Die vorige geslag Hilux was, net soos sy voorgangers, ’n reuse-sukses wat plaaslike verkope betref. Maar met die enorme groei in die marksegment vir dubbelkajuite het die mededinging al hoe taaier geraak.
Jaco Dippenaar van Roodepoort het egter net goeie goed te sê oor sy 2007-model Hilux.
Toe ek in die mark was vir ’n dubbelkajuitbakkie, was daar heelwat keuses, maar baie van hulle het ernstige turbo-traagheid gehad. Dit is iets wat my nie aanstaan nie. Ek het ’n ryding gesoek wat nie traag is nie – een met hope wringkrag. Uiteindelik het ek op ’n splinternuwe Hilux besluit en hy het my R267 000 uit die sak gejaag.