Deel

Sandry – moenie jou eie graf grawe nie

akkreditasie
Uit die argief: Sandrywerk is ’n belangrike aspek van veldry en kan baie pret wees, solank jy dit reg doen. Hier is agt belangrike dinge om te onthou.

Om in diep sand so veel as moontlik te probeer spin, is eenvoudig nie hoe jy dit doen nie. 

1. Bekyk die sand

Verskillende soorte sand vereis verskillende voorbereiding en bestuurstegnieke. Kyk dus die terrein goed deur voordat jy ry.

Klam sand is digter as droë sand en is makliker om op te ry, maar kan geniepsige nat kolle of dryfsand versteek. Fyn sand, wat jy gewoonlik op panne en soutvlaktes aantref, versteek dalk sagte, diep modder.

2. Blaas hom af

Papper bande het ’n langer voetspoor wat jou voertuig as’t ware oor die sand laat “dryf”.

Jy kan ’n band afblaas tot omtrent 50% van sy normale banddruk, maar om veiligheidshalwe nie laer as 0,8 bar nie. As die banddruk te laag is, kan die band van die wielvelling afklim wanneer jy skerp draai.

3. Kyk op jou horlosie

Hitte droog die sand uit, wat veroorsaak dat dit makliker uitsit. As jy vanaf die (koel) oggend tot in die (warm) laatmiddag in die sand gaan ry, kontroleer jou banddruk gereeld en pas dit aan.

4. Mik hoog

Wanneer jy wegtrek, gebruik die tweede of derde rat, laestrek. Dit verskaf genoeg wringkrag, maar verminder die kans dat jou wiele sal tol.

5. Trap in jou spoor

Bly so ver as moontlik in bestaande spore; die sand hier het reeds verdig, en dit verseker dat die omgewing so min as moontlik skade kry.

Veral in fyn sand is dit belangrik om in bestaande spore te bly om te sien of iemand voor jou ’n modderkol getref het. Moenie kortpad vat deur plantegroei of probeer om bo-op die duin langs jou pel te parkeer nie.

Dit beskadig ook die omgewing.

6. Hou koers

Moenie met die stuurwiel “baklei” nie en probeer bewus bly van in watter rigting jou voorwiele wys. Moenie die stuurwiel hard heen en weer pluk nie, maar probeer om die voorwiele te hou in die rigting waarin jy ry.

Moenie met die stuurwiel “baklei” nie en probeer bewus bly van in watter rigting jou voorwiele wys...

Maak voortdurend seker jou voorwiele draai nie onwetend dwars nie, veral in diep spore, omdat die voertuig dan skielik uit die spoor kan “klim”. Moet nooit in ander spore jaag nie, want jou voertuig kan onverwags in ’n ander rigting gedwing word en rol, veral as daar swaar vrag op die dak is.

7. Stop slim

Jy het momentum nodig om in die sand te ry, bly dus aan die beweeg. As jy egter móét stop, moenie rem trap nie; laat die voertuig net vanself tot stilstand kom.

As jy rem trap, gaan daar ’n sandwal voor jou wiele opbou, wat dit moeiliker gaan maak om weer weg te trek. As jy op fyn sand of ’n pan stop, kyk gereeld na die oppervlak om die wiele omdat dit kan breek onder die gewig van jou voertuig.

As jy weer wegtrek, ry eers twee of drie meter agteruit (totdat die voorwiele oor die rif is wat deur die agterwiele gemaak is). Nou kan jy wegtrek op die spore wat jy pas self verdig het. Probeer ook altyd so ver as moontlik op ’n afdraand stilhou.

Dan kan jy swaartekrag gebruik om weer aan die gang te kom. Dis baie moeiliker om weer teen ’n opdraande aan die gang te kom.

8. Bly kalm

As jy vassit, moenie die bande laat tol nie. Dit sal dit net moeiliker maak om weer uit te kom.

Stop dadelik en verwyder alle sand voor die wiele sodat daar ’n effense helling is waarmee jy uit die gat kan kom. Gebruik ook goed soos lere, matte of selfs takke onder die wiele om die vastrap te verbeter. Ry nou in trurat op jou eie spoor totdat ’n ferm oppervlak gevorm is, en probeer weer wegtrek.