
Is Kia ’n afkorting vir iets; wie besit deesdae Land Rover; en het Hitler regtig ’n Volksie bestuur? Ons beantwoord dié en ander vrae. Vervaardigers soos Lamborghini en Haval het ons uitgelaat.
Audi
Audi het ’n effens ingewikkelde geskiedenis. Die Duitse ingenieur August Horch het twee motormaatskappye gestig: Horch (in 1904) en Audiwerke (1910), en in 1932 het Horch se maatskappye met twee ander voertuigvervaardigers, DKW en Wanderer, saamgesmelt om Auto Union te vorm. Auto Union is in 1960 deur Volkswagen gekoop en die Audi-handelsmerk is in 1962 op die been gebring.
Horch beteken in Duits “luister”, en die Latynse verwerking daarvan is “audi”. Die vier ringe in Audi se kenteken simboliseer die vier stigtersmaatskappye en hulle slagspreuk, Vorsprung durch Technik word vertaal as “voorsprong deur die tegnologie”.
BMW
Net soos Audi het BMW, oftewel die Bayerische Motoren Werke, sy ontstaan te danke aan die samesmelting van drie ander vervaardigers: Rapp Motoren Werke, Bayerische Flugzeug Werke en Fahrzeugfabrik Eisenach – almal enjinmakers.
Die maatskappy het aanvanklik vliegtuie vervaardig waarvan sommige in die Eerste Wêreldoorlog gebruik is. Ingevolge die Verdrag van Versailles moes BMW ná die oorlog sy vliegtuigproduksie staak en hulle mog slegs huishoudelike atikels vervaardig. BMW se eerste motorfiets het in 1927 uit die fabriek gerol. BMW besit vandag handelsmerke soos Rolls-Royce en Mini.
Chevrolet
In 1900 het die Switserse renjaer Louis Chevrolet hom in Noord-Amerika gaan vestig. Ná ’n ontmoeting met die destydse Buick-baas, Wiliam C. Durant, het Chevrolet sy eie motormaatskappy in 1911 in Detroit gestig. Louis Chevrolet en Durant was nie goeie sakevennote nie, en in 1916 het Chevrolet sy aandele verkoop en teruggekeer na die renbaan. Teen dié tyd was Durant die eienaar van General Motors (GM) en hy het die maatskappye gekonsolideer.
Van die os op die jas: Onthou jy die Chevy “Call me Kelly” Nomad wat tussen 1973 en 1982 in Suid-Afrika deur GM vervaardig is? Hoewel hy slegs met die agterwiele aangedryf is, het ouens hom feitlik enige plek probeer ry.
Ford
Henry Ford het geen bekendstelling nodig nie. Dié Amerikaner het die maatskappy in 1902 op die been gebring toe hy 39 jaar oud was en is verantwoordelik vir die eerste massaproduksievoertuig, die Model T, wat in 1908 uit die aanleg gery het.
Ford besit ook die Amerikaanse handelsmerk Lincoln. Henry Ford se nasate het slegs 2%-eienaarskap in die maatskapp. Die Ford-familie het egter 40%-stemkrag én finale seggenskap oor die maatskappy se doen en late.
Honda
Soichiro Honda was van kleins af gek oor motors en het as vyftienjarige by die Art Shokai-motorhawe gewerk as junior werktuigkundige. ’n Vriend het vir hom geld geleen en die 22-jarige Soichiro het in 1939 ’n werkswinkel oopgemaak waar hy onderdele vir Toyotas gemaak het.
Soichiro se werkswinkel het saam met sy tegniese kennis gegroei, en in 1945 het die eerste enjinondersteunde trapfiets (met ’n Honda-enjin) uit die werkswinkel gerol. Teen 1963 was Honda die grootste motorfietsvervaardiger ter wêreld én hulle het begin motors bou. In 1992 is Honda byna deur Mitsubishi oorgeneem, maar hulle kon die poging tot ’n vyandige oorname afweer.
Hyundai
Soos baie ander motorvervaardigers in Asië dateer Hyundai se oorsprong uit die jare kort ná die Tweede Wêreldoorlog. Die sakeman Chung Ju-Yung het die ingenieurswese-en-konstruksiemaatskappy Hyundai in 1947 gestig, en sy eerste motor was die Cortina in 1968 wat met die toestemming van Ford gebou is.
Toe Hyundai besluit om sy eie voertuig te bou het hy George Turnbull, voorheen bestuurder by British Leyland, genader. Turnbull het hom by Hyundai aangesluit en vyf van sy beste ingenieurs saamgeneem Korea toe.
In 1975 was die Hyundai Pony Suid-Korea se eerste voertuig, hoewel die enjin deur Mitsubishi verskaf is.
Hyundai besit ’n beherende aandeel in die Kia-motormaatskappy.
