Is dit nodig dat ons Nissan se NP300 Hardbody met agterdog bejeën ná sy mislukte botstoets? Ja, dit is, maar dis darem ook nie nodig om die baba saam met die badwater uit te gooi nie.
Ons het ons argief nagegaan en die resensie gelees wat in uitgawe #3 van Weg Ry & Sleep se voorganger, Drive Out, verskyn het. Dit was van die 2002-model Nissan Hardbody, en die destydse redakteur, Geoff Dalglish, was nie net heel in sy noppies met die NP300 nie, maar veral gaande oor die “moderne veiligheidseienskappe”.
Geoff het duidelik geweet waarvan hy praat, want 17 jaar gelede was die NP300 een van die beter – en veiliger – bakkies in Suid-Afrika.