Bakkies en sy vrou, Petro, is geen groentjies as dit kom by kamp nie. Hulle het al ’n paar keer saam met die kinders in ’n tent gekamp by die bootklub van die Ebenezerdam naby Tzaneen.

Bakkies is ’n gekwalifiseerde elektrisiën en het besluit dit is tyd vir ’n boswa.

Hy het sy soektog begin deur advertensies vir ’n boswa dop te hou. Maar omdat hy ’n paar uur se ry van Gauteng af woon, kon hy nie een van die beskikbare waens bekom nie omdat almal reeds verkoop was teen die tyd dat hy kon gaan kyk. Hy het dus besluit die tyd het aangebreek om self een te bou.

Die vraag was net of hy ’n wa van nuuts af moes bou en of hy ’n bestaande een koop en hom dan ombou. Laasgenoemde opsie het die loot gewen. Bakkies vertel hoe die proses verloop het.

Ek het op ’n nuwe oopbakwaentjie van Bon Voyage Trailers besluit omdat dit aan my vereistes voldoen. Die vervaardiger is in Vereeniging en die waentjie het R13 000 gekos.

My oorspronklike plan was om ’n daktent bo-op die waentjie te prakseer, maar ons het nie daarvoor kans gesien om met ’n leertjie tot in die slaapplek te klim nie – boonop een wat omtrent regop staan. Die oplossing was om ’n losstaande tent te koop en die wa só in te rig dat dit deel van die tent word.

Volgende moes ek dus ’n tent soek. Ek het op die gewilde koepeltentkombinasie besluit met ’n vertrek langsaan, en Tentco se Senior Deluxe Combo was net reg. Hy is 7,6 m lank, 3 m breed en 2,3 m hoog wanneer hy opgeslaan is.

Ek sal die waentjie in die lengte langs een van die deure trek en dan op dié manier toegang tot die wa kry. In sy sak met die pale trek die tent die skaal op 73 kg en hy kos ’n raps meer as die waentjie: R15 078.

Die gedagte was nou om die kante van die waentjie in te rig vir ’n ys-vrieskas, ’n kombuis (in die deel wat in die tent staan) en ’n glyraam waarop ’n ammokis of twee sal pas. Hy kry dan ’n drarak bo-op vir die los tent, en ’n neuskas op die A-raam.

Van die een na die ander: Wie sou nou dink dat ’n eenvoudige sleepwaentjie sy lyf kampwaentjie kan hou? Die bestaande onderstel en die basiese raamwerk van die romp was die wegspringplek vir Bakkies se kampwa.

Die eerste verandering was om die kante saam met die modderskerms van die waentjie weg te sny. Hier het ek my eie staalraamwerk ingebou vir die laaie en kaste wat ek beplan het. Ek het 25 x 25 mm- en 40 x 40 mm-vierkantpyp gebruik asook 40 x 40 mm-hoekyster.

Ek het besluit om die bestaande deur te behou wat agter na links oopswaai. Maar dit word dan die vasboutplek vir die noodwiel wat op die A-raam gestaan het. Die neuskas het ek vir R1 480 by Pioneer Plastics in Pretoria gekoop.

Agter die neuskas het ek plek gemaak vir ’n regop kas. Dit is vir items soos my braairooster en opslaanwasgoeddraad.

Ná al die sweiswerk het ek die rou staal ’n onderlaag gegee. Al die panele sou dan met aluminiumplaat oorgetrek word. Dit sluit ook in die riffelplaat oor die agterdeur en vir die regop kas agter die neuskas. Maar eers het ek die raamwerk met ’n bolaag gespuitverf.

Die plaat vir die boonste deel, wat onder die drarak gaan wees, is dikker as die gewone plaat en ek moes die 2 mm- plaat spesiaal bestel. Die aluminium is beskikbaar in ’n plaatgrootte van 1 200 x 2 400 mm, maar dit is net-net te smal omdat die waentjie 1 300 mm breed is. Ek wou nie plaat las nie en moes dus na die groter (en duurder) plaat – 1 500 x 3 000 mm kyk. Al die plaat het uiteindelik uitgewerk op R4 353.

