Veselglaswoonwaens vir paartjies is gewild in die plaaslike mark, en ’n hele rits vervaardigers voorsien in dié behoefte, onder meer Sherpa Leisure, Tojem en Panther Custom Caravans.

En hulle almal weet maar te goed: As jy hier wil uitstaan bo die res, moet jy jou stempel behoorlik afdruk.

Nou het Badger ook tot dié mark toegetree, en hy stel heelwat nuwe dinge bekend wat nêrens elders in die woonwawêreld te sien is nie. Die opvallendste hiervan is hoe die bed uit die romp slaan. Omtrent die hele dak vou saam met die regterpaneel weg van die romp, amper soos ’n bak hand.

Dié eenheid word dan die bed, met ’n tent wat bo-oor span. Die binneruim word dus oombliklik twee keer groter. Tans bou Badger drie modelle: die Lite, X-Over en Extreme. Ons het Badger se heel eerste woonwa, die prototipe van die Extreme, gehaak.

Staan en opslaan

Soos met enige woonwa moet die hoekstutte eerste uit. Die Extreme het twee swaardiensstutte by die stert, van die soort wat afswaai.

Volgende word die bed uitgeswaai, maar daarvoor moet jy eers die slotmeganismes oopmaak. Dié is binne die woonwa en jy moet jou halflyf by die deur inwurm om by die handvatsels digby die vloer regs van jou uit te kom.

Dit is dieselfde slotmeganisme as op koeltrokke, en daarom word die dak stewig op sy plek gehou as hy toegeslaan is. Loop nou om na die regterpaneel en kry ’n greep op die twee handvatsels bo die wiel. Trap met jou een voet vas op die wiel en swaai dan die paneel met die dak stadig na jou toe. Die deel wat uitvou, werk nie soos ’n mens verwag met gasstutte nie, maar met die soort rek wat vir rekspronge gebruik word.

Die eenheid kantel dus stadig oor tot dit parallel met die grond is. Geen gespook nie. Twee liggewig paalstutte staan nou haaks met die grond en vorm deel van die nuutgevormde regtersy. Draai die stutte se stelmoer los en die silindriese poot sak tot op die grond om die bed verder te stut.

Om die tent bo die bed op te slaan moet jy weer inklim. By die deur én by die stert hang ’n toegevoude aluminiumraam bo by die dak wat boontoe opswaai om twee nokke te vorm vir die tent.

Nou gebruik jy twee verstelpale om die tent netjies te span. Die matras lê in dele op mekaar “opgevou” en is met twee stroppe teen die basis vasgetrek. Onthou, dié basis staan regop wanneer dit toegevou is – só bly die matras se dele netjies en stewig teen die kant vasgetrek sonder om rond te val terwyl jy ry.

Twee verlengstukke op glyrame trek onder die bed se basis uit, soos twee laaie, tot dit gelyk is met die romp se binnepanele.Slaan nou die boonste deel van die matras oor na jou toe > (tot op die verlengstukke) en plaas die oorblywende twee los kussings op die bed se punt die verste van jou af teen die romp. Nou het jy ’n dubbelbed (132 x 182 cm) oor die lengte van die wa.

As jy groter slaapruimte nodig het, kan dit tot koningsgrootte vergroot word. Pas die twee los kussings plat in op die punt by jou. Hiervoor trek die twee verlengstukke nog verder uit oor die vloer om ’n bed van 192 x 182 cm te vorm. Nou is die koppenent op die verste punt buite die wa. Aan elke kant van die bed is ’n verstelbare liggie met sy eie skakelaar én daar is ’n 220 V- driepuntsok in die middel.

Deur die deur

Vir ’n woonwa van dié grootte staan die Extreme taamlik hoog bo die grond – ’n goeie 70 cm. Dit is deels danksy die 16”-bande. (Al sy mededingers het 15”-wiele.) Jy gebruik ’n los tweetrapleertjie om in te klim.

In die prototipe trap jy in ’n bak wat 24 cm diep is. Dit is soos dié op baie padwaens, maar met ’n buiterand. Dié ontwerp is intussen verander tot ’n oop kant na buite.

