Die nuwe Patrol is verlede jaar gedurende die nasionale Covid-19-inperking aanlyn bekend gestel, wat beteken ’n klomp motorskrywers moes droëbek na foto’s op hulle rekenaar kyk pleks daarvan om agter die stuur in te skuif.
’n Mens voel jammer vir hulle, want jy kan in jou wildste drome nie die krag (én klank) van daardie 5,6 l-V8-enjin beleef op ’n YouTube-video nie. Nee, daarvoor moet jy hom ry.
Toe ons dus die kans kry, het ons die hele hand pleks van die pinkie gegryp, ’n dakrak opgesit en ’n klomp jerrykanne op die dak vasgestrop – en ’n tog Namibië toe van amper 6 000 km aangedurf waar ons op teer, grondpad én dae aaneen in die duine gery het.