Deel

Wil jy jou sagte 4x4 lig? Dink weer!

akkreditasie
Dink mooi voordat jy jou sagte veldryer se vering en ryhoogte verander. Dit doen dalk meer kwaad as goed, sê Mic van Zyl.

Ons het al ’n paar versoeke gekry vir vering-opgraderings van “sagte veldryers”. Maar dis selde ’n goeie idee. Laat ek verduidelik waarom. Vir die doel van hierdie artikel, laat ons sagte veldryers definieer as voertuie wat vierwielaangedrewe is, maar wat nie laestrek en ’n ewenaarslot het nie. ’n “Ware” 4x4 het tipies laestrekratte en een of meer ewenaarslotte.

Veringstelsels versus ryhoogte 

Sagte veldryers is nie vir ernstige 4x4-ryery ontwerp nie. Hulle het gewoonlik ’n effens beter grondvryhoogte as gewone motors, en kan daarom taamlik maklik op slegte paaie ry. 

Hulle het gewoonlik onafhanklike vering op altwee asse, wat vir ’n gemakliker rit sorg as ’n voertuig met bladvere. Ongelukkig het hulle weer minder wielartikulasie – die mate waarin die vering ’n wiel van sy hoogste tot laagste punt kan laat beweeg – of letterlik wielbeweging. En hoewel sagte veldryers redelik goeie grondvryhoogte het, is dit nog nie soveel soos ’n “regte” 4x4 nie.

Een van die talle redes waarom ons die hoogte van 4x4’s verbeter is om wielartikulasie te verbeter. En soms wil die bestuurders van sagte veldryers dieselfde doen. Beter wielartikulasie beteken dat jou wiele op die grond bly as jy erge asknopers teëkom – en dit beteken weer beter vastrapvermoë, of traksie, in daardie situasie. 

Mense vergeet egter dis net van toepassing op voertuie met vaste aste. Want met onafhanklike veringstelsels, soos dié wat jy in sagte veldryers kry, verbeter jy nie regtig jou wielartikulasie deur die ryhoogte te verbeter nie. Om die waarheid te sê, in sommige gevalle sal die wielartikulasie selfs minder word as jy die ryhoogte lig. En dit sal natuurlik beteken dat jy minder traksie oor ongelyke terrein sal hê. 

Die nadeel van die voordeel

Nog ’n rede om die ryhoogte van ’n 4x4 te verbeter is om meer grondvryhoogte te hê wanneer jy oor ’n klipperige terrein ry. Dit klink na ’n goeie idee, nè?

Wel, nie altyd nie. Dit kan byvoorbeeld daartoe lei dat jou skokbrekers vinniger tot hulle maksimum punte kan verleng – omdat jou voertuig nou hoër is, is jou vering reeds verder “gerek” as normaal. Jou wiel sal dus gouer in die lug bly hang as jy oor rowwe, ongelyke terrein ry. Jou voertuig se dryfas en half-asse moet nou ook teen skerper hoeke werk as waarvoor hulle ontwerp is. Dit kan veroorsaak dat die asse ingee, selfs onder normale ry-omstandighede.

Krap nét as dit jeuk

Sagte veldryers is uitstekende voertuie. Hulle is veelsydig en gerieflik op die grondpaaie waarvoor hulle ontwerp is. Maar om jou sagte veldryer in ’n 4x4 te probeer omskep sodat dit moeiliker terrein kan baasraak, gaan waarskynlik vir jou probleme in die toekoms skep. 

En eerlikwaar, deesdae het die sagte veldryers sulke tegnologies gevorderde vierwielstelsels (wat werk wanneer dit nodig is), sensors en vastraphulpmiddels, dat ek hulle al plekke sien uitklim het waar selfs sommige ouer generasie 4x4’s sukkel.

So hoekom wil jy gaan krap waar dit nie jeuk nie?