Die deurkosyn is ook verhoog van 1,21 m tot 1,4 m, maar die deurbreedte bly onveranderd op ’n gerieflike 63,5 cm. Aan die binnekant is daar links van die deur ’n nuttige smal blad van 106 x 24 cm – baie gerieflik as jy vinnig pakplek soek vir dinge soos selfone, karsleutels of brille.

Bo die blad is ’n paar skakelaars – onder meer vir die geiser en die hoofskakelaar vir die ligte – én twee USB-sokke. Onder, bo en langs die blad is daar altesame sewe kassies – meer as genoeg plek vir twee mense se klere.

Die kassies het soos baie ander boswaens seildeurtjies, maar in die Extreme word dit met klitsrits toegemaak en nié ’n ritssluiter nie. As jy van hier af stert se kant toe kyk, is daar nog vyf kassies met seildeurtjies regs van jou.

Die middelste een gee jou toegang tot van die rakke in die buitekombuis. Die ys-vrieskas op sy glyraam staan oop en dwars in die stert – jy het dus van binne én van buite af toegang. Weerskante van die yskas is nog kaste, en met die ys-vrieskas uitgegly slaan hier ook ’n blad van 58 x 62 cm plat.

Omdat die bed buitentoe uitslaan, is die binneruim enorm vir so ’n klein woonwa. Twee mense kan gerieflik voor die bed staan sonder om in mekaar se pad te wees. Sonder om die grootte van die ys-vrieskas in ag te neem is dit 185 x 87 cm groot. Dit is wel net met die dubbelbed, dus sonder die bedverlengings heeltemal uitgetrek.

Vir ’n woonwa van dié grootte staan die Extreme taamlik hoog bo die grond – ’n goeie 70 cm.

Kombuis met ’n dak

Die deur bo die linkerwiel slaan oop en boontoe om ’n dak oor die kombuis te vorm wat hoog genoeg is (192 cm) dat jy nie jou kop gaan stamp nie.

Binne-in is ses rakke van verskillende groottes ingebou met genoeg plek vir kruideniersware. Los seilsakkies kan byvoorbeeld ook hierin pas as jy van jou kombuisgoed apart wil hou.

Die 220 V-kragpunt is links bo in die groter kas en het plek vir een driepunt- en twee tweepuntproppe. Die mikrogolfoond staan in die rak regs onder. Die sponsvorms waarin die bekers, borde en poedingbakke pas, is teen die regterkant van die kas.

Deure wat ’n werkblad vorm, slaan gewoonlik na jou toe oop, en op sommige waens is daar dan selfs ’n gemonteerde gasstoof. In die Extreme trek ’n smal rak onder die kombuis uit waarin die tweeplaatgasstoof gemonteer is, met daarnaas ’n klein werkblad van 35,5 x 28 cm groot. Dié kan opslaan om ’n windskerm by die gasstoof te vorm.

Die werkblad vorm ook die deksel van die eetgerei se bêreplek. Die lig is bo in die kas en maak genoeg lig in die kombuis. Die ys-vrieskas trek by die stert uit. Op die punt is nog ’n kas waar jy ’n kastrol of twee kan bêre.

Die bokant kan jy ook as werkplek gebruik, maar die deur wat jy oopmaak om by die ys-vrieskas uit te kom is aan die glyraam vas. Die deur het ’n skarnier aan die onderkant en slaan plat vir ’n volgende blad – nóg ’n slim plan.

In die boonste deur pas ’n storttent wat uitvou...

Deur II

Die hele stert kan oopmaak. Swaai eers die raamwerk waarop die twee jerrykanne en noodwiel pas, uit die pad. Die boonste deur lig op soos ’n kappiedeur, en die onderste een swaai na regs oop. Nou het jy volle toegang tot die binnekant. Die los leertjie vir die deur word in ’n rak onder die deur gebêre. In die boonste deur pas ’n storttent wat uitvou, en links in die bakwerk is die kraan met die stortkop.