ding nog op sy plek, en dit lyk omtrent soos die jare sestig. Die kaste, die ou Electrolux-yskas, gaasvensters en die oorspronklike hortjiesblindings lyk nog soos die dag toe die wa van die fabrieksvloer getrek is.

Selfs die ysbakkie in die vrieskas is nog die oorspronklike. Ons moes die stoffering ’n bietjie opdollie, maar het net die spons in die kussings vervang.

Verder het ons die wa net so gelos soos ons hom gekry het. Selfs die groot lig binne, wat oorspronlik met gas gewerk het, is nog op sy plek. Ek was nie te gretig om gas in die klein ruimte te gebruik nie; dus het ek bedrading in die gaspyp aangelê en ’n LED-stelsel aangebring, maar dis sagte beligting – amper soos dié van ’n gaslamp.

Soos dit maar gaan, het ek aan die begin gedink dit gaan ’n vinnige opknappingsprojek wees omdat die wa nog in so ’n goeie toestand is. Maar toe ek by die huis aankom en die panele begin verwyder, het ek agtergekom daar is heelwat houtvrot.

Daarom het ek die woonwaprojek vir eers op ys gesit, ook omdat ek al ouer is. Gelukkig het verlede jaar se eerste nasionale inperking my weer tyd gegee om voort te gaan met die projek.

Een van my werknemers, Freckson Phiri, was my regterhand met die restourasieproses. Hy het behoorlik ingeklim met die afskuur en verf van die wa, en ek wil die registrasie verander na “Freckson 1 – L” – om hulde te bring aan sy harde werk.

Ons het die hele restourasieprojek uiteindelik binne twee maande afgehandel.

Toe ons op sy eerste reis by Skukuza intrek, het die kombinasie van die 280SE en die ou Gypsey behoorlik die koppe laat draai.

Dit het ook ’n hele paar medekampeerders laat terugdink aan gelukkige oomblikke.

Het jy iewers in jou omswerwinge ’n seldsame sleepsel of ryding gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na  rysleep@weg.co.za