Drie jaar gelede het Ford se base in Detroit, VSA, besluit basta met passasiersvoertuie. Die maatskappy se heil lê in bakkies of trucks soos die Yanks dit noem, en sportnutsvoertuie.

Geen meer Focus nie. Geen meer Fiesta nie.

Die enigste Ford-passasiersmotor wat jy tans in Amerika kan koop, is die Mustang.

Dieselfde beleid geld in Suid-Afrika, waar die plaaslik vervaardigde Ranger-bakkie en die Everest-sportnuts die voertuie is waarop Ford fokus.

Pleks om ’n wye verskeidenheid passasiersvoertuie op die mark te plaas, verkoop Ford hier ’n verstommende 35 weergawes van die Ranger-bakkie, en 9 weergawes van die Everest-sportnuts.

En na aan die kruin van al die Everests staan die nuwe Sport.

Ford se eie Glam Guru-span in Silverton, Pretoria, het die bestaande enkelturbo-XLT buitelangs opgetert met ’n intimiderende swart sierrooster, “Everest” op die enjinkap, swart kantspieëls en deurknippe en swart 20 duim-allooiwielvellings.

Binnelangs is nuwe blou stiksel op die stuurwiel en leersitplekke en van die raakvlakke het ’n blou koolstofveselafwerking.

Dit klink amper asof jy ’n bofbalpet agterstevoor op jou kop en vier goue kettings om jou nek moet dra om een te mag bestuur, maar die ghoeroes ken hulle storie.

In lewende lywe is die nuwe Everest Sport ’n begeerlike voertuig.

Ek was minder gepla oor estetika en meer bekommerd oor of die Sport en daai groot bande my van Lambertsbaai aan die Weskus tot by Morganbaai aan die Ooskus (en huis toe) sou kon besorg.

Op meestal grondpaaie, wat meer as 20 bergpasse insluit, wou ek nie die een wees wat rond- of uitgesleep moet word nie.

Nie in ’n klein konvooi wat amper uitsluitlik uit wit Toyotas (Land Cruisers, Prado’s, en Hilux’e) bestaan het nie.

Ek wou nie die een wees wat nog diesel op die Toyota vs. Ford-debat vuur gooi nie!

Ná tien dae se harde, lank en ver ry, party daarvan oor moeilike terrein wat van die mooiste grondpadpasse in ons land ingesluit het, het die Ford hom weer en weer bewys as een van die gemaklikste en mees bekwame 4x4-sportnutsvoertuie in die land – dit het nie een van daai groot tekkies verkeerd gesit nie.

Veral twee goed oor die Everest Sport het my op hierdie ekspedisie (lees in ons volgende uitgawe meer hieroor) opgeval: Die gemak van die rit; en die wisselwerking tussen die enjin en die tienspoed- outomatiese ratkas.

Daar is party motors, veral bakkies en sportnutsvoertuie, waar jy ná ’n lang dag lyfseer en moeg uit die motor klim. Ek het nooit só in die Everest gevoel nie.

Dis maklik om jou sit in die elektronies verstelbare leersitplek te vind, die kajuit is luuks, jou selfoon met padmusiek en podcasts koppel sonder moeite aan Apple Carplay of Android Auto en die kruisspoedbeheer is verspotmaklik om te gebruik.

Kronkelvere en ’n unieke Watt’s- koppeling op die agterste vering mag dalk van die hardebaarde in 4x4- en sleepkringe in hulle koffie laat proes, maar dit help die Everest om grondpadkilometers te verorber – soos ’n Pac-Man wat digitale Smarties vreet.

Hoewel die enkelturbo-2.0 liter-dieselenjin nie die kragtigste of die nuutste in Ford-geledere is nie, het die Sport nooit bergop gesukkel of gehuiwer as ek op die oop pad ’n vragmotor moet verbysteek nie.

Die tienspoedratkas met sy seepgladde ratwisselinge wat heeltyd die regte rat kies, is hier die speler van die wedstryd.

Só ’n lang rit bevestig net weer hoekom dié soort voertuie gewild is in Suid-Afrika.

Die land se paaie, natuurskoon wat wag om verken te word en ons mense se liefde vir die buitelewe leen haar tot dubbelkajuitbakkies en sportnutse.

Gaan toetsbestuur die Everest as jy in die mark is vir só ’n voertuig.