Volkswagen se eerste moderne sportnuts het die Touareg geheet, genoem na die Tuareg-stam van die Sahara. Daarna het gevolg die Tiguan, wat ’n samevoeging is van “tiger” en “iguana”. En nee, ons steek nie die draak nie – die Duitse motortydskrif Auto Bild het ’n kompetisie gehad waarin lesers die naam kon kies van Volkswagen se volgende ryding.
En ons het gedink die Duitsers het nie ’n humorsin nie...
Die maatskappy het dadelik ’n patroon raakgesien en besluit om voortaan die name van al sy sportnutse met ’n T te begin. Volgende aan die beurt was die T-Cross, en nou het die T-Roc sy verskyning gemaak. (In ander lande is daar ook die Teramont, Amerika se grootste Volksie, en die Tayron, wat net in China te koop is.)