Die vooruitsig van peperduur herstelkoste het Jade Dafel oortuig dis tyd om sy Mitsubishi te groet. En toe sy vrou boonop vir haar ’n nuwe kar koop, het hy geweet die tyd het aangebreek om sy droomsportnuts te soek.
Ek het voorheen ’n Pajero 3.2 DiD GLS gery, maar het besef die tyd vir verandering het aangebreek toe ek hoor hoe duur dit kos om die dieselpomp te vervang. Daar was nog nie iets fout met myne nie, maar ek is vertel dis nie ’n kwessie van óf dit gaan gebeur nie, maar eerder wanneer.
In net twee jaar het ek meer as 60 000 km opgeklok soos ek daagliks Kaapstad toe en terug gery het vir werk. My vrou was besig om vir haar ’n nuwe kar te soek, en in die proses is ek ’n heel aanvaarbare inruilwaarde vir my Pajero aangebied.