Isuzu
In 1922 was Isuzu die eerste maatskappy wat ’n Japannees-vervaardigde passasiersmotor in Japan gebou het. Dit was ’n namaaksel van ’n Wolseley A9, onder lisensie van dié Britse vervaardiger.
In daardie jare was Isuzu se naam die Ishikawajima-motorwerke, en toe hulle met DAT-motors (’n voorganger van Nissan) saamsmelt, is die produkte bemark onder die handelsmerk Isuzu – die naam van die nabye Isuzurivier.
In die volgende paar dekades het Isuzu vennootskappe aangegaan met Subaru, Mitsubishi en Nissan, maar die blywendste vennootskap was met General Motors.
Jeep
Toe dit duidelik word dat Amerika by die Tweede Wêreldoorlog betrokke sou raak, het die weermag ’n ontwerp vir ’n kompakte veldryer deur die American Bantam-motormaatskappy aanvaar.
Ongelukkig was Bantam te klein om in die weermag se behoeftes te voorsien en die ontwerp is aan die Willys-Overland-motormaatskappy gegee om groot getalle Jeeps uit te stoot.
Sedertdien het die handelsmerk vele kere van hande verwissel, van Kaiser-motors (1953), AMC (1970), Daimler Chrysler (1998), tot vandag Fiat Chrysler wat op sy beurt deur die skatryk Italiaanse Agnelli-familie besit word.
Die Agnellis besit onder meer ook Alfa Romeo, Lancia, Dodge, Ferrari, Maserati, Ram en die Juventus-sokkerklub.
Kia
Kia is in 1944 gestig as die Kyungsung Precision Industry wat Korea se eerste trapfiets, die Samchully, vervaardig het. In 1952 het die maatskappy sy naam verander na Kia Industries, wat nagemaakte Honda-motorfietse en Mazda-bakkies onder lisensie gebou het.
Kia is ‘n samestelling van ki wat “kom uit” in Koreaans beteken en a vir “Asië”.
Hoewel Ford aandele in Kia besit het, het die maatskappy in 1997 bankrot gespeel. Hyundai het ’n 51%- beherende aandeel in Kia gekoop en Ford uitgeskop. Vandag besit Hyundai 33% van Kia.
Land Rover
Die eerste Land Rover is in 1947 deur Maurice Wilks ontwerp vir die Rover-motormaatskappy in Brittanje. Die prototipe was gegrond op ’n Amerikaanse Willys Jeep, en hy is in 1948 by die Amsterdamse motorskou bekend gestel.
Die Land Rover-handelsmerk sou herhaaldelik van eienaarskap verander. Die Rover-Triumph-groep het dit in 1967 aan British Leyland verkoop waarna dit in 1988 vir ’n kort rukkie deur die Britse lugmag besit is (toe Leyland bankrot verklaar is).
Daarna is dit deur BMW (1994), Ford (2006) en laastens Tata (2008) gekoop.
Mazda
Mazda het in 1920 begin as die Toyo Cork Kogyo-maatskappy wat gereedskap vervaardig het. Hulle eerste voertuig was die Mazda-Go in 1931.
Al Toyo Cork Kogyo se voertuie is Mazda genoem en hulle is oorspronklik deur Mitsubishi bemark en verkoop.
Tussen 1974 en 2015 was daar sterk bande met Ford, wat ’n 33%-aandeel in Mazda besit het. Hierdie verhouding het egter deur die jare verswak en Ford het sy laaste 2% in 2015 verkoop.
Mazda het in dieselfde jaar ’n ooreenkoms met Toyota gesluit ingevolge waarvan Mazda dieselenjins vir Toyota sal bou in ruil vir hulle waterstofseltegnologie.
Mitsubishi
Mitsubishi het in 1870 ontstaan toe die stigter, Yataro Iwasaki, ’n skeepsvaartmaatskappy op die been gebring het. Dit was Yataro se kleinseun Koyata wat in 1916 besluit het om motors te bou.
Mitsubishi se eerste kar, die Model A (gegrond op die Fiat Tipo 3), het in 1917 die lig gesien. Mitsubishi se betrokkenheid in die Tweede Wêreldoorlog het hulle duur te staan gekom en die Geallieerdes het ná die oorlog aangedring dat die maatskappy tot niet gemaak word.
Die verbod is in 1952 by die San Fransiscovredesverdrag gelig en ’n nuwe Mitsubishi is gestig – sónder die Iwasaki-familie aan die stuur van sake.
In 2016 het Nissan ’n beherende aandeel in Mitsubishimotors gekoop vir $2 miljard.
Mercedes-Benz
Die eerste Benz-voertuig was ook die wêreld se eerste praktiese motor. Carl Benz, die uitvinder, het hom gebou met geld wat sy vrou, Bertha, vir hom geleen het. In 1901 het die ingenieur Wilhelm Maybach aan Carl se tjorretjie gewerk om hom mooier te maak, die bemarker Emil Jellinek het hom ’n naam gegee (Mercedes, ’n niggie van Emil) en Gotlieb Daimler het hom bemark en verkoop. En só het die Mercedes-Benz tot stand gekom.
