Die eerste geslag Koleos het ’n stille dood gesterf, iets waaroor niemand juis in sak en as sit nie. In daardie jare het Renault ook nie juis ’n goeie reputasie in Suid-Afrika gehad nie – veral wat betref die fluksheid van herstelwerk en die beskikbaarheid van onderdele.
Daardie kwelpunte blyk iets van die verlede te wees. Boonop het Renault ’n paar jaar gelede sy toewyding tot Suid-Afrika bevestig deur te belê in ’n plaaslike onderdeleverspreidingsentrum.
Die maatskappy se bankrekening lyk ook gesonder as tevore danksy die gewildheid van die Sandero Stepway-luikrug en die stewige Duster-sportnutsvoertuig. Bemoedig deur die jongste verkoopsyfers en versterk deur ’n span ontwerpers wat voertuie soos die jongste Megane geskep het, is dit te verstane dat die ringkoppe by Renault besluit het om die Koleos terug te bring. Hulle het selfs ’n paar onderdele by Nissan gegaps om seker te maak die nuwe Koleos word nie weer so vlak gekyk soos voorheen nie.