Wyle Pieter Pieterse het in die jare tagtig en negentig die woord “meghêftertjie” in die volksmond gelê met sy televisieprogramme en boeke oor kosmaak en reis.
Hierdie programme en boeke het ook as grepe uit sy lewensverhaal gedien en sy woonwa, resepte en diepgaande dog humoristiese vertellings oor sy alledaagse bestaan het die hoofrolle vertolk. Hy kon met min bestanddele en ’n bietjie speserye bobaas geregte optower.
Tietiesbaaikos: ’n Werfjoernaal is die eerste van hierdie boeke en bevat verskeie stories oor kosmakers, kampeerders en hengelaars. Én daar’s ’n gesonde dosis wenke oor wat om in hierdie wêreld te doen. Later het die “Ingilsman”, soos hy sy tweede vrou genoem het, bygekom en hy het in daaropvolgende boeke vele lewensketse gedeel waarin hy en sy Ingilsman selfonderhoudend in die boendoes kamp.
In sy vertellings gebruik hy deurgaans die woord meghêftertjie. Maar wie kan nog onthou wat hy eintlik met hierdie woord bedoel het? Dis een van daai woorde wat in onbruik verval het, en wanneer iemand dit deesdae gebruik, besef ek dit het vele verskillende betekenisse gekry.
Google is baie stil oor die woord en ek dink ook nie dit is in enige gesaghebbende verklarende woordeboek opgeneem nie. Deesdae gebruik mense “meghêftertjie” om enige nuwe toestel – of gadget – te beskryf en ek glo ons hedendaagse manier van kamp word deur sulke “meghêfters” oorheers. Die slimfoon – iets wat in Pieter se tyd nie bestaan het nie – is een.
G’n mens kan deesdae sonder een kamp nie, want dit is ’n foon, flits en veldgids in een. Wat moderne woonwa-ontwerp betref, is daar vir my baie min “meghêfters” wat regtig die kampervaring verbeter.
LED-tegnologie en ’n groter afhanklikheid van elektriese toestelle is redelik ingeburger, maar gelukkig is nuwerwetse yskaste meer omgewingsvriendelik en gebruik minder elektrisiteit. Redelik onlangs het induksieplate die mark betree en die heel nuutste Jurgens-woonwaens het glad nie meer gasstowe in nie.
Hoekom het dit so lank gevat om tot die besef te kom dat min mense binne-in hulle woonwa wil kosmaak? Toe die buitekombuis sowat sewe jaar gelede in die groter modelle van die Sprite-reeks aangebring is, het dit aanvanklik min aftrek gekry.
Dié prentjie het intussen handomkeer verander en daar is deesdae meer as ’n hand vol werkwinkels wat ’n buitekombuis vir omtrent enige woonwa sal bou.
Wees tog versigtig wanneer jy dit oorweeg. Wanneer jy ’n gat in ’n woonwapaneel sny, kan die struktuur verswak. Ek het op ’n keer my ’n vriend hierteen gewaarsku toe hy vir sy Sunway ’n uitskuifslaapkamer wou bou.
Vroeg in Mei het ek ’n trippelas-Pzazz by Bosveld-oase beloer wat met twee dubbeldeuryskaste aan die buitekant spog.
Hier en daar het ek mikro-yskassies en -vrieskassies by eksentrieke kleinhandelaars raakgesien wat volgens my met groot welslae in kleiner woonwaens ingebou kan word. Lugreëling is beslis nie ’n meghêfter nie; ek glo dis eerder ’n statussimbool en ’n mors van elektrisiteit.
Gaan soek Pieter se boeke en DVD’s van sy televisiereekse soos Boude en blaaie, Swerwerskos en Boskos by kerkbasaars en pandjieswinkels. In die boek Dasseneiland gee hy raad aan voornemende duikers, vissermanne, en ook seekosmakers.
Dis alles lekker toepaslike lees- en kykstof wanneer jy kamp én jy kan dit vir die nageslag bewaar. Dit bevat ook gawe kosmaakwenke én hy vertel graag van sy interaksie met die natuur.
Wat my sal bybly, is dat hy met min “meghêfters” – ’n potjie Fondor en ’n mankoliekerige drombraaier – ’n koningsbestaan gevoer het. Daar is niks fout met ’n meer tegnologiesgedrewe kampwyse nie, maar dit moet nie ons kampervaring oorheers nie