Ek en my vrou, Glenda, is nuwe kampeerders wat voorheen in selfsorgeenhede en dié klas van dinge tuisgegaan het. Ons het egter ’n probleem hiermee, want die eerste nag is altyd ongemaklik omdat alles onbekend is.

Aan die einde van 2019 leen ’n vriend vir ons sy Hyundai-kampbussie en ons gaan kamp vir die naweek by Goudini-spa.

Ons het dadelik besef dis die leefstyl vir ons, maar dit was ’n geval van ons moet die regte voertuig vind teen die regte prys.

Ons wou hom kon verkoop ingeval ons nie daarvan hou nie en steeds ons geld terugkry. Dit het my ’n jaar gevat om een op te spoor.

Ons het my vriend se Hyundai oorweeg, maar dié was prysgewys bo ons vuurmaakplek.

Ons het ook na ’n Volkswagen Autovilla gekyk, maar dié het ’n Ford 3 l-enjin gehad en ek het besluit om verby te hou.

Ons sien toe dié 1996 Mitsubishi L300 Explorer. Die verkoper en sy vrou het aangestap in jare en het die laaste jaar nie gekamp nie. Hulle wou R80 000 hê en dit was so reg in ons kraal.

Omdat die Mitsubishi so lank gestaan het voor ons hom in Oktober 2020 gekoop het, het ek die bande vervang en remme laat oordoen om die padwaardigheidstoets te slaag.

Die vorige eienaar het my ook vertel dat hy selde vyfde rat gebruik het omdat hy selde vinniger as 80 km/h gery het. Nadat ek genoeg selfvertroue gekry het om vinniger te ry, het ek besef ek kán nie vyfde rat haak nie.

My motorwerktuigkundige, wat vroeër die vloeistowwe en filters vervang het, is besig om dit op die oomblik reg te maak. Hy gaan ook die cambelt vervang.

Ek het by aanlynforums aangesluit, en daar sê die manne ’n mens moet die standaardvergasser vir hierdie 2 l-enjin met ’n groter Weber-vergasser vervang.

My motorwerktuigkundige het my egter oortuig die klein verhoging in krag en effense verbetering in brandstofverbruik is nie die moeite werd nie.

Daardie geld, het hy gesê, kan ek veel eerder gebruik vir ’n nuwe ratkas en ’n behoorlike diens. Ons het die ryhuis netjies reggeruk, maar ek het ook ’n opgradering of twee oorweeg.

My grootste struweling op die oomblik is die feit dat die L300 nie by ons huis staan nie omdat hy nie onder ons afdak inpas nie.

Hy staan nog by ’n vriend van my seun, maar ek is besig om ’n plan te maak om hom hier in ons erf te kry.

Op ons ses reise sover – en een toe my seun met hom gaan kamp het – het ek die brandstofverbruik tot in die fynste besonderhede aangeteken.

Die Mitsubishi gee gemiddeld tussen 16,6 l/100 km en 17,2 l/100 km, maar ek sien op die forums daar is manne wat 12,5-13,3 l/100 km kry.

Hulle het egter die vergasser vervang. Noudat die Mitsubishi ons s’n is, sukkel ons nie meer om te slaap as ons weggaan nie, want dit is bekend en ons voel tuis, ongeag waar ons is.

Sover het ons by die Montagu-woonwapark, Yzerfontein- woonwapark, Bergrivieroord in die Paarl, Mountain Breeze buite Stellenbosch, Imhoff in Kommetjie and mees onlangs by Jamaka by Citrusdal gekamp.

My seun was Goudini-Spa toe. Dit is almal gawe plekke, maar my gunstelinge is Montagu en Yzerfontein.

Ons hou van kampplekke waar reëls streng toegepas word.

Hoe lyk jóú wiele?
 Stuur ’n e-pos na rysleep@weg.co.za en vertel ons van jou ry- en sleepding.