Ek het sewe jaar lank met ’n 2003-model Isuzu KB 300 TDI-4x2- dubbelkajuitbakkie gery, maar hy het onklaar geraak en ek het besef dis nie die moeite óf geld werd om hom te laat regmaak nie.
Ek het besluit die tyd is ryp vir ’n nuwe ryding. ’n Bakkie is altyd nuttig wanneer jy gaan kamp, ongeag of jy sleep of nie. Ons sleep wel, maar ek laai die meeste van ons bagasie agterin die bakkie en nié in die wa nie.
Ek hou ook van selfdoenprojekte en om aktief te wees saam met my kinders. As daar dus nie ’n kruiwa en sakke sement agterop die bakkie is nie, is dit my kinders se fietse. Ek was dus van die begin af op soek na ’n bakkie, veral oor die veiligheid, betroubaarheid, gemak en veelsydigheid daarvan.