book-icon Uitgawe Augustus 2018

Plan-B-wenke vir ’n beter kampervaring

akkreditasie
’n Klompie van ons lesers deel weer hulle Plan B-wenke waarmee hulle die kampervaring verbeter – sónder om ’n plaas se prys te betaal.

Dis almal nie beskore om elke klein dingetjie wat pla, by ’n beroepspersoon te laat regmaak nie, en kampeerders weet al teen dié tyd in die meeste gevalle gaan jy met ’n bietjie vindingrykheid en tegniese kennis geholpe raak. En die gereedskap in jou motorhuis is meer as genoeg om die werk tjoef-tjaf af te handel.

Perfek vir ’n paartjie

As jy jou sportnutsvoertuig omskep in jou slaapplek, het jy nie ’n tent of woonwa nodig wanneer jy gaan kamp nie, sê Deon Steyn van Wellington.

Ek en my vrou, Strelza, was op pad Namibië toe om die Etosha-wildtuin te gaan beleef. Dit was net ek en sy, en ek het besluit ons kan ewe lekker in my 2006-model Toyota Fortuner slaap as in ’n tent. Ek het toe begin om die agterkant van die Fortuner in iets soos ’n klein ryhuis te omskep. Die twee rye sitplekke het maklik genoeg uitgekom, want hulle word net aan die vloer vasgebout.

Daarna het ek die raam vir die bed gebou en plek onder gelos vir pakplek. Die ruimte van die agterkant van die voorsitplekke tot by die agterdeur is groot genoeg vir ’n matras van 2 m, wat beteken selfs hemelbesems kan gemaklik slaap.

Onder die bed is meer as genoeg pakplek vir dinge soos ons koelboks, plastiekkratte, kooktoerusting en ons twee kampstoele. Ek het uiteindelik ook ’n 3 x 3 m-tent saamgevat ingeval ons buite wou slaap. Alles het heel maklik gepas.

Weg Ry & Sleep sê
Dit is ’n voor die handliggende projek, maar dit het vir Deon-hulle gewerk en hom net R8 000 gekos.

Buite is beter

Hulle is omtrent nooit binne-in hulle 1981-model Sprite Sport nie, behalwe as hulle slaap. Daarom het Johan en Elmare van Staden van Parow besluit om hulle wa ’n bietjie beter aan te pas aan die buitekant.

Om ons eetgerei en ander toerusting byderhand te hê het ons besluit om ’n werkoppervlak en twee laaie aan te bring wat van buite af onder die een enkelbed inskuif. Ons wou nie die struktuur van die wa verswak nie, en daarom is die grootte van die deuropening beperk om tussen die bestaande houtversterkings van die sypaneel in te pas.

Dit het die diepte van die laaie tot ongeveer 280 mm beperk, maar hulle is wel elkeen ’n skaflike 600 x 600 mm groot. Die werkblad op die een laai is 500 x 600 mm en kan ook op skarniere oopvou vir ’n totale werkoppervlak van ongeveer 1 200 x 500 mm.

Tussen die laaie is ook ’n rakkie vir suiker en koffie, en ek het kragpunte aan die sykant van die een laai en klampies plus ’n 12 V-kragpunt vir ’n LED-lig by die venster bo die werkblad gemonteer. Die deurtjie slaan boontoe op sodat dit ook in die oop-posisie die bakwerk beskerm.

Die deurknippe is onder die wa gemonteer en die sluitmeganisme trek met ’n spiraalveer in posisie sodat die deur nie in die ry kan oopgaan nie. Vir veiligheid kan jy dit ook met ’n hangslotjie sluit.

Weg Ry & Sleep sê
Die Van Stadens het oorskietmateriaal uit die motorhuis gebruik en die addisionale aankope vir dinge soos skarniere en wielspore vir die laaie het maar R1 400 beloop.

 ’n Dak oor jou kop

Niemand gaan lekker kamp as die dak bo jou kop begin lek en instort nie. Dit is presies wat met sy 1984-model Gazelle 2100 gebeur het, vertel Jan Ebersohn van Stellenbosch.

Dit was tyd om iets omtrent die saak te doen.

Ek het aanvanklik eers die eerste dakplaat losgemaak, maar gou besef ek gaan al ses van hulle moet vervang. Die dakhout was voos en ek sou dit heel nuut moes oorbou.

Die dak bestaan uit ’n raamwerk van laaghout wat op ’n raamwerk van 25 x25 mm-vierkantbuisstaal vasgeskroef word. Met die houtraam klaar, het ek die 100 mm-isolasie op die raam geplaas, die dakbekleedsel styf oorgespan en met spykers vasgekap.

Ek het sommer die geleentheid gebruik om 220 V-ligte en -kragproppe te installeer waar nodig én ek het twee suigwaaiers in die dak gesit. Die nuwe dak is van veselglas. Dis 8 m lank en 3 mm dik, soos die soort wat op koeltrokke gebruik word. Nou is daar nie meer lasplekke nie, wat beteken die kans op lekke is minder. Die dak is ook meer bestand teen hael én heelwat koeler danksy die isolasie.

Weg Ry & Sleep sê
Omdat Jan dié takie self verrig het, het sy wa se nuwe dak hom net R5 000 uit die sak gejaag.

Maak oop, maak toe

Soos baie ander kampeerders gebruik hulle die voltent by uitsondering en uitsluitlik wanneer hulle lank by ’n kampterrein kuier, vertel Job Schoeman van Modimolle.

Die stoeptent is ’n baie beter opsie omdat dit jou nader aan die natuur laat voel, veral as die weer saamspeel. Maar wanneer sake onplesierig raak, is die stoeptent se sykante nie voldoende nie.

Wanneer daardie koue winterwind of onverwagse reënbui ’n mens tref, smag jy na die beskerming van ’n voltent, veral saans wanneer jy nog’n bietjie wil kuier, kaartspeel of lees. Ons het besluit ’n goue middeweg is om iets te prakseer om die voorkant van die stoeptent toe te maak en’n lekker knus kuierplekkie in die winteraande te skep.

Ons het skadunet (95%) aangeskaf, die openinge weerskante van die middelpaal gemeet en dit daarvolgens gesny. Onthou om voorsiening temaak vir lekker breë some onder en aan die kante, want dit help om die net stewiger te maak. Aan die bokant het ons die soom só breed gemaak dat ’n 25 mm-pyp maklik daardeur kan gly.

Hierdie stikwerk het ons met ’n gewone naaimasjien gedoen. Ons het toe pyp,  plastiekhegstukke en klitsrits gekry om die spul aanmekaar te sit en het in die een paneel ’n ritssluiter laat insit om ’n deur te maak. Ons het ook lussies aan die onderkant van die net vasgewerk om dit stewig met tentpenne vas te kap.

Weg Ry & Sleep sê
Die tentpanele het skaars R500 gekos. As jy ’n naaldwerker in die familie het, kan jy dit beslis ook oorweeg