Die hele storie het nou weer ’n bolaag gekry – weer spuitverf – en die verf het my altesame R1 439 uit die sak gejaag. Ek het die neuskas en die twee hoekstutte agter vasgesit. Die hoekstutte is langs die agterligte en is bloot voete wat vas is aan ’n ronde paal wat jy laat sak; dit is dus nie van die domkragsoort nie. Nou was dit tyd vir die drarak.

Ek het merantiplankies met ’n dikte van 10 x 32 mm in die lengte van die wa vasgesit, bo-op die raamwerk wat ek daarvoor gebou het. Tussen die plankies het ek openinge van ongeveer 30 mm gelos. Die kas vir die kombuis moes bo die linkermodderskerm kom. Ek het die kombuis se rakkies ook van hout gemaak. Al die hout het uitgewerk op R1 664.

Die kas links voor en aan die ander kant bo die regterwiel het elk ’n glyraam gekry. Die regterkantste een (R579) dra die ammokiste, en die ander een (R1 694) die ys-vrieskas. Hierdie een is uiteraard ook langer en kan ’n swaarder vrag dra. Ons het wel besluit om meer te bestee op die ys-vrieskas en het R9 000 vir ’n 85 l-SnoMaster betaal. Die tweeplaatgasstoof staan op dieselfde glyraam as die ys-vrieskas, op die punt. Die stoof is ’n Cadac 2 Cook 2 Pro en het R1 200 gekos.

Die kragboks – ’n eenheid wat ’n mens net so koop teen R580 – pas in die kas hiernaas. Dié het plek vir drie gewone proppe en het ook stroombrekers. Aan die binnekant van die agterdeur het ek plek gemaak vir my graaf. Die jerrykanhouer het ek by die agterhoek regs vasgesit, en ’n gereedskapkas by die voorste hoek met sy eie slot.

Laastens het ek ’n sak van skeurvrye seil gemaak. Dis 1,3 x 2 m groot en 40 cm diep, en pas dan bo-op die drarak. Dit is vir die los goed wat moet saam, soos die tent en kampstoele.

Die oorspronklike waentjie se brutovoertuigmassa was 750 kg en die tarragewig 320 kg. Tans is sy droë gewig 410 kg, wat beteken die waentjie is nou 90 kg swaarder as voorheen. Dit gee my dus steeds 340 kg vir alles wat ek wil inpak – die los tent en kruideniersware ingesluit. Die as is gesertifiseer vir 900 kg.

Aanvanklik het ek net naweke aan my wa gewerk, maar toe kom die grendeltyd. Ek het reeds al die materiale bymekaar gehad en het dus nou genoeg tyd gehad om die wa klaar te maak.

Nou lê nog net die papierwerk* voor om die veranderinge by die owerheid aan te meld.

*Die papierwerk waarna Bakkies verwys, is om sy ombouing by die nasionale reguleerder vir verpligte verandering (NRCS) aan te meld, sê die padverkeerswetkenner Alta Swanepoel. Vir die ombouing moet jy dus aansoek doen met die magtigingsbrief (“Letter of Authority”) wat jy invul en inhandig.

Saam met die aansoek moet jy ook die volgende inhandig: ’n afskrif van jou ID, ’n beëdigde verklaring van die polisie wat onder meer die onderstelnommer en ’n beskrywing van die ombouing insluit, ’n klaringsertifikaat, ’n padwaardigheid- en weegbrugsertifikaat, minstens drie foto’s wat die sy- en agterkant wys, én natuurlik ’n bewys van die vooruitbetaling (R1 800) vir jou aansoek. Hierdie proses kan tot 120 kalenderdae duur.

Buite dog binne. Die waentjie kry sy staan in een van die tent se deure. Sy kombuiskant wys na binne, wat beteken jy het jou eie onderdak-kombuis.
Inkopielys

Sleepwa: R13 000

Tent: R15 078

Staal: R830

Aluminium: R4 353

Verf: R1 439

Hout: R1 664

Neuskas: R1 480

Glyrame: R2 273

Ys-vrieskas: R9 000

Gasstoof: R1 200

Jerrykanhouer: R573

Los goed soos die lisensieskyfhouer, weerkaatsers, skarniere en slotte: R1 554

Ysterware soos sweisstawe, hoekslyper- skywe en skuurpapier: R1 730

Kragboks: R580

Totaal: R54 754

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook