1. Die Kaapstad-Namibië-roete 

Hierdie pad is die beste manier om Namibië per motor te bereik, maar dis nie nodig om net deur die streek te woerts-warts nie. Daar is verskeie kosbare dorpies langs die pad wat elkeen sy eie storie het om te vertel. Die N7-hoofweg strek al die pad vanaf Kaapstad deur die Noord-Kaap tot in die hart van Namibië. As jy die Wes-Kaap oorsteek na die Noord-Kaap, sal jy dorpe teëkom wat die provinsie se Nama-kultuur vasvang. Hou stil op Garies, Kamieskroon, Springbok, Okiep, Steinkopf en Vioolsdrift en ontmoet die mense. As jy in die lente gaan, gaan jy getrakteer word op die mooiste blomme-kaleidoskoop van die Namakwa-blomseisoen. 

’n Hoogtepunt ’n Riviervaart op die Oranjerivier is iets wat jy moet beleef. Dryf rustig af met die stroom en bekyk die wêreld langs die oewer. 

2. Namakwa-kusroete 

Hierdie roete sluit juwele in soos Garies, Kamieskroon, Hondeklipbaai, Koiingnaas en Kleinzee. Daar is duisende avonture en plekke vir kuier, soos die Namakwa- Nasionale Park, natuurreservate en van die mees verafgeleë stap- en 4x4-roetes denkbaar beskikbaar. Of bestudeer die vetplantryk saam met ’n botaniese gids, stap die Klipkoppie in Springbok vir ’n bietjie Anglo-Boereoorlog-geskiedenis, en verken die talle skeepswrakke langs die kuslyn. Die gebied is verstommend met sy asemrowende Atlantiese Oseaan (waar jy dolfyne en walvisse kan sien), pragtige panoramas en endemiese veldlewe.  

’n Hoogtepunt Slenterstap deur die Namakwa- Nasionale Park. In September sal jy ’n kleurontploffing beleef as die veld in helder kleure uitbars.  

3. Richtersveld-roete 

Die Richtersveld is Suid-Afrika se enigste bergwoestyn en die ruwwe grondpad loop na dorpies soos Eksteensfontein, Sendelingsdrift, Lekkersing, Kuboes en Sanddrift. Die hele Richtersveld is ’n bergfietsryer se droom, terwyl die Oranjerivier geleenthede bied vir kanovaart en die beste kunsvlieghengel in die natuur in Suid-Afrika.  

’n Hoogtepunt Gesels met ’n tradisionele bokwagter vir ’n kulturele ervaring. Leer oor die swerwersvolke en beleef hul tradisionele danse en storievertelling.  

4. Die Kokerboomroete 

Die roete is genoem na die inheemse boom (wat eintlik ’n reuse-vetplant is). Die Kokerboom-kos-en-wynroete loop langs die Oranjerivier langs en sluit dorpe in soos Upington, Kakamas, Keimoes, Augrabies, Marchand, Kanoneiland, Kenhardt en Riemvasmaak. Die Riemvasmaak-warmwaterbron, riviervaarte, kunsvlieghengel, kajakke, 4x4- en staproetes en voëlkykgeleenthede is ’n paar dinge om na uit te sien. Dis ook die oudste wynproduserende gebied in die Suidelike Halfrond, wat baie wynproe-geleentheid bied. 

’n Hoogtepunt ’n Besoek aan die Augrabies- Nasionale Park is ’n moet. Hier sal jy die grootste waterval in Suid-Afrika aantref (en vermoedelik die sesde grootste ter wêreld).  

5. Die Kalahari-rooiduinroete 

As jy die Noord-Kaap op sy beste wil beleef, besoek die hart van die provinsie, die Kalahari. Die streek strek vanaf Upington tot by die Namibiese grens. Goue en koperkleurige duine, ooptes met blou lug en doringbome is eie aan die gebied. Besoek dorpies soos Askham, Groot en Klein Mier en Rietfontein. Wat van duinstaptogte teen sonsopkoms, ontmoetings met die gevlekte ooruil of meerkatte, en duinry is enkele dinge wat jy hier op jou ervaringslys kan aftik. Verken Suid-Afrika se nuutste wêrelderfenisterrein, die Khomani San- kulturele landskap, en gaan op ’n begeleide staptog saam met die San Khomani om meer oor hul gebruike en tradisies te leer. 

’n Hoogtepunt Die Kgalagadi-oorgrenspark is die grootste bewaringsgebied in Afrika, en een van twee donkerlugreservate (perfek vir sterrekyk en nagfotografie) in Afrika. 

6. Go Ghaap-roete: 

Hierdie nuwe erfenisroete bied ’n groot verskeidenheid vir die kultuurliefhebber: bekende argeologiese terreine, historiese dorpe, ongelooflike argitektuur en verskeie natuur- en wildreservate. Ontdek meer oor die omgewing se geskiedenis (wat drie miljard jaar gelede begin), of volg in die voetspore van die vroeë ontdekkers en sendelinge, soos David Livingstone, Henry Stanley en Robert Moffat. Besoek belangrike terreine van die Anglo-Boereoorlog, snuffel in die Wonderwerk-grotte tussen Kuruman en Danielskuil, en leer meer oor die Khoisan-geskiedenis in die Wildebeestkuil naby Barkly-Wes. 

Hoogtepunte Besoek die oog van Kuruman, ’n natuurlike waterbron, Hotel Kgalagadi se versameling antieke motors, en Ko Kasi naby Mothibistad vir ’n eietydse township-ervaring. 

7. Karoo-oase-roete 

Dié reis neem jou al langs die N12 deur plekke soos Warrenton, Kimberley, Hopetown, Britstown en Victoria-Wes. Leer oor die streek se myngeskiedenis in Kimberley en kies dan koers na een van die talle reservate vir kunsvlieghengel, kajakroei, bergfietsry, veldloop, wildsafari’s en voëlkyk. Maak ’n draai by die McGregor- en Magersfontein-museums op Hopetown as jy in oorlogsgeskiedenis belangstel. Ontmoet langs die pad van die kunstenaars wat hul kuns op die roete verkoop.  

’n Hoogtepunt Die Karoo-Gariep-natuurreservaat. Dis die grootste Karoo-natuurreservaat in privaat besit en naby Hanover.  

8. Karoo-Hoogland-roete 

Nieuwoudtville, Calvinia, Williston, Sutherland, Fraserburg, Carnarvon, Loxton en Victoria-Wes – as jy die Karoo wil beleef, is hierdie roete net vir jou. Jy gaan verskeie van die beste Karoo-dorpies besoek. Die Karoo is bekend vir sy stilte, maar daar is tog baie dinge om hier te sien en te doen. Gaan soek die dinosourusoorblyfsels in Richmond, die SKA-radioteleskoop in Carnarvon, die Karoo-argitektuur en die korbeelhuise, terreine van die Anglo-boere-oorlog, gasteplase en geniet die Karoo-kos en gasvryheid. Jou laaste stop is Nieuwoudtville voordat jy oor die Vanrhynspas na Kaapstad terugkeer.  

’n Hoogtepunt Sutherland is bekend vir sy wit sneeuval in die winter en sy dramatiese landskappe. Hierdie dorp is net vier uur se ry vanaf Kaapstad en die tuiste van die Suid-Afrikaanse Groot Teleskoop (Salt), wat dit ’n uitstekende sterrekykplek maak.