Sutherland is nie net bekend vir sy Sterrewag nie, maar ook omdat dit een van die koudste plekke in die land is. En dit is presies hoekom Martin Briggs in Augustus hier kom kuier het.
Buiten die kans om sneeu te ervaar was daar ook ’n ander motivering vir sy besoek. “Ons het geweet êrens in Sutherland is ’n plek met ’n klomp ou motors, amper iets soos ’n begraafplaas vir klassieke rygoed. En omdat die dorpie so klein is en hier nie veel te doen is nie, het dit ons nie lank geneem om die plek op te spoor nie.
“Toe ek ’n kind was, was daar heelwat agterwielaangedrewe Amerikaanse bakkies op ons paaie – nie net in die stad nie, maar ook op die platteland. Ons gesin het gereeld die Karoo besoek en baie van hierdie menere met hulle bielie-enjins gesien.