Ford bied deesdae ’n allemintige keuse van 33 Ranger-modelle waarvan vier ’n splinternuwe turboaangejaagde 2 l-enjin en 10 spoed- outomatiese ratkas kry. Twee van dié vier het boonop dubbele turboaanjaers wat ons eersdaags in die Ranger Raptor gaan beleef. Buiten die nuwe enjin is die reeks ook vernuwe met verbeterde vering en kosmetiese opknapping aan die binne- en buitekant. Kom ons kyk hoe die Ranger 2.0 van sy ouer stalmaats verskil.
Die nuweling se binneruim herinner sterk aan dié van ’n sedanmotor, met afwerkingsvlakke wat ’n mens nie tradisioneel met bakkies vereenselwig nie. Feitlik alles is swart, maar die instrumentepaneel blink meer as dié van sy voorgangers. En om alles verder op te kikker is daar chroompanele wat strategies geplaas is.
Ondanks die verfyning bly die ontwerp beslis manlik en die ontwerpplan bly getrou aan Ford se oorspronklike idee dat die skakelaars en skerms moet herinner aan ’n duikhorlosie. Die XLT-modelle het silwer stiksel op die leersitplekke, terwyl die Wildtrak ouder gewoonte met oranje stiksel pronk.