Daimler-Benz AG, die houermaatskappy, het in 1998 met Chrysler saamgesmelt, maar dit was nie ’n gelukkige verhouding nie. In 2007 is Chrysler aan die Agnelli-familie verkoop en die maatskappy heet nou slegs Daimler AG.
Nissan
Nissan was ’n piepklein nywerheid wat ingestem het om Datsuns (voorheen bekend as Dat Car) namens die Tobata Casting Co. te bou. Die kontrak is ’n paar maande voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog gesluit. Ná die oorlog het die Geallieerdes hulle 10 jaar lank in Nissan se fabriek tuisgemaak.
In daardie 10 jaar het Toyota Nissan verbygesteek en Japan se grootste motormaatskappy geword.
Renault
Dié maatskappy is in 1899 deur drie broers Louis, Marcel en Fernand Renault gestig. Hulle het nie begin as perdekar-, vliegtuig- of weefmasjienmakers nie.
Hulle is sommer reguit motors toe. Die eerste voertuig was ’n 276 cc-dingetjie wat vir kort tydperke ’n maksimumspoed van 32 km/h kon handhaaf.
Die maatskappy is die enigste Franse motorvervaardiger wat nog in private besit is. Renault was wel deel van tientalle alliansies deur die jare, waaronder almal se gunstelingbedmaat, General Motors, asook Volvo, Nissan en Mercedes-Benz.
Renault het die beherende aandeel in die Roemeense motorvervaardiger Dacia.
Subaru
Subaru het in 1954 ontstaan uit die vliegtuigvervaardiger en huidige moedermaatskappy Fuji Heavy Industries. Die naam is Japannees vir die Sewe Susters-sterrebeeld (oftewel die Plejades) in die hemelruim.
Nissan het ’n 20%-aandeel in 1968 gekoop, maar het dit weer in 1999 aan General Motors verkoop. Toe General Motors in 2005 klei trap, het hulle Subaru en die Sweedse handelsmerk Saab aan Toyota verkoop.
Suzuki
Suzuki se eerste masjien was ’n weefmasjien, en 30 jaar lank was dit oorgenoeg vir dié vervaardiger. Met die koms van meganisasie het Suzuki uiteindelik sy eerste piepklein karretjie in 1937 gebou. Toe die oorlog uitbreek, het Suzuki teruggekeer na weefmasjiene en is dus nie deur die Geallieerdes gestraf toe die stof gaan lê het nie.
Ná die oorlog het Suzuki enjinondersteunde trapfietse vervaardig en in 1955 het hulle die ougat Suzuki Suzulight gebou.
Toyota
Nes Suzuki het Toyota ook begin met weefmasjiene, maar dié maatskappy het in 1933 al oorgeskakel na motors. Die eerste “Toyota” was eintlik ’n Toyoda, maar die D is later vervang met ’n T omdat dit beter geklink het.
Die eerste Toyotas het in 1961 na Suid-Afrika gekom as Toyopet Stouts – later die Toyota Hilux. In 1989 is die Lexus-handelsmerk gestig om met duur Duitse motors mee te ding.
Die Toyota-groep besit vandag Lexus, Hino en Daihatsu.
Volkswagen
Heelwat voertuigvervaardigers het hulle bestaan te danke aan die Tweede Wêreldoorlog, maar geeneen méér as Volkswagen nie.
Adolf Hitler het in 1937 die staatsbeheerde Gesellschaft zur Vorbereitung des Deutschen Volkswagens mbH laat stig. Hitler het vir Ferdinand Porsche gevra om ’n ryding vir Jan Alleman te ontwerp – ons sou dit later ken as die Kewer.
Ná die oorlog was die fabriek feitlik vernietig, maar danksy die Britse weermag is die aanleg herstel en Volkswagen is uit die puin gered.
Volvo
Die handelsmerk Volvo, Latyns vir “Ek rol”, is in 1915 deur die SKF-motormaatskappy geregistreer as ’n wiellaervervaardiger, maar die handelsmerk is nooit daarvoor gebruik nie. Toe SKF in 1927 luukse voertuie begin bou, het hulle die Volvo-naam afgestof vir die nuwe reeks motors.
Volvo was van meet af aan ondergefinansier en die oorspronklike direkteur het geweet hy moet sterker motorvervaardigers betrek. Volvo het in 1973 met Saab probeer saamsmelt en in 1993 met Renault, maar albei kere is die transaksie deur beleggers gefnuik. In 1999 is Volvo aan Ford verkoop.
Ford kon nie ’n sukses van Volvo maak nie en in 2010 is dit aan die Chinese maatskappy Geely verkoop vir $1,3 miljard.
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #6 (Januarie 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.