Ek het ‘Ant’ sowat ’n jaar gelede gekoop toe ek ’n oom van Noordhoek raakgeloop het wat met die projek begin het, maar nie die laaste 40% van die werk kon voltooi nie.
As die eienaar van Wes-Kaap-woonwaens het ek heelwat kennis, en ek het besluit om die klein waentjie oor te neem en die res van die werk te doen. Dis moeilik om die wa se stilering te beskryf omdat dit so uniek is. Dit lyk kompleet soos ’n perdekar uit die era voor die koms van die moderne outomobiel.
Die ding wat my oog getref het, is hoe baie hy na ’n houtwa lyk – dit is omdat daar heelwat geel- en swarthout in sy konstruksie gebruik is. Buitelangs het ek hom net geverf, nuwe wiele opgesit en ’n pasgemaakte oopvoutent teen sy staaldak vasgemaak. Die twee kiste – op die A-raam en op die dak – is heeltemal funksioneel en die voorste een is ouer as 150 jaar. Dit is waar ek die ys-vrieskas en mikrogolfoond